Geestesgesondheid: Dienste benodig in al die streke
Lede van die Nasionale Raad (NR) het ’n beroep gedoen dat geestesgesondheidsdienste in elke streek – veral in landelike gebiede – beskikbaar gestel word.
Dit terwyl Namibië ’n nuwe wetsontwerp op geestesgesondheid oorweeg.
Tydens die debat oor die Wetsontwerp op Geestesgesondheid (Wetsontwerp no. 8 van 2025) het lede gesê die voorgestelde wetgewing sal dié dienste nader aan gemeenskappe bring, in plaas daarvan om hoofsaaklik op geriewe in Windhoek en op Oshakati staat te maak.
Parlementslid Andreas Amundjindi het gesê Namibië beskik tans oor slegs twee geriewe wat pasiënte met geestesgesondheidstoestande huisves, naamlik die Windhoek Sentrale Hospitaal en die Oshakati-hospitaal. Daar is na dié geriewe verwys as oorvol, met die Windhoek Sentrale Hospitaal wat pasiënte uit nege streke akkommodeer. Hy het gevra vir bykomende geriewe, veral in Kavango-Oos, om mense van Kavango-Wes, Kavango-Oos en Zambezi te bedien. ’n Fasiliteit is ook vir Hardap voorgestel om inwoners van dié streek en ||Karas te bedien, terwyl dit die koste van die vervoer van pasiënte verminder en vir familielede makliker maak om hulle te besoek.
Parlementslid Vilho Nuunyango het verder gesê dit is vir elke streek belangrik om oor geriewe vir geestesgesondheid te beskik, veral in landelike gebiede, sodat mense toegang tot dienste nader aan die huis kan kry.
Die debat het ook ’n tekort aan spesialiste uitgelig. In Oshakati het lede gesê daar is geen kliniese sielkundige in die psigiatriese afdeling nie, wat kommer wek oor hoe pasiënte toepaslike behandeling kan ontvang sonder die nodige professionele personeel.
“Dit is om menseregte en waardigheid te beskerm en werklike uitdagings te takel,” het Nuunyango gesê.
Lede het die wetsontwerp beskryf as ’n verandering in ’n benadering wat op inperking gefokus is, na een wat op genesing, ondersteuning en herintegrasie geskoei is. Dit terwyl die waardigheid en regte van mense met geestesgesondheidstoestande beskerm word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie