Min beddens in GBV-skuilings
Namibië se staatsbeheerde skuilings vir oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld (GBV) en mensehandel is onder hewige finansiële en kapasiteitsdruk, met beperkte ruimte vir slagoffers.
Slegs ’n handjievol oorlewendes kan op enige gegewe tydstip in die veilige huise gehuisves word, het die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn erken. Die ministerie se jaarlikse begroting van N$1 miljoen dek slegs kos en basiese noodsaaklikhede.
“Wanneer dit met jaarlikse aanmeldingsyfers van GBV vergelyk word, kan net ’n klein deel van oorlewendes op enige gegewe tydstip in die veilige huise geakkommodeer word,” het Cecilia Iyambo, die ministerie se senior woordvoerder, vandeesweek op skriftelike navrae van Network Media Hub (NMH) gereageer wat sowat ’n maand gelede gestuur is.
“Dit beklemtoon dat veilige huise hoofsaaklik as nood-, korttermyn-beskermingsruimtes ontwerp is, eerder as ’n stelselwye akkommodasie-oplossing vir alle aangemelde gevalle,” het sy bygevoeg.
Die woordvoerder het erken dat “gegewe die omvang en ingewikkelheid van geslagsgebaseerde geweld in Namibië, die huidige skuilingstelsel nog nie ten volle voldoende is om aan die vraag oraloor die land te voldoen nie”.
10 SKUILINGS
Daar is tans agt staatsbeheerde skuilings landswyd en twee geriewe in private besit wat deur die regering gesubsidieer word, het die ministerie bevestig.
Die staatsbeheerde skuilings is in die streke van Zambezi, Kavango-Oos, Kunene, Omusati, Ohangwena, Khomas, Hardap en ǁKharas, saam met private geriewe in Khomas en Oshikoto.
Iyambo het aangedui “weens die verskillende uitleg en ontwerpe van die skuilinghuise, is die kapasiteit vir 20 babas en 80 kliënte van geslagsgebaseerde geweld, geweld teen kinders en mensehandel”.
Sy sê skuilingskapasiteit word oor die algemeen in terme van beskikbare beddens per skuiling gemeet.
“Dus funksioneer die stelsel onder aansienlike druk en in sommige gevalle bereik skuilings volle kapasiteit, wat prioritisering op grond van risikovlakke en dringendheid van behoefte vereis,” het Iyambo bygevoeg.
Sy het gesê die ministerie subsidieer die twee skuilings wat privaat bestuur word teen ’n gesamentlike maandelikse koste van N$46 793.71, altesaam sowat N$561 516 per jaar, wat N$438 484 vir die ander agt skuilings laat.
“Dit sluit nie die instandhouding en die ontwikkelingsbegroting vir skuilings in nie,” het Iyambo gesê.
Minister Emma Kantema het tydens haar begrotingsmotivering aan die parlement gesê dat die skuilings 254 oorlewendes gedurende die 2025-’26-boekjaar geakkommodeer het.
TOEGANG BEHEER
Toegang tot skuilings word streng beheer, het Iyambo aan NMH gesê.
Oorlewendes moet deur maatskaplike werkers via beskermingseenhede vir GBV voor toelating beoordeel word, terwyl oorlewendes wat bloot net instap, nie toegelaat word nie.
Die ministerie het geen stelsel om te bepaal hoeveel slagoffers weggewys word nie.
“Daar is tans geen gekonsolideerde nasionale stelsel wat konsekwent die slagoffers bepaal wat binne ’n gegewe tydperk weggewys is nie,” het Iyambo gesê.
“In baie gevalle word alternatiewe plasings informeel gereël, wat nie altyd in die amptelike statistiek weerspieël word nie,” het sy bygevoeg.
Personeeltekorte en beperkings van infrastruktuur vererger die befondsingsdruk en dwing skuilings soms om innamekapasiteit te verminder of oorlewendes na alternatiewe geriewe te herlei, het Iyambo gesê.
“In sekere gevalle het hierdie beperkings gelei tot tydelike aanpassings aan diensleweringsvlakke, soos verminderde innamekapasiteit, of die staatmaak op verwysingsreëlings na alternatiewe geriewe."
GEEN SIELKUNDIGE
Elke skuiling het net een maatskaplike werker en geen permanente sielkundige nie.
Oorlewendes wat gespesialiseerde ondersteunings vir geestesgesondheid benodig, word na die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste verwys.
Hoewel die skuilings volledig deur die regering befonds word, bied vennote soos die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds (UNFPA) bykomende ondersteuning, insluitend waardigheidspakkies en inisiatiewe vir kapasiteitsbou.
Statistiek van die Namibiese polisie (Nampol) toon dat meer as 4 400 GBV-voorvalle, insluitend 1 345 verkragtings in net 10 maande tussen April 2024 en Februarie 2025 aangemeld is.
Die uitvoerende direkteur van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, Lydia Indombo, het destyds gesê hierdie syfers “verteenwoordig mense wat ons ken – ons bure, ons gemeenskapslede en onskuldige mense”.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie