Regstryd oor dagga loop bloutjie
Die private gebruik en besit van cannabis sal in Namibië onwettig bly nadat die hoërhof verlede week nie in ’n grondwetlike uitdaging wou ingryp nie.
Die hof het bevind dat die vraag of cannabis onwettig moet bly, gedekriminaliseer of gewettig moet word, ’n aangeleentheid vir die wetgewer is, aangesien dit breër beleidsbesluite behels.
Regter Claudia Claasen het Donderdag ’n regsgeding van die hand gewys wat deur Brian Jaftha, president van Ganja Users of Namibia (GUN) en die Rastafari United Front (RUF), tesame met Borro Ndungula, aanhangig gemaak is.
Sy het tot die gevolgtrekking gekom dat die regulering van cannabis ’n ingewikkelde “polisentriese” kwessie is wat verskeie onderling verweefde regeringsgebiede raak.
“Ons Grondwet ken afsonderlike funksies aan die drie staatsorgane toe en die beginsel van die skeiding van magte spruit uit hierdie strukturele ontwerp voort.
“In die algemeen beteken dit dat howe moet weier om te beslis oor aangeleenthede wat voorbehou is vir, of binne die domein val van, ander staatsorgane,” het Claasen beslis.
Jaftha, verteenwoordig deur Kadhila Amoomo, het die hof in Augustus 2021 genader met die doel om wette wat die gebruik en besit van cannabis kriminaliseer, ongrondwetlik te laat verklaar.
Die uitdaging het daarop gefokus of die verbod grondwetlike regte – insluitend gelykheid, waardigheid, godsdiensvryheid, kulturele uitdrukking en die reg op ’n billike verhoor – onregverdigbaar beperk.
Die applikante het voorts hofbevele aangevra om oortredings wat met cannabis verband hou uit bestaande wetgewing te verwyder, hangende vervolgings te staak en verligting te bied aan mense wat weens cannabis-verwante oortredings tronkstraf uitdien.
Die hof wou egter nie die vraag oorweeg of Namibië se wette oor cannabis grondwetlik is nie.
Claasen het gesê die saak is nie gereed vir ’n geregtelike beslissing nie, aangesien die regering reeds die land se raamwerk vir cannabis hersien deur middel van voortgesette beleids- en wetgewende prosesse.
Die uitspraak het berus op die hof se siening dat die regulering van cannabis veel meer behels as bloot ’n kwessie van individuele regte.
Die regter het die aangeleentheid beskryf as een wat openbare gesondheid, strafregpleging, wetstoepassing, maatskaplike beleide, ekonomiese oorwegings en Namibië se internasionale verpligtinge raak.
Die hof het bevind die besluit oor of dagga verbied, gereguleer of toegelaat moet word, vereis dat mededingende belange opgeweeg en die breër gevolge van elke beleidskeuse beoordeel word, ’n verantwoordelikheid wat hoofsaaklik aan die parlement en die uitvoerende gesag toevertrou is.
’n VRAAG VAN GELOOF
’n Beduidende deel van die uitspraak het gehandel oor die moontlike erkenning van ’n godsdienstige vrystelling vir lede van die Rastafari-gemeenskap.
Claasen het daarop gewys dat so ’n vrystelling praktiese uitdagings vir die strafregstelsel sou skep.
Wetstoepassingsagentskappe sou stelsels en hulpbronne nodig hê om tussen egte Rastafari-aanhangers en mense wat moontlik op ’n godsdienstige verweer wil staatmaak – sonder om werklik deel van die geloof te wees – te onderskei.
Die hof het gesê dit toon hoe veranderinge aan die regulering van cannabis verskeie regeringstrukture sou beïnvloed en nie bloot deur die lens van grondwetlike regte beskou kon word nie.
Claasen het ook gewys op kabinet-geleide navorsing, beleidsoorsigte en wetgewende werk wat binne die regering aan die gang is, as bewys dat hervorming ten opsigte van cannabis reeds deur demokratiese prosesse oorweeg word.
Luidens die uitspraak moet howe nie met voortgesette wetgewende werk inmeng nie, tensy daar ’n duidelike grondwetlike verpligting is om dit te doen. Daar is bevind dat ingryping voordat die proses voltooi is, daarop kan neerkom dat die hof die rol van die parlement en die uitvoerende gesag oorneem.
Amoomo het gesteun op die uitspraak van die Suid-Afrikaaanse konstitusionele hof wat strafregtelike strawwe vir die private gebruik van cannabis opgehef het.
Claasen het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse hof ook die rol van die parlement erken het in die ontwikkeling van ’n nuwe regsraamwerk nadat die verbod ongrondwetlik verklaar is.
Die hoërhof het die regering se spesiale pleit gehandhaaf, die aansoek as voortydig van die hand gewys, die saak van die hofrol geskrap en geen bevel oor koste uitgereik nie. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie