Kreef, skares en ’n feestelike atmosfeer

Lüderitz skud sy vere reg vir ’n skouspel
Van seekos- en strandpartytjies tot lewendige musiek en sportbedrywighede, die 19de Lüderitz-kreeffees belowe ’n volgepakte program wat die dorp se kultuur en energie vier.
Otis Daniels

Die Lüderitz-kreeffees, wat vanjaar vir die 19de jaar gehou word, het een van Namibië se mees gesogte kulturele en toerismegeleenthede geword en lok jaarliks besoekers van oraloor die land en die buiteland.

Die fees wat van 28 April tot 3 Mei plaasvind, sal weer eens nie net die seekos waarvoor dié suidelike hawedorp bekend is, ten toon stel nie, maar ook die kreatiwiteit van entrepreneurs, kunstenaars, vissers en die gasvryheidsektor.

“Vanjaar se fees word onder die tema ‘Crayfish & Currents: Where Heritage Meets Innovation’ aangebied, wat die ontwikkelende identiteit van ons hawedorp weerspieël.

“Die verhoog is gereed, en met die finansiële steun van verskeie borge, is die gemeenskap gereed om besoekers te vermaak soos net die inwoners van Lüderitz kan,” het die voorsitter van die bestuurskomitee van die Lüderitz-kreeffeestrust, Victoria de Klerk, gesê.

Die program skop af met die Mej. Lüderitz Kreeffees 2026-skoonheidskompetisie by die Duitse Saal, wat vandag om 17:00 plaasvind.

“Die skoonheidskompetisie verteenwoordig meer as net ’n kompetisie. Dis ’n tentoonstelling van selfvertroue, grasie en die gees van Lüderitz, wat skoonheid, talent en die ryk kulturele erfenis van die kusgemeenskap vier,” het De Klerk gesê.

Twaalf deelnemers sal om die titel meeding, wat deur die heersende Mej. Lüderitz Kreeffees 2025, Faizah Bwalya, oorhandig sal word. Die plaaslike musikant Yeezir sal vermaak gedurende die aand verskaf.

Die feesprogram gaan voort met strandpartytjies by Aeroplane Bay, met DJ’s soos Erro, Samora, Chulo, Stizzo, Jule, Kustah, Klapz, Espino en Grabu wat die feesgangers gaan vermaak.


MUSIEK

Musiek bly ’n hoogtepunt van die program. Die fees se hoofmusiekfees, wat op 2 Mei by Lüderitz se sportstadion plaasvind, bied ’n mengsel van Namibiese en Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Die program sluit die kwaito-kunstenaar Gazza, Sam Deep (Suid-Afrika), King Biko, Uncle Talam, DJ Keanue, DJ Morgan, Shax Champion, TBozz, Staika, DJ Firozza, Mapiiano en VV Gang in.

“Jy kan sielvolle ritmes, diep basklanke en ’n atmosfeer verwag wat deur topkunstenaars geskep word. Kom sluit net aan by die jam,” het De Klerk gesê.


SPORT

Sportgeleenthede vorm ook deel van die program. Dit sluit ’n bergfietswedren oor 25 km en 50 km in, wat op 2 Mei om 07:00 by Aeroplane Beach begin, asook ’n 10 km-draf om 07:25 en ’n 5 km-pretstap om 07:30.

’n Motorsport-“spinning”-geleentheid sal na verwagting ook groot skares lok.

Met ’n uiteenlopende program wat kos, vermaak en sport saamvoeg, sê organiseerders die fees speel steeds ’n belangrike rol in die bevordering van toerisme en plaaslike ekonomiese bedrywighede op Lüderitz.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer