Jong skouers, swaar laste
Hoog in die klipperige bergrante van Petrusfontein in die Kunenestreek is dit steeds vir baie kinders ’n daaglikse taak om water te gaan haal.
Kinders in die gebied help hul ouers om water te gaan haal en stap tussen drie en vier kilometer ver op soek na ’n betroubare waterbron.
As hulle gelukkig is, kry hulle ’n saamrygeleentheid vir ’n stuk van die pad.
Gewoonlik word die tog te voet aangepak met swaar waterhouers wat onder die fel son op hul skouertjies gebalanseer word.
In die reënseisoen word die taak nog moeiliker. Voetpaadjies word weggespoel en droë rivierlope vul skielik met vloedwater, wat toegang afsny.
Sommige gesinne word gedwing om te wag totdat die vloedwater sak voor hulle water kan gaan haal .
Onder dié wat geraak word, is drie kinders wat gereeld hul enkelma help om water vir die gesin te gaan haal.
Soos baie ander by Petrusfontein weerspieël hul roetine die daaglikse stryd van ’n gemeenskap wat lank sonder basiese dienste leef.
WATER NIE ’N VOORREG
In die verre Noordweste begin dit egter stadigaan verander.
’n Nuwe boorgat wat met behulp van die Omgewingsbeleggingsfonds (EIF) se waterversagtingprojek geïnstalleer is, het nuwe hoop gebring.
Die boorgat lewer gehalte-water wat geskik is vir menslike gebruik, verminder die afstand wat inwoners moet aflê en verlig die druk op kinders wat voorheen ’n groot deel van die las gedra het.
Rondom die waterinfrastruktuur is ’n klipmuur om skade deur olifante en ander wild in die gebied, te voorkom.
Tydens ’n besoek van Network Media Hub (NMH) Maandag het inwoner Tangeni Iijambo gesê toegang tot water moet hand aan hand saam met ander noodsaaklike dienste gaan.
Hy het gevra vir ’n kleuterskool vir jong kinders, ’n kliniek met verpleegkundiges en beter infrastruktuur.
Iijambo het benadruk dat sanitasie “nie ’n voorreg is nie”. Iijambo het ook voorgestel dat ’n kommunale bewaringsgebied in die omgewing gevestig word om inkomste vir die gemeenskap te genereer.
Hy het bygevoeg dat die wild weer begin terugkeer het sedert water weer beskikbaar is ná die reën.
Altesaam 17 waterversagtingsaanlegte is landswyd ontwikkel onder die EIF-projek van N$40 miljoen wat daarop gemik is om wateronsekerheid aan te spreek.
Romeo Muyunda, woordvoerder van die EIF, het gesê die projek volg op ’n program wat in 2022 van stapel gestuur is om ondergrondse brakwater te suiwer.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie