Net die twee van ons

Saam groei, saam lag en saam huil
Heinowieze en Crestwil Izaaks het die beoordelaars met hul liefde vir mekaar, kreatiwiteit en spanwerk oorrompel en is Donderdagaand by die pas afgelope Kreatief.Sport.Toerisme (CST) Expo as Republikein se Bruidspaar van die Jaar 2026 aangekondig.
Henriette Lamprecht

Van die begin af was dit net hulle twee en hul planne. Hierdie is hulle reis – hulle gaan saam groei, saam stres, saam lag en saam huil. En dit was die kosbaarste tyd vir haar en haar man Crestwil, sê Heinowieze Izaaks in die aanloop tot hul troue.

Omdat hulle al by soveel troues betrokke was, het hulle vinnig besef “derde partye” maak troureëlings en die groot dag net ingewikkeld. 

Natuurlik het hulle hul naaste familie deel van die reëlings gemaak, maar binne grense. 

“Ons het ons idees gedeel, maar nie te veel na mense se kommentaar geluister nie. Ons troue, ons visie. Geen strooiers nie, want om eerlik te wees gaan die dag oor ons as ’n paartjie,” sê Heinowieze. 

“Ons wou elke oomblik inneem. Ons het nie daardie cliché ervaar van die dag gaan so vinnig om, jy knip jou oë en dis verby nie. 

Sy en Crestwil het die mooiste herinneringe, want dit was net hulle twee. 

“Toe ons foto’s gaan neem het, was dit net ons wat elke oomblik ingeneem en geniet het.”

Heinowieze beskryf haar en Crestwil se reis tot voor die kansel as kosbaar en spesiaal.

Ek onthou hoe ons musiek geluister het in die kar om die perfekte liedjies vir die dag te kies. Dit was emosioneel én opwindend.”

Elke Woensdagmiddag by hul danslesse sou hulle weer deur musiek gaan en het op soveel mooi liedjies afgekom wat haar en Crestwil se liefde perfek beskryf het, vertel Heinowieze.

Die paartjie het die einde van Januarie 2025 verloof geraak en teen die einde van Februarie het hulle reeds geweet watter verskaffers hulle vir hul spesiale dag gaan gebruik.

“Ons het besluit, gekies, en daarby gehou – geen heen en weer en onnodige drama nie.” – [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer