ACC ondersoek ‘omkopery’ by diamantmaatskappye
Sonja Smith en Nikanor Nangolo
Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) het ’n ondersoek van stapel gestuur na bewerings van omkopery en onbehoorlike transaksies waarby werknemers van die Namibia Diamond Trading Company (NDTC) en die ministerie van myne, energie en nywerheidsontwikkeling betrokke is.
“Ek kan bevestig die Teenkorrupsiekommissie het inderdaad die bewerings rakende die NDTC ontvang. Die ondersoek is aan die gang,” het die woordvoerder van ACC, Hosea Idipo, vandeesweek aan Republikein gesê.
“Gegewe die vertroulike aard van die ondersoeke, kan ons egter nie verdere besonderhede bekend maak nie, insluitend of spesifieke individue ondervra is en die vordering wat tot dusver gemaak is,” het hy bygevoeg.
Die woordvoerder van NDTC, Helena Mootseng, het Dinsdag aan Republikein gesê dat die verskaffingsooreenkoms met Brilliant Star beëindig is en dat sy aanstelling as ’n toesighouer ná ’n afsonderlike ondersoek beëindig is.
Mootseng het ook bevestig dat daar optrede geneem word teen amptenare van die NDTC- en myneministerie rakende omkopery en wangedrag.
“Ons neem sulke sake uiters ernstig op en kan bevestig NDTC het ’n onafhanklike ondersoek onder toesig van die raad se ouditkomitee geïnisieer.
“Die NDTC-raad het ’n versoek van sy uitvoerende hoof, Brent Eiseb, aanvaar om tydens die ondersoek vrywillig verlof te neem om die onafhanklikheid daarvan te verseker,” het Mootseng gesê.
Die ondersoek volg op ’n verwysing deur die myneminister, Modestus Amutse, wat op 30 Oktober bewerings en verwante materiaal aan die ACC se direkteur-generaal, Bryan Eiseb, voorgelê het.
In ’n verklaring verlede week het Amutse gesê die ministerie het bewerings via fluitjieblaser-kanale ontvang oor die optrede van ’n amptenaar in sy direktoraat vir diamantsake en sekere NDTC-werknemers.
Die bewerings behels transaksies met die diamantmaatskappy in privaat besit, Brilliant Star Diamonds Namibia.
Amutse het gesê die verwysing was bedoel om te verseker die bewerings word onafhanklik ondersoek en die feite vasgestel.
“Die ministerie sal ten volle met die kommissie saamwerk en sal nie kommentaar oor die meriete van die bewerings lewer terwyl die ondersoek aan die gang is nie,” het Amutse gesê.
Die minister het ook die waarnemende uitvoerende direkteur opdrag gegee om ’n afsonderlike interne ondersoek na die beweerde optrede van die ministeriebeampte te begin.
“Die ministerie wil die Namibiese nasie verseker hierdie bewerings word met die erns behandel wat hulle verdien,” het Amutse gesê.
NDTC, DE BEERS
NDTC is ’n gesamentlike onderneming wat in 2007 gestig is met die Namibiese regering en De Beers wat elk ’n aandeel van 50% besit.
Die bewerings wat na die ACC verwys is, handel oor finansiële en ander voordele wat na bewering deur Brilliant Star aan amptenare verskaf is in ruil vir gunstige behandeling in die diamanthandel.
Onder die bewerings is dat twee residensiële eiendomme in Swakopmund, geregistreer in Brilliant Star se naam, deur senior amptenare wat met NDTC en die ministerie se direktoraat vir diamantsake geassosieer word, gebruik is.
Dokumente wat Republikein onder oë gehad het, toon dat een van die eiendomme op 13 Desember 2023 deur sakeman Lionel Matthews aan die maatskappy verkoop is.
Ander bewerings behels die betaling van persoonlike uitgawes, toegang tot maatskappy-bankkaarte, kontantonttrekkings en oorsese reise en vermaak wat na bewering deur Brilliant Star gefinansier is.
Daar is ook bewerings dat ru-diamante voor uitvoer onderwaardeer is, wat moontlik die regering van inkomste ontneem.
Brilliant Star het die bewerings egter ontken en gesê nóg die maatskappy nóg sy filiale het omkoopgeld aan Namibiese amptenare betaal.
“Brilliant Star ontken onvoorwaardelik dat hy of enige van sy filiale omkoopgeld aan enige amptenaar in Namibië betaal het, insluitend by die Namibia Diamond Trading Company,” het die maatskappy aan Rapaport News gesê.
“Die bewerings waarna jy verwys, het in sosialemediaplasings verskyn. Ons is geen bewys getoon om dit te staaf nie en geen aanklag is teen Brilliant Star of enige van sy entiteite in verband met enige omkoperybewerings gebring nie.
“Brilliant Star Diamonds Namibia vervaardig al vir baie jare diamante in Namibië en het tans meer as 100 mense in diens, 71 van hulle Namibiërs, wat ons voortgesette verbintenis tot plaaslike vervaardiging in Namibië weerspieël,” is die maatskappy deur Rapaport aangehaal.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie