Staatspasiënte op Okahandja ly
Inwoners van Okahandja het toenemende frustrasie uitgespreek oor uitdagings met dienslewering by die dorp se staatshospitaal en die Nau-Aib-kliniek.
Hulle verwys na lang wagtye, wanfunksionerende mediese toerusting en kommer oor personeel se doeltreffendheid.
Verskeie inwoners wat met Network Media Hub (NMH) gepraat het, het beskryf hoe hulle reeds om 05:00 by die hospitaal aankom, net om vir etlike ure te wag voordat dokters hulle sien.
Pasiënte beweer dat die vertragings vererger word deur ’n tekort aan toerusting, veral wat die beskikbaarheid van bloeddrukmasjiene betref met pasiënte wat moet wag word terwyl personeel na toerusting soek of dit tussen afdelings moet deel.
“Daar is tye wanneer pasiënte byna die hele dag in die hospitaal deurbring omdat toerusting tussen sale rondgeskuif word,” het bron ’n aan NMH gesê.
Inwoners het gesê die hospitaal se X-straalmasjien is glo al vir maande buite werking, wat pasiënte wat X-strale benodig, dwing om elders alternatiewe te soek of verdere vertragings in diagnose en behandeling te verduur.
Toe die woordvoerder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, Walters Kamaya, vir kommentaar genader is, het hy ’n verduideliking gegee oor die hospitaal se toerustingsituasie.
Hy het gesê Okahandja-staatshospitaal het drie bloeddrukmasjiene wat oor verskillende afdelings toegewys is.
“Die hospitaal het een bloeddrukmasjien vir die sale, een vir isolasie- en een vir buitepasiënte. Ongelukkig is die buitepasiënte-afdeling se masjien in Desember verlede jaar deur ’n gewelddadige pasiënt beskadig,” het Kamaya verduidelik.
Hy het bygevoeg dat die hospitaal tans die isolasiesaal se masjien gebruik om die buitepasiënte-afdeling tydelik te dek.
“Die verkrygingsproses om ’n bloeddrukmasjien te vervang is reeds aan die gang, met tenders wat op 13 Mei 2026 gesluit het.”
X-STRAALMASJIEN
Met betrekking tot die X-straalmasjien het Kamaya bevestig dat die masjien op 16 Maart 2026 gebreek het.
“Die beskadigde onderdeel kan nie herstel word nie en moet heeltemal vervang word. Kwotasies is verkry, een maatskappy is gekies en die verkrygingsproses is tans aan die gang,” Kamaya hy gesê.
Gemeenskapslede het ook kommer uitgespreek oor die optrede van sommige verpleegkundiges by die Nau-Aib-kliniek en beskuldig personeel daarvan dat hulle buitensporig baie tyd op hul selfone tydens werksure deurbring in plaas daarvan om pasiënte te help.
Die bewerings het sommige inwoners aangespoor om die ministerie te versoek om die voorsiening van gratis Wi‑Fi aan personeel te heroorweeg, met die argument dat internettoegang moontlik bydra tot afleiding en stadiger pasiëntsorg.
Ten spyte van die ministerie se versekering, hou inwoners vol dat die voortgesette uitdagings steeds druk plaas op reeds kwesbare pasiënte, veral bejaardes, kinders en dié met chroniese siektes wat sterk op die openbare gesondheidsorgstelsel staatmaak.
Gemeenskapslede dring nou daarop aan dat owerhede pasiëntvloei-stelsels verbeter en verantwoordbaarheid van personeel te versterk om openbare vertroue in gesondheidsorgdienste by die geriewe te herstel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie