Rommelkrisis by Vierkantklip

Vrou voer jare lange stryd
’n Swakopmundse sake-eienaar sê oorvol dromme, trae vullisverwydering en onwettige storting verander die skilderagtige kusstrook tussen Swakopmund en Walvisbaai in ’n omgewingsgevaar.
Leena Ndakevondjo

’n Swakopmundse eienaar van ’n skoonmaakbesigheid het haar frustrasie uitgespreek oor wat sy as toenemende besoedeling en verwaarloosde afvalbestuur by Vierkantklip tussen Swakopmund en Walvisbaai beskryf.

Ulla Mater, eienaar van Ulla’s Cleaning Services, sê sy rapporteer al jare oorvol vullisdromme, onwettige rommelstorting en rondgestrooide vullis aan die owerhede, maar hul reaksie is traag met min optrede.

Mater, wat haar skoonmaakmaatskappy in Augustus 2010 begin het nadat sy uit die versekeringsbedryf afgelê is, sê haar passie vir netheid en omgewingsorg het haar aangespoor om op te tree nadat sy herhaaldelik, terwyl sy met haar honde gaan stap het, toenemende hoeveelhede rommel in die gebied gesien het.

“In 2021 kon ek net nie meer daarna kyk nie,” het sy gesê. “Ek het my span bymekaar gekry en ons het die hele gebied naby Vierkantklip skoongemaak.”

Volgens Mater het die skoonmaakveldtog vier tot vyf dae geneem en het dit behels dat 18 sakke rommel uit die gebied verwyder is. 

Sy sê die poging het haar ongeveer N$2 500 gekos, wat die betaling van personeel, vervoerkoste, kos en verversings ingesluit het.

Die rommel, het sy verduidelik, kom hoofsaaklik van oorvol dromme by piekniek- en rusplekke, wat na bewering nie gereeld genoeg leeggemaak word nie. Sterk kuswinde waai dan die afval in nabygeleë oop ruimtes in.

Mater sê sy kommunikeer gereeld met amptenare van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) deur foto’s te stuur en oorvol dromme aan te meld wat dringend leeggemaak moet word. Sy beweer egter dat reaksie dikwels traag is.

“Soms neem dit twee, drie, vier of selfs ses dae voordat die dromme leeggemaak word,” het sy gesê.

Sy het ook haar kommer uitgespreek oor gebreekte infrastruktuur in die gebied, insluitend ’n beskadigde kennisgewingbord wat glo al langer as ’n maand op die grond lê, ondanks dat dit aan die owerhede gerapporteer is.

“Al wat hulle hoef te doen is om dit met kabelbinders vas te maak, maar niks word gedoen nie,” het sy gesê.

Mater beweer verder dat rommelstrooiery aansienlik ná naweke en openbare vakansiedae vererger, met jakkalse wat dikwels vullissakke wat in die oopte gelos is, oopskeur, wat veroorsaak dat afval nog verder oor die kuslandskap versprei.

Mater sê sy het oor die jare herhaaldelik verskeie owerhede, insluitend die ministerie en die Paaieowerheid (RA) van Namibië, gekontak oor die verslegtende toestand van die gebied, maar beweer die probleem bly vererger.

Die geraakte stuk sluit die gebied tussen die Swakoprivierbrug en die Vierkantkliproete in die rigting van Walvisbaai in.

Mater het nou aangebied om met toekomstige skoonmaakaksies deur haar maatskappy te help, indien regeringsowerhede bereid is om die werk te ondersteun en te vergoed.

“Dit maak my regtig elke dag hartseer, want mense sien nie wat daar gebeur nie,” het sy gesê. 

“Die rommel waai oral rond en niks word daaraan gedoen nie.”

Toe die woordvoerder van die omgewingsministerie, Vilho Hangula, vir kommentaar genader is, het hy, gesê ministeriebeamptes sal ’n inspeksie op die terrein doen en die klaer kontak om die presiese plek vas te stel waar die storting plaasvind.

“Eers wanneer ons die waarheid van die gerapporteerde storting vasgestel het, kan ons die ingryping vorentoe bepaal,” het hy gesê.

Omgewingsbekommernisse rondom rommelstrooiery en onwettige storting langs Namibië se kuslyn het toenemend ’n kwessie vir inwoners en omgewingsaktiviste geword, veral in gewilde toeriste- en ontspanningsgebiede waar oorvol vullisdromme en uitdagings met afvalbestuur die omgewing en wildlewe steeds beïnvloed.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-07-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer