Onehanga-inwoners wag nie vir regering

Enzo Amuele
Enzo Amuele – Inwoners van Onehanga, wat sowat 35 kilometer oos van Okongo in die Ohangwenastreek geleë is, het self geld ingesamel om ’n sandpad van sewe kilometer lank na ’n grondpad op te gradeer.

Die inwoners het N$58 087 vir die eerste fase ingesamel, maar nog geld word vir die tweede fase benodig.

Die projekbestuurder, mnr. Dragon Kamati, het gesê die inwoners het besluit om die pad self op te gradeer aangesien die regering te lank vat.

“Ons weet nie of dit een van die prioriteitspaaie is nie, maar vir ons is dit ’n prioriteit en ons het besluit om iets vir onsself te doen,” het Kamati gesê.

Onehanga het sowat 3 500 inwoners. Nuwe mediese geriewe word tans gebou en daarom dring inwoners op die ontwikkeling van ’n grondpad aan omdat hulle op die sandpad vassit.

Hulle het onderneem om vrywilliglik te werk aangesien hulle glo die padprojek sal ook ander buurdorpe, soos Oshushu, Shamukweni, Eposha, Okanehangwena en ander wat die mediese geriewe sal gebruik, bevoordeel.

“Aangesien ek ’n lid van hierdie kiesafdeling is, het ek besluit om by die projek aan te sluit en deel van dit te wees,” het mnr. Nekongo Mwapagasha van ’n nabygeleë dorpie gesê.

Mnr. Kapuka Nauyala, ’n inwoner van Onehanga, meen as hulle saam die pad bou, help hulle ook die regering.

“Ons wys vir ander gemeenskappe wat ook in dieselfde situasie as ons is dat jy regtig nie vir die regering hoef te wag nie. Jy kan dit ook self doen,” het hy bygevoeg.

In ’n brief wat op 19 September aan die Ohangwena-streekraad gerig is, het die inwoners hulle ingelig oor die geldinsamelingsinisiatief. Die raad het egter geweier om hulp te verleen weens begrotingsbeperkings.

Die persoonlike assistent van die streekgoewerneur van Ohangwena, mnr. Medusalem Shilongo, het gesê hulle is bewus van die situasie en is besig om met relevante belanghebbendes in gesprek te tree.

“Ons het die brief ontvang en ons sal hulle betrek op die pad vorentoe aangesien hulle ’n kwotasie van sowat N$8 miljoen aangeheg het en dit is die regering wat die rekening moet betaal,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat ’n proses gevolg moet word en die eerste stap is die streekraad wat verantwoordelik is vir daardie paaie aangesien die raad paaie vir opgradering moet identifiseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer