Dit blom malvalekkers
In ’n wêreld waar rekenaars en kunsmatige intelligensie (AI) die werk van kunstenaars verander, het die plaaslike kunstenaar Robyn Goussard besluit om iets heel anders te doen.
Sy was vir meer as 15 jaar ’n digitale kunstenaar wat mooi prente op die rekenaar vir mense gemaak het. Toe besef sy egter mense wil nie meer sommer betaal nie, want rekenaarprogramme soos ChatGPT en AI kan binne sekondes dieselfde tipe werk doen.
Robyn wou nie weer vir ’n baas in ’n kantoor gaan werk nie. Toe kom sy op ’n blink, eetbare idee vir Namibië: sy maak nou handgemaakte, eetbare malvalekker-blomme onder haar besigheid, Velvet Bee Studio Namibia.
’n UNIEKE IDEE
Goussard wou nie in die reeds oorvol mark van koeke en kolwyntjies meeding nie, waar baie plaaslike bakkers reeds ’n gevestigde reputasie het. Sy het gesoek na iets kleurvol, uniek en tasbaars, iets wat sy met haar eie hande kon skep en wat nog deur niemand anders in Namibië gedoen word nie.
“As kunstenaar is ek baie lief vir kleur en blomme. Jy kan so baie verskillende dinge daarmee doen,” sê Goussard.
Dit het haar ’n volle jaar se beplanning, navorsing en resepte uittoets geneem om die besigheid reg te kry. Daarna het sy nog twee maande aan die fyn besonderhede geslyp voordat sy Velvet Bee Studio Namibia amptelik in Mei vanjaar oopgemaak het.
Die geheim van hierdie blomme lê in die regte mengsel van bestanddele. Die belangrikste bestanddele wat die malvalekkers hul vorm gee, is suiker en gelatien. Maar om elke klein blomblaar met die hand te vorm, vat baie geduld en kunsvaardigheid.
Robyn maak elke week ’n paar bederfboksies vir N$85 elk. Elke boksie het drie verskillende kleure en geure. Gewilde geure is Rocky Road, pistachio en karamel. Sy verander elke week die kleure en geure om dit opwindend te hou.
“Ek sien die pistachio-geur is baie gewild, maar my eie gunsteling is die karamel,” sê Robyn.
Vir troues, partytjies of as dankie-sê-geskenke op ’n etenstafel maak sy ook spesiale geleentheidsboksies. Jy moet minstens tien boksies op ’n slag bestel en dit kos N$55 elk. Kliënte kan self hul eie kleure en geure vir hierdie boksies kies.
Al doen Robyn die meeste van die werk alleen, is sy baie dankbaar vir haar man se hulp.
Haar man help haar saans om die kombuis skoon te maak en sit tot laat snags plakkers op die boksies.
Tydens ’n groot lentedag-uitverkoping het daar so baie bestellings ingekom dat sy twee weke se werk in een dag moes doen. Haar man het tot laat in die nag gehelp om honderde boksies te plak en gereed te kry.
“Hy kla nie een keer daaroor nie,” voeg Robyn by.
Mense in die gemeenskap is mal oor haar malvalekker-blomme. Robyn sê die lekkerste deel van haar werk is om mense se gesigte te sien wanneer hulle die boksies oopmaak. Baie mense sê selfs die blomme lyk in nog mooier as op die Facebook-foto's.
“Die beste deel vir enige kunstenaar is wanneer jou produk ’n glimlag en pure vreugde op iemand se gesig sit.”
Met Kersfees om die draai maak Velvet Bee Studio reeds gereed vir spesiale bestellings. Omdat alles met die hand gemaak word, kan sy net ’n sekere hoeveelheid maak. Mense wat bestellings wil plaas, moet dit vroegtydig doen voordat sy heeltemal volbespreek is.
Vir meer inligting of om ’n bestelling te plaas, kan jy die amptelike Facebook-blad van Velvet Bee Studio Namibia besoek.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie