Net 'wonderwerk' kan slangpark red
Die bekende Living Desert-slangpark in Swakopmund wat reeds vir die afgelope drie dekades 'n hoogtepunt onder besoekers is, sal moontlik noodgedwonge sy deure moet sluit en binneland toe moet verhuis. Dit is indien 'n oplossing teen middel-Maart oor 'n nuwe tuiste op die kusdorp nie gevind is nie, sê die eienaars Stretch en Angela Combrink.
Volgens die Combrinks moet hulle "definitief" trek, aangesien slopings- en boubedrywighede by die huidige perseel wat gesloop gaan word, begin het.
“Ons probeer al die laaste ses maande om ’n plek hier te kry om ons in Swakopmund te vestig, ongelukkig kan ons niks kry nie,” het Stretch gesê.
“As ’n wonderwerk nie teen middel-Maart gebeur nie, dan moet ons in Swakopmund toemaak.”
Volgens hom sal die konsep vir die slangpark by Mount Etjo Safari Lodge naby Kalkveld voortgaan.
“Ons verskuif na Mount Etjo en ja, ons gaan daar in dieselfde formaat voortgaan as wat ons hier doen,” het hy gesê.
Stretch sê die skuif sal ’n einde maak aan die park se gereelde rol as openbare opvoedingsgeriewe op Swakopmund.
“Ek is baie hartseer, want ons moet reeds skole wegwys,” het hy gesê, emet skole wat gewoonlik maande vooruit bespreek. Verlede jaar het die slangpark volgens hom 6 000 leerlinge en 800 onderwysers ontvang. 'n Skuif na die binneland sal dié toeganklikheid vir leerlinge en die publiek egter verminder.
“Vir skole en leerlinge gaan dit nie meer gebeur nie. Vir die algemene publiek in Namibië gaan dit nie gebeur nie, want al neem Mount Etjo dagbesoekers, gaan ons natuurlik nie so toeganklik vir die algemene publiek wees nie,” het hy gesê.
Die slangpark het ook 'n breër uitreik as bloot net toere.
“Verlede jaar het ons 217 mense oraloor Namibië opgelei.” Die opleiding en televisiewerk sal volgens Stretch waarskynlik voortgaan ondanks die park se vertrek uit Swakopmund.
Vir nou is die Combrinks oop vir enige praktiese aanbod wat die park op Swakopmund kan hou, maar die tyd raak min.
“Enigiets, enigiets om ons in Swakopmund te hou, waardeer ons. Absoluut, maar dit sal gou moet gebeur," het Stretch gesê. Die afgelope tyd was dit volgens die Combrinks “krisisbestuur vir die laaste jaar”.
Die slangpark huisves 69 reptiele, insluitend slange, akkedisse en skilpaaie, met die meeste wat gered is.
“Baie van hulle, almal, is gered," ” het hy gesê.
Die verskuiwing van die slangpark en sy diere sal ’n gespesialiseerde operasie onder hoë druk wees, met diere en toerusting wat in een rit verskuif word. Die Combrinks sal waarskynlik houers gebruik, in die nag ry en probeer om die tyd te beperk wat die diere in die houers deurbring.
“Die maksimum is 48 uur om in die houers te wees. Dit is swaar op die diere, en dit is swaar op ons. Die stresvlak is ongelooflik. Ek slaap nie juis te goed nie.”
Ook Angela erken die sluiting van die ikoniese slangpark op die kusdorp sal “baie, baie hartseer vir Swakop wees”. Sy het inwoners vir hul ondersteuning bedank en gesê die slangpark sal op 10, 11 en 12 Maart die laaste drie dae oop wees en toegang is dan gratis.
“Ons is daagliks tussen 09:00 en 17:00 oop en sal graag soveel mense as moontlik wil sien,” het sy gesê. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie