MVA: 229 padsterftes oor ses maande
Die Motorvoertuigongelukke (MVA)-fonds eis ’n dringende verandering in padgebruikers se gedrag nadat 229 mense hul lewens in padongelukke oraloor Namibië gedurende die eerste ses maande van 2026 verloor het.
Hoewel die jongste statistiek ’n verbetering teenoor dieselfde tydperk verlede jaar aandui, het die fonds gewaarsku dat die lewensverliese weens padongelukke onaanvaarbaar hoog bly en steeds verwoestende gevolge vir families en gemeenskappe inhou.
Volgens syfers vir die tydperk van 1 Januarie tot 21 Junie 2026 is altesaam 1 333 ongelukke landswyd aangeteken, wat 2 273 beserings en 229 sterftes tot gevolg gehad het.
In vergelyking met die ooreenstemmende tydperk in 2025 het ongelukke van 1 500 met 11% gedaal, beserings het van 2 486 met 9% afgeneem en sterftes het van 243 met 6% gedaal.
Ten spyte van die dalende tendens het die fonds gemaan die syfers bly ’n rede tot ernstige kommer.
“Soos ons die halfpadmerk van die jaar bereik, toon die statistiek dat vooruitgang moontlik is, maar dit herinner ons ook daaraan dat veels te veel lewensverliese steeds op ons paaie plaasvind,” het die MVA-fonds se hoof van korporatiewe sake, John Haufiku, gesê.
“Elke ongeluk wat voorkom word, spaar ’n familie van tragedie. Elke lewe wat gered word, is ’n oorwinning vir Namibië.
“Padveiligheid is nie uitsluitlik die verantwoordelikheid van wetstoepassers of padveiligheidsinstellings nie; dit is ’n gedeelde verantwoordelikheid wat ’n verandering in gedrag by alle padgebruikers vereis.”
Die jongste weeklikse verslag van 15 tot 21 Junie, het 45 ongelukke, 84 beserings en agt sterftes aangeteken.
Alhoewel hierdie syfers gunstig met vorige jare vergelyk, het die fonds gemaan dat die verlies van agt lewens in ’n enkele week die voortdurende gevare op die land se paaie beklemtoon.
37 VOETGANGERS STERF
Veral ontstellend is die voortgesette kwesbaarheid van voetgangers. Tussen Januarie en 21 Junie het Namibië 489 ongelukke aangeteken waar voetgangers betrokke was wat 203 beserings en 37 sterftes tot gevolg gehad het.
Die fonds het gesê die syfers beklemtoon die beduidende risiko’s waarmee voetgangers te kampe het, aangesien hulle steeds onder die mees blootgestelde padgebruikers tel.
Kommer heers oor jong volwassenes wat ’n buitengewone groot deel van ongelukslagoffers is. Gedurende die week het persone tussen 25 en 29 jaar beide die hoogste aantal sterftes én beserings aangeteken.
Streekgewys het Khomas die land se ongeluksbrandpunt gebly, met 493 ongelukke tot dusver vanjaar. Dit is gevolg deur Erongo met 171 en Otjozondjupa met 130 ongelukke. Hoewel sommige streke tekens van verbetering getoon het, het die fonds beklemtoon dat padveiligheid ’n nasionale uitdaging bly wat ’n gesamentlike reaksie vereis. Om die probleem te takel, het die MVA-fonds bewusmakingsveldtogte oor padveiligheid oraloor die land verskerp deur gemeenskapsuitreikprogramme, betrokkenheid van skole, vennootskappe met belanghebbendes en openbare onderriginisiatiewe.
Die veldtogte fokus daarop om die nakoming van spoedbeperkings, die gebruik van veiligheidsgordels, voetgangerveiligheid, nugter bestuur, voertuigpadwaardigheid en die bewusmaking van die gevare wat met afleiding gepaardgaan, te bevorder.
“Die statistiek toon dat vooruitgang moontlik is, maar dit herinner ons ook daaraan dat veels te veel lewensverliese steeds op ons paaie gely word,” het Haufiku gesê.
Met die eerste helfte van die jaar wat tot ’n einde kom, het die fonds motoriste, fietsryers, motorfietsryers en voetgangers ewe veel aangemoedig om hulself weer tot veiliger padgebruik te verbind.
“Die fonds glo dat blywende verbeterings in padveiligheid slegs bereik kan word wanneer elke padgebruiker erken dat hul besluite agter die stuur, op ’n motorfiets of ’n fiets, of as voetganger gevolge het wat verder as hulself strek,” het Haufiku gesê.
Hy het bygevoeg dat verantwoordelike besluite deur alle padgebruikers noodsaaklik is as Namibië ongelukke, beserings en sterftes wil verminder en verseker dat meer mense veilig by hul bestemmings aankom.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie