In die hartjie van die stortingsterrein

Walvisbaaiers se oorlewing
Dit het ’n tuiste vir sowat 1 000 inwoners geword wat onwettig daar plak.
Leandrea Mouers

Die stortingsterrein het ’n groeiende bron van frustrasie vir inwoners van Walvisbaai geword. 

’n Algemene verskynsel is die dik, swart rookwolk wat die lug bo die terrein besoedel. Die bron van die rookwolk is “inwoners” van die stortingsterrein wat buitebande verbrand.

Sedert ’n onlangse besoek deur die munisipaliteit se raadslede en die burgemeester, Johannes Shimbilinga, het die verbranding van buitebande opgehou – vir eers.

By die ingang van die stortingsterrein is die toneel gespanne. Mans met balaklawas hardloop agter vragmotors en bakkies aan soos hulle met vragte vullis aankom.

Elke voertuig bring geleentheid en risiko.

Net verlede jaar het daardie risiko noodlottig geword. ’n Jong man van 25 is dood nadat hy probeer het om op een van die bewegende vragmotors te spring. Hy het onder die wiele beland en is op die toneel dood verklaar.

Verder binne verander die landskap. Verspreide vullis strek oor die gebied met plastiek, papier en ander afvalmateriaal wat in hope rondlê. 


SINKHUISE

Tussen die vullishope is sinkhuise opgerig. Sowat 1 000 mense woon nou hier.

Vir sommige het die lewe by die stortingsterrein roetine geword. Toe sy gevra is hoe sy dit vind om daar te woon, het een inwoner eenvoudig geantwoord: “Okei.”

Die stortingsterrein het vir baie ’n bron van inkomste geword.

Een vrou het verduidelik dat sy vroegoggend aankom om plastiekbottels bymekaar te maak voordat sy teruggaan huis toe na Kuisebmund.

“Ek het al baie keer hierheen gekom om plastiekbottels te versamel om te verkoop en my kinders kos te gee, maar dan kom ek hier aan en daardie goed is reeds gesteel,” het sy gesê.

In ’n goeie maand verdien sy tussen N$1 500 en N$2 000 – geld wat vir huur en kos vir haar kinders gaan.


STORMLOOP

Ander eggo dieselfde realiteit.

“Dit is buite ons beheer. Ons probeer almal iets kry,” het twee inwoners gesê, met verwysing na die gevaarlike stormloop wanneer vragmotors aankom. 

“Gewoonlik stem ons saam dat net sewe by die ingang sal wees, maar wanneer die vragmotor aankom, verander alles.”

Hulle erken hulle weet dit is verbode om op die vragmotors te spring, maar desperaatheid of blote onkunde oorheers dikwels versigtigheid.

“Dis hoekom die meeste mense seerkry wanneer hulle op die vragmotors spring, want daar is te veel.”


BRANDENDE BUITEBANDE

Die kwessie van die brand van buitebande het ook aandag getrek. Inwoners van die stortingsterrein sê hulle is bewus van die probleem en beweer dit het opgehou.

“Ons het ooreengekom dat geen buitebande meer na die skrootwerf geneem sal word nie, want as jy daar gesien word, sal jy beboet word.”

Ten spyte van die gevare sê baie hulle het min keuses.

“Dit is ons inkomste,” het een inwoner verduidelik. 

“My sinkhuis kos N$1 300 per maand. Ek het ’n kind wat skool toe gaan. Aan die einde van die maand moet ek betaal vir die taxi wat die kind skool toe vat, asook skoolgeld.”

Die situasie het nie by die owerhede verbygegaan nie. Die burgemeester en raadslede het die terrein besoek om toestande te beoordeel en met inwoners in gesprek te tree.

Tydens die gesprek het inwoners erken dat hulle weet dat hulle onwettig daar bly, aangesien ’n gedeelte van die grond waarop die terrein geleë is binne die Dorob Nasionale Park val, wat deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme bestuur word.


SJEBEEN

Ten spyte van die harde omstandighede waarin hierdie inwoners leef, is misdaad in die vorm van die verkoop van alkohol en dwelms volop. 

’n Geïmproviseerde struktuur wat ook as ’n sjebeen dien, is opgerig. Polisiebesoeke is ook ’n gereelde verskynsel, aangesien huishoudelike geweld en gevegte algemeen is.

Intussen groei frustrasie onder Walvisbaai-inwoners steeds. ’n Herleefde klagskrif oor kwessies by die stortingsterrein het 4 641 handtekeninge ingesamel.

Een inwoner van Hermes, ’n buurt naby die stortingsterrein, het vertel hoe die rook hul asma vererger het.

“Net oor die afgelope twee maande het ons al deur minstens vier tot vyf asmapompe tussen ons twee gegaan.” 

Hulle het glo ook minstens twee toestelle gebruik wat asemhaling beheer. 

“Normaalweg sou hierdie toestelle sowat drie maande hou en asmapompe ongewveer twee maande. 


“Oor die algemeen is ons asma onder beheer. Boonop het ons aanhoudend sinusmedikasie nodig.” 

Onlangs het hulle begin om Prednisone te gebruik – ’n steroïed wat deur hul dokter voorgeskryf is om teen longontsteking te help – wat hulle nou gereeld nodig het.


OMGEWINGSMINISTERIE

Die omgewingsministerie het sedertdien ’n verklaring oor die stortingsterrein uitgereik en gesê dat hulle kennis geneem het van die voortgesette bekommernisse, veral oor berigte van die verbranding van buitebande, wat skadelike rook produseer en die luggehalte in nabygeleë gemeenskappe beïnvloed.

“Die ministerie bevestig dat dit verskeie medianavrae oor die kwessie ontvang het en aktief besig is om die situasie te takel,” lui die verklaring. 

“Die gerapporteerde verbranding van buitebande by die stortingsterrein is ’n betreurenswaardige voorval wat die ministerie ten sterkste veroordeel.” 

Volgens die ministerie stel dit gevaarlike stowwe vry en veroorsaak lugbesoedeling, wat ernstige gesondheidsrisiko’s vir mense en diere inhou, terwyl dit die luggehalte aansienlik benadeel. 

“Die verbranding van buitebande in of naby dorpe is ingevolge omgewingsregulasies verbode,” lui die waarskuwing.

Die ministerie het bygevoeg dat hulle ook bekommerd is oor individue wat hulle naby die stortingsterrein vestig.

“Om naby stortingsterreine te woon, word sterk ontmoedig, aangesien blootstelling aan rook, reuke en ander besoedelingstowwe wat skadelike gevolge op mense se gesondheid kan hê.” 

Die ministerie doen ’n beroep op gemeenskappe om dit te vermy om in sulke gebiede te vestig.

Aangesien die terrein buite die jurisdiksie van die Walvisbaaise munisipaliteit val, het dit nie die bevoegdheid om individue wat in die gebied woon, uit te sit nie.

“Daarbenewens is ’n gedeelte van die stortingsterrein binne die Dorob Nasionale Park geleë, wat onder die ministerie se mandaat val,” lui die verklaring. 

Volgens die ministerie is ’n bevel reeds uitgereik om die storting van vullis by die terrein te staak en is nou besig om met relevante belanghebbendes in gesprek te tree oor ’n proses om die gedeelte van die stortingsterrein wat binne die Dorob Nasionale Park val, te deproklameer. 

“Dit sal toelaat dat volle administratiewe beheer oor die hele stortingsterrein na die Walvisbaaise munisipaliteit oorgedra word, wat dit in staat sal stel om die geriewe te bestuur in ooreenstemming met die Omgewingsbestuurswet van 2007.”

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer