NTA se uitvoerende hoof, Eric Nenghwanya. FOTO NTA
NTA se uitvoerende hoof, Eric Nenghwanya. FOTO NTA

NTA kry miljoene vir kos

Geen openbare tenderproses
Plaaslike besighede het vroeër kommer uitgespreek oor die toenemende toekenning van groot regeringsprojekte en -dienste aan staatsbeheerde ondernemings, eerder as om dit vir mededinging in die private sektor oop te stel.
Sonja Smith

Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het sonder om ’n openbare tender uit te reik, ’n kontrak van ses maande ter waarde van N$540 miljoen aan die Namibië Opleidingsowerheid (NTA) toegeken om voedsel aan regeringskoshuise te verskaf en af ​​te lewer. 

Die ministerie het jare se regsgedinge en kommer oor voedselsekerheid vir koshuisleerlinge as motivering gebruik.

Die uitvoerende direkteur, Erastus Haitengela, het aan Republikein bevestig die ministerie het die minister van finansies, Ericah Shafudah, genader vir goedkeuring om interne verkrygingsdrempels te oorskry en die kontrak direk aan ’n openbare entiteit toe te ken.

Haitengela sê ses openbare entiteite was by die verkrygingsproses betrokke waaruit die NTA as suksesvolle bieër aangewys is. 

Volgens hom is die besluit gedryf deur pogings om ’n meer finansieel volhoubare verkrygingsreëling te vind, terwyl die litigasierisiko’s verbonde aan die verkryging van voedselvoorrade vir koshuise beperk word.

“Die behoefte spruit voort uit die geskiedenis van langdurige en gereelde regsgedinge wat tot vandag toe voortduur,” het Haitengela gesê. 

“Die voortgesette hofsake het ’n beduidende las op die ministerie geplaas en voedselsekerheid vir ons koshuisinwoners in die gedrang gebring. Teen hierdie agtergrond het die ministerie die behoefte gesien om uitgesoekte openbare entiteite ingevolge Artikel 34(c) van die openbare verkrygingswet te betrek,” het Haitengela gesê.

Die huidige reëling sal volgens hom na verwagting meer as N$90 miljoen per maand en sowat N$540 miljoen oor ses maande kos.

“Die kontrak is as ’n tussentydse maatreël vir ’n tydperk van ses maande, terwyl daar gewag word op die finalisering van die hofsaak in die hooggeregshof vir ’n oop nasionale tenderproses vir drie jaar,” het Haitengela gesê.

Die reëling dek 239 staatskoshuise, wat 77 281 leerlinge landswyd huisves.


DRINGENDE MAATREëLS

Die regering het toenemend beweeg na die gebruik van openbare entiteite vir verkryging.

President Netumbo Nandi-Ndaitwah het in Maart in ’n onderhoud met Republikein gewaarsku opgeblase pryse wat deur tussengangers gehef word, ondermyn staatsbesteding en vertraag kritieke nasionale projekte.

“Ons is nie teen middelmanne gekant nie,” het die president gesê.

“Maar hulle moet realisties wees.”

Republikein het verlede maand berig oor plaaslike besighede wat kommer uitgespreek het oor die toenemende toekenning van groot regeringsprojekte en -dienste aan staatsbeheerde ondernemings, in plaas daarvan om dit vir mededinging in die private sektor oop te stel.

Die besighede het aangevoer die omseiling van oop tenderprosesse vir kontrakte van hierdie omvang kan mededinging kniehalter, geleenthede vir plaaslike besighede beperk en dit moeiliker kan maak om te bepaal of die regering waarde vir geld ontvang.

Die Wet op Openbare Verkryging van 2015 bepaal dat mededingende verkrygingsprosesse ontwerp is om deursigtigheid te bevorder, prysmededinging aan te moedig en opvattings van begunstiging in die toekenning van openbare kontrakte te verminder.


PLAASLIKE HULPBRONNE

In reaksie op die vraag hoe ’n opleidingsowerheid verskaffingsdienste vir kos sou kon lewer, het die NTA se uitvoerende hoof, Erick Nenghwanya, gesê die instelling sal sterk op plaaslike produsente en verskaffers staatmaak.

Volgens hom sal plaaslike produkte soos groente, mielies en vleis self verkry word, terwyl net items soos konfyt en suiker uitgekontrakteer sal word. 

Nenghwanya sê die NTA het reeds begin om voedselvoorrade ingevolge die reëling te lewer.

“Ons het op 1 Julie 2026 begin om die kos te verskaf en almal is tevrede, ons vaar goed,” het hy gesê.

Die uitvoerende direkteur van die eenheid vir aankopebeleid (PPU), Phineas Nsundano, het bevestig die ministerie van finansies het tegniese raad van sy kantoor ingewin, nadat die versoek van die ministerie van onderwys ontvang is. 

“Die brief waarin dit versoek word, is nie aan ons as PPU gerig nie, maar direk aan die minister van finansies,” het Nsundano gesê.

“Sy het ons raadgewende span om raad gevra oor wat om te doen. Ons het die raad reeds aan haar voorgelê.”

Hy het beklemtoon dat verkrygingsbesluite uiteindelik die verantwoordelikheid van die verkrygingsentiteit bly.

“Watter besluit die ministerie van onderwys ook al gaan neem, berus totaal by hulle,” het Nsundano gesê.

Artikel 27 van die openbare verkrygingswet beheer die keuse van verkrygingsmetodes wat vir staatsentiteite beskikbaar is.

“Die artikel praat van keuses van verkrygingsmetodes. Ons tipiese reaksie op hierdie tipe verkryging is dat hulle ’n metode moet volg wat aan die wet voldoen,” het hy gesê.

Nsundano het bygevoeg dat die PPU dit vermy om openbare entiteite opdrag te gee om spesifieke verkrygingsmetodes te volg, ten einde te verhoed dat die eenheid verantwoordelikheid vir verkrygingsbesluite aanvaar.

“Ons kan nie sê hulle moet dit of dat gebruik nie. As iets sou verkeerd loop, is ons verantwoordelik,” het hy gesê. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer