Ontwikkeling sloer op Okahandja
Frustrasie kook oor in Okahandja se informele nedersetting Ekunde, met inwoners wat die munisipaliteit daarvan beskuldig dat hulle nie gemeenskappe by kritieke besluite betrek nie.
Dit het die onsekerheid oor grondtoekenning te midde van kansellasies van raadsvergaderings vererger.
Die jongste dispuut het ontstaan toe inwoners ’n klagskrif aan die munisipaliteit oorhandig het waarin hulle beswaar maak teen wat hulle beskryf as ’n onregverdige poging om hulle van die grond te verwyder wat hulle tans beset. Alhoewel die klagskrif aan burgemeester Ilena Mutumbulwa gerig was, is dit op 23 Julie in haar afwesigheid deur raadslid Petrus Gariseb ontvang.
Die klagskrif volg op weke van toenemende spanning tussen inwoners en munisipale leiers op die dorp. Volgens gemeenskapslede sal ’n vergadering met die voorsitter van die bestuurskomitee, Patricia Hawaes, na verwagting kommer oor grond en voortgesette opmetingswerk takel.
Inwoners het gesê Hawaes het ’n uitnodiging aanvaar om die nedersetting te besoek om die toestande ter plaatse te evalueer voordat besprekings plaasgevind het. Die vergadering het egter nie plaasgevind nie, het hulle gesê.
Die gemeenskap beweer dat Hawaes hulle verseker het dat opmetingswerk opgeskort sou word terwyl sy die munisipale dorpsbeplanner sou betrek.
Inwoners beweer verder dat sy onderneem het om ’n vergadering met die gemeenskapsaktivis Sethy Gariseb, die burgemeester, die munisipaliteit se uitvoerende hoof, asook stadsbeplannersm te belê. Volgens inwoners het daardie vergadering ook nooit plaasgevind nie.
Die gebrek aan betrokkenheid het baie inwoners laat wonder of die munisipaliteit werklik daartoe verbind is om die geskil op te los.
IN LIMBO
Verskeie inwoners, wat verkies het om naamloos te bly uit vrees vir viktimisasie, het aan Windhoek Express (WE) gesê hulle is van mening dat Okahandja “agteruitgaan”. Dit nadat daar aanvanklik positiewe tekens van vordering aan die kant van die huidige raad was.
“Ons het gedink dinge beweeg uiteindelik in die regte rigting,” het een inwoner gesê.
“Nou is daar geen gemeenskapsvergaderings nie, raadsvergaderings word aanhoudend gekanselleer en niemand vertel ons wat gebeur nie.”
’n Bron wat vertroud is met munisipale aangeleenthede, het gesê die herhaaldelike uitstel van raadsvergaderings vertraag besluite oor ’n wye reeks kwessies, insluitend grondtoekenning, behuising en dienslewering.
Die kommer weerspieël dié wat in ’n brief deur die Okahandja-raadslid Akser Aupindi geopper is, wat die herhaaldelike opskorting van munisipale raadsvergaderings gekritiseer het.
In die brief het Aupindi opgemerk dat vergaderings wat aanvanklik vir 28 Julie geskeduleer was, na 3 Augustus en toe weer na 5 Augustus uitgestel is, sonder dat enige openbare verduideliking verskaf is.
Vir talle inwoners word die gevolge hiervan al hoe meer sigbaar. Grondgeskille bly onopgelos, infrastruktuurprojekte blyk tot stilstand gekom het en gemeenskappe sê hulle word sonder antwoorde gelaat terwyl administratiewe prosesse sloer.
Pogings deur WE om kommentaar van die raad te bekom, was onsuksesvol. Oproepe aan Mutumbulwa het onbeantwoord gebly, terwyl raadslid Petrus Gariseb nie bereik kon word om te bevestig of die klagskrif aan die betrokke kantoor oorhandig is nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie