Namibiese brandewyn het nie brieke

Henriette Lamprecht

Met sy “vars aromas van witdruiwe wat lei tot ’n lewendige smaak van karamel, perskes, soet kruisement en warm soethout”, aldus ’n brandewynsommelier, het ’n brandewyn gestook in die dorre suide van Namibië, dubbelgoud tydens ’n gesogte internasionale wyn en spiritualieë-toekenningsaand verower. 

N/a’an ku sê Ecotourism Collection se Neuras Wine and Wildlife Estate, geleë op die rand van die woestyn en aan die voete van die Naukluftberge, se Neuras Triple Distilled Brandy 2023 het dubbelgoud by die Michelangelo International Wine & Spirits Awards, Afrika se grootste wyn- en spiritualieëkompetisie, verower. 

Die dubbelgoue brandewyn kom uit een van die droogste wingerde in die wêreld en om die prestasie te behaal, moet ’n produk tussen 93 en 95,99 punte uit 100 behaal – net onder Michelangelo se hoogste medaljekategorie, platinum. 

Die kompetisie strek oor byna drie dekades en het ’n sterk internasionale reputasie. Vir wyn bied so ’n toekenning onafhanklike bevestiging van gehalte, groter sigbaarheid en ’n waardevolle onderskeidingspunt in die mark. 

Neuras se dubbelgoud was in ’n besonder sterk veld waarin van Suider-Afrika se voorste wynmakers ook erkenning ontvang het.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer