u2019n Muurskildery vir Pride-maand is verlede naweek by die Sister Namibia se Eros-kantoor in Windhoek onthul. Die geleentheid is deur lede van die LGBTQu002B-gemeenskap en van Sister Namibia bygewoon. Foto Desmarius Hansen
u2019n Muurskildery vir Pride-maand is verlede naweek by die Sister Namibia se Eros-kantoor in Windhoek onthul. Die geleentheid is deur lede van die LGBTQu002B-gemeenskap en van Sister Namibia bygewoon. Foto Desmarius Hansen

LGBTQ+ se hardverdiende regte broos, sê IPPR

Namibië bly een van Afrika se meer verdraagsame samelewings
Ten spyte van belangrike oorwinnings in die hof vir LGBTQ+-regte, waarsku die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing dat hierdie vooruitgang kwesbaar bly vir politieke en wetgewende teenkanting.
Hoofverslaggewer

Nuusredaksie – ’n Nuwe verslag deur die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) wys daarop hoewel Namibië die afgelope paar jaar beduidende vordering met LGBTQ+-regte gemaak het, die situasie broos bly en maklik deur politieke en wetgewende optrede omgekeer kan word.

Dit laat dié minderheidsgroep steeds sonder omvattende regsbeskerming.

Die verslag getiteld, Not Yet Uhuru: Gender and LGBT Rights in Namibia – Opportunities, Gaps and Challenges, deur Abigail Solomons, ondersoek ontwikkelings tussen 2023 en 2025 en kom tot die gevolgtrekking dat Namibië wegbeweeg het van direkte kriminalisering, maar nog nie ’n regsraamwerk gevestig het wat LGBTQ+-persone ten volle beskerm nie.

Volgens die studie word die land se regslandskap deur ’n stryd tussen geregtelike vooruitgang en wetgewende weerstand gekenmerk.

Dit wys op twee belangrike hofuitsprake: Die hooggeregshofuitspraak van Mei 2023 wat bepaal het dat Namibië selfdegeslaghuwelike wat wettig in die buiteland gesluit is vir immigrasiedoeleindes moet erken; en die hoërhofuitspraak van Junie 2024 wat sodomie en “onnatuurlike seksuele oortredings” ongrondwetlik verklaar het.

Die verslag wys egter daarop dat die parlement daarna wetgewing aanvaar het wat die huwelik as ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou definieer. Dit terwyl die regering ook appèl by die hooggeregshof teen die hoërhof se dekriminaliseringsuitspraak aangeteken het.

“Die sentrale bevinding is die volgende: Namibië het van kriminalisering na ’n betwiste en brose verdraagsaamheid beweeg, maar dit het nie na beskerming beweeg nie,” lui die verslag.

Dit waarsku dat geregtelike oorwinnings steeds blootgestel is aan wetgewende ommekeer en uitvoerende optrede omdat die Grondwet nie uitdruklik diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie of geslagsidentiteit verbied nie.

 

UHURU, MAAR NIE VIR ALMAL NIE

Die verslag identifiseer verskeie wetlike gapings.

Dit sluit die afwesigheid van omvattende wetgewing teen diskriminasie in, asook wetgewing teen haatmisdade wat misdade op grond van seksuele oriëntasie of geslagsidentiteit erken, arbeidsbeskerming teen diskriminasie en wetlike meganismes wat transgender mense in staat stel om hul gendermerkers amptelik te verander.

Hoewel Namibië as een van Afrika se meer verdraagsame samelewings ten opsigte van seksuele oriëntasie beskryf word, lui die verslag dat verdraagsaamheid nie noodwendig regsbeskerming bied nie. 

Dit wys daarop dat talle LGBTQ+-Namibiërs steeds diskriminasie, geweld en sosiale uitsluiting ervaar sonder voldoende regshulp.

Met verwysing na Afrobarometer-data meld die studie dat verdraagsaamheid teenoor homoseksuele bure van 64% in die 2019-’21-opnames tot 51% in 2024 afgeneem het.

Nietemin bly Namibië een van die meer verdraagsame lande op die vasteland wat in die opname ingesluit is. Terselfdertyd was die meerderheid steeds gekant teen gelyke wetlike regte en huwelike van dieselfde geslag.

Die verslag lui verder dat politieke teenkanting teen LGBTQ+-regte toenemend aangevuur word deur wat dit as die “bewapening van walging” (weaponisation of disgust) as politieke instrument beskryf, asook deur transnasionale anti-regtebewegings wat plaaslike debatte en wetgewing beïnvloed.

Die IPPR doen onder meer ’n beroep op grondwetlike wysigings wat seksuele oriëntasie en geslagsidentiteit uitdruklik beskerm, die instelling van wetgewing teen diskriminasie en haatmisdade, die herstel van arbeidsbeskerming en die sterker ondersteuning vir burgerlike samelewingsorganisasies wat op menseregte fokus.

Die verslag stel dat Namibië se onafhanklikheid wel rasse-apartheid beëindig het, maar ’n ander vorm van uitsluiting laat voortbestaan het – een wat in seksualiteit, identiteit en die liggaam gewortel is.

Volgens die verslag het wette uit die koloniale era wat selfdegeslagverhoudings gekriminaliseer het, onafhanklikheid oorleef. 

Arbeidsbeskerming op grond van seksuele oriëntasie is stilweg in 2007 geskrap, terwyl die huidige regsraamwerk steeds nie spesifiek voorsiening maak vir haatmisdade teen LGBTQ+-mense nie.

“Vir Namibië se LGBT-burgers wat deel was van die bevrydingstryd, wat in hierdie land woon, belasting betaal, kinders grootmaak en tot die samelewing bydra, het die horison hardnekkig buite bereik gebly. 

“Die Namibiese Huis is gebou met ’n agterdeur wat sekere burgers nooit veronderstel was om ten volle te gebruik nie,” lui die verslag.

Dit kom tot die gevolgtrekking dat Namibië se grondwetlike belofte van gelykheid vir baie LGBTQ+-burgers steeds onvolledig bly, en dat “uhuru” – vryheid – eerder ’n strewe as ’n werklikheid is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer