N$815 miljoen van GIPF op die spel
Die minister van finansies, Ericah Shafudah, het gewaarsku die regering se pensioenfonds (GIPF) kan N$815 miljoen verloor indien die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) sy belastingeis teen ’n belegging wat met die Namibiese pensioenfonds verband hou, wen
Die geskil dien steeds voor die Suid-Afrikaanse howe en geen finale uitspraak is nog gelewer nie.
“Indien SARS se eis sou slaag, kan GIPF die N$815 miljoen wat belê is, verloor,” het Shafudah verlede jaar aan die parlement gesê en gewys op die risiko wat oor die werkers se aftreespaargeld hang.
Die moontlike verlies het vrae oor die veiligheid van pensioenarisse se geld en aanspreeklikheid vir beleggingsbesluite weer laat opvlam, met die voormalige minister van finansies, Calle Schlettwein, wat verlede jaar geëis het: “Sê vir ons waar die geld is.”
Hy het dit as “afgryslik” beskryf en aangevoer dat, ongeag of dit om waardevermindering of ’n direkte verlies gegaan het, pensioenarisse antwoorde verdien oor wat gebeur het en wie aanspreeklik gehou behoort te word.
GIPF se uitvoerende hoof, Martin Inkumbi, het gesê die voorsiening van N$815 miljoen vorm deel van die totale voorsiening vir waardevermindering van N$922,2 miljoen wat vir die jaar in die fonds se beleggingsportefeulje aangeteken is.
Teen die einde van verlede jaar het GIPF gesê sy waardevermindering van N$815 miljoen – wat verband hou met Signal Structured Finance Fund (SSFF) – nie sy finansiële stabiliteit sou bedreig nie.
Die waardevermindering het ontstaan uit ’n belastingeis van SARS teen SSFF, wat deur TriAlpha Investments bestuur word.
Inkumbi het destyds gesê die bedrag is onder die fonds se wesenlikheidsdrempel van N$1,78 miljard wat deur eksterne ouditeure vasgestel is en verteenwoordig 0,4% van die totale bates.
Ten spyte van die waardevermindering het Inkumbi gesê die fonds het in 2024 netto beleggingsopbrengste van N$18 miljard aangeteken.
ONDERSOEKE
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het ook gevra vir ondersoeke na pensioenfondsgeld wat na bewering verdwyn het, asook verliese by die Bank of Namibia en gesê dat die situasie “na korrupsie ruik”.
Tydens die vrae-en-antwoord-sessie in die parlement ná haar Staatsrede (Sona) in April vanjaar, het Nandi-Ndaitwah gesê die beweringe rondom GIPF en die sentrale bank moet ondersoek word.
Sy het herhaal dat korrupsie met hoogverraad gelykgestel moet word, omdat dit Namibië se ontwikkeling ondermyn en vrede en stabiliteit bedreig.
“Die stryd teen korrupsie is nie net die regering s’n nie, maar ’n gesamentlike verantwoordelikheid vir alle Namibiërs. Kom ons vat hande in die stryd teen hierdie maatskaplike euwel,” het sy gesê.
Die waarskuwing kom te midde van toenemende ondersoeke na GIPF se beleggingsverliese, met die betwiste bedrag wat deel vorm van N$922,2 miljoen aan voorsienings vir waardevermindering wat in die fonds se beleggingsportefeulje aangeteken is vir die boekjaar wat op 31 Maart 2025 geëindig het.
Shafudah het gesê die waardevermindering het hoofsaaklik ontstaan uit ’n belastingeis van SARS teen ’n maatskappy waarin SSFF GIPF-fondse belê het.
Die minister het gesê die waardevermindering kan hersien word.
“Indien die omstandighede van die SSFF-belegging sou verbeter en groter sekerheid oor die uitkoms van die SARS-eis sou ontstaan, sal GIPF die voorsiening hersien en die nodige aanpassing maak, wat die omkeer van die waardevermindering kan insluit,” het sy gesê.
Shafudah het ook beklemtoon dat ’n voorsiening vir waardevermindering nie outomaties as ’n werklike finansiële verlies geïnterpreteer moet word nie.
“’n Waardevermindering is ’n voorsiening vir die moontlike nieverhaling van ’n belegging. Dit beteken nie dat ’n werklike finansiële verlies gerealiseer is nie,” het sy gesê.
SPAARGELD VEILIG
In ’n poging om staatsamptenare en pensioenarisse gerus te stel, het Shafudah gesê GIPF het steeds opbrengste gegenereer, ten spyte van die voorsienings vir waardevermindering.
“Ek wil ons staatsamptenare en pensioenarisse verseker dat hul aftreespaargeld veilig bly,” het sy aan die parlement gesê.
“Ten spyte van die voorsorg-waardeverminderings wat ek beskryf het, bly GIPF – danksy sy robuuste beleggingstrategie – stewige opbrengste genereer tot voordeel van sy lede.”
Volgens die minister het die fonds netto beleggingsopbrengste op sy algehele portefeulje van onderskeidelik N$18 miljard en N$16,7 miljard vir die finansiële verslagdoeningstydperke van 2024 en 2025 verdien.
Sy het verder gesê die fonds se totale bates het teen Desember 2025 tot N$204 miljard gegroei, met ’n befondsingsvlak van 119,69% – bo die vereiste drempel.
“Eenvoudig gestel: Vir elke dollar wat die fonds aan sy lede skuld, hou dit bates ter waarde van bykans N$1,20,” het sy gesê.
Shafudah het volgehou die waardevermindering sou nie die fonds se vermoë om sy verpligtinge teenoor lede en pensioenarisse na te kom, ondermyn nie.
Sy het ook voorstelle verwerp dat die saak stil-stil sou verdwyn en gesê die waardevermindering in die fonds se jaarlikse finansiële verslagdoening is bekend gemaak.
Die minister het gesê GIPF se geïntegreerde jaarverslae is openbare dokumente wat jaarliks aan die parlement voorgelê en op die fonds se webwerf gepubliseer word.
WIE IS AANSPREEKLIK?
’n Kwessie wat in die parlement geopper is, was die vlak van staatstoesig oor GIPF en wie verantwoordelik gehou moet word vir beleggingsbesluite wat pensioenarisse se geld aan beduidende risiko’s blootstel.
Shafudah het gesê die fonds funksioneer nie onder die ministerie van finansies nie.
Sy het verduidelik die fonds staan onder toesig van die toesighoudende owerheid vir finansiële instellings (Namfisa), ingevolge die Namfisa-wet van 2001 en die Wet op Pensioenfondse van 1956.
Namfisa voer roetine-inspeksies uit om die fonds se risikobestuurspraktyke en die nakoming van regulatoriese vereistes te beoordeel.
GIPF word bestuur deur ’n raad van trustees wat deur die regering en twee werknemersvakbonde naamlik die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) en Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) aangestel word.
Volgens Shafudah is die raad verantwoordelik daarvoor om doeltreffende toesig en die gesonde bestuur van die fonds te verseker.
“In die uitvoering van sy fidusiêre verantwoordelikhede rig die raad die fonds se strategie, monitor hy sy prestasie en handhaaf hy sy mandaat,” het sy gesê.
Die daaglikse bedrywighede word aan ’n gekwalifiseerde uitvoerende bestuurspan onder leiding van die uitvoerende hoof gedelegeer.
Shafudah het bygevoeg dat beleggingsbesluite geneem word deur professionele fondsbestuurders wat deur die raad aangestel is op grond van die raad van onafhanklike beleggingskundiges.
“Verantwoordbaarheid vir beleggingsbesluite berus dus by die raad van trustees,” het sy gesê.
Die minister het gesê internasionale beleggings is onderworpe aan ’n veelvlakkige raamwerk vir bestuur, ouditering en monitering, waarvolgens beleggingsprestasie, die blootstelling aan risiko en nakomingsmaatstawwe kwartaalliks hersien word.
Sy het bygevoeg die fonds se waardasiebeleid vereis dat alle beleggings jaarliks deur ’n onafhanklike waardeerder gewaardeer word, met voorsienings vir waardevermindering wat bepaal word in ooreenstemming met die Internasionale Finansiële Verslagdoeningstandaard 9.
Die fonds se onafhanklike eksterne ouditeure voer jaarlikse oudits van sy finansiële state uit, terwyl oudits ook uitgevoer word by maatskappye waarin belê is, hetsy plaaslik, streekgewys of in die buiteland.
In reaksie op versoeke om ’n gedetailleerde uiteensetting van die prestasie van internasionale beleggings oor die afgelope drie boekjare, het Shafudah gesê die finansministerie sou ’n gekonsolideerde verslag van GIPF aanvra en dit aan die parlementslid wat die vraag gestel het, sou verskaf sodra dit ontvang is.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie