Witvlei BV vier eeufees in swier

Onder ’n kameeldoringboom gestig
Deursettingsvermoë en aanpasbaarheid dra die beesboere deur.
Augetto Graig

Die Witvlei Boerevereniging (BV) het Saterdag ’n merkwaardige mylpaal behaal en hul eeufees vrolik by die Boerehuis-boereverenigingsaal gevier.

Die voorsitter van die reëlingskomitee vir dié geskiedkundige geleentheid, dr. Hannes Human, het aan Republikein vertel dat die BV op 18 April 1926 amptelike gestig is met die aanvaarding van sy grondwet. 

Die vereniging is vroeër deur ongeveer 40 oorspronklike lede onder leiding van die eerste en jare lange voorsitter, Ben Swart, aan die oewer van die Nossobrivier onder ’n kameeldoringboom gestig.

Vandag spog Witvlei BV met 87 lede en die organisasie is baie aktief. Hulle is juis die vorige Saterdag as die nasionale braaikampioene van die NLU Agribraai op Gobabis gekroon. Witvlei sal dus volgende jaar die braaikompetisie aanbied.

Dieselfde saal – wat 1957 met geld gebou is wat lede self ingesamel het nadat die bank ’n lening van 2000 pond afgekeur het – sal dan ook as die gesellige perseel van NLU Agribraai 2027 dien, volgens Human. 

Die Boerehuis is nie net ’n trotse woning vir die boerevereniging nie, maar huisves ook die BV se argief, met geskiedkundige dokumente wat tot sowat 1933 terugdateer. 

Die afgelope naweek was die perseel pragtig vir die spesiale geleentheid opgetooi.

Witvlei-boere het ’n baie goeie jaar gevier met goeie reën wat mooi weiding in die omgewing voorsien het.

“Twee jaar terug het die uiters beroerd gegaan,” vertel Human. 

Tog het die vereniging ook voorheen deur droogte, oorlog, bek-en-klouseer en veranderinge van regering altyd oorleef. Volgens Human weerspieël die vereniging se ryk geskiedenis die deursettingsvermoë en die aanpasbaarheid van Witvlei se boere. 

“Die lekker saamwerk en die ondersteuning van lede vir mekaar maak dit ’n voorreg om saam met sulke mense te kan werk,” sê hy.

Saterdagaand is ’n toespraak deur Raimer van Hase, oud-president van die NLU, gelewer terwyl Schalk Grobbelaar, die oudste Witvlei BV-lid en voormalige voorsitter en sekretaris ook gevleuelde woorde gedeel het. 

Die huidige NLU-president, Thinus Pretorius, het die heildronk ingestel en die hoofborg, Bank Windhoek, het dit ook moontlik gemaak om ’n formidabele eeufeesgedenkboek propvol interessante geskiedenis van die boerevereniging saam te stel, wat elkeen teenwoordig kon saamneem.

Die reëlingskomitee het vir 18 maande lank hard aan die voorbereidings van die eeufeesvieringe gewerk, wat verrigtinge vanaf 15 April tot ’n einde gebring het. Verlede Woensdag het ’n kerkdiens by die Boerehuis die reünie op ’n gepaste manier begin, voordat lede verlede week hul jaarvergadering gehou en later ’n steakbraai geniet het. ’n Veiling van plaasimplemente het die Saterdagaandprogram afgesluit, voordat daar heerlik geëet, gedans en gekuier is.

Witvlei se boere is baie sterk in die beesbedryf betrokke, terwyl talle ook met wild boer en in die jagbedryf is, volgens Human. 

Hy is ’n ekonoom en boer met Tuli-beeste. Die vereniging is ’n belangrikke rots op Witvlei waar die dorp se bevolking sowat 6 000 inwoners is. 

“Ons kry nou ’n Woermann Brock-winkel op die dorp, so ons gaan ’n bietjie vooruit. Ons grootste uitdagings op Witvlei is werkloosheid en diefstal. 

“Ons geniet wel ons mense en ons klimaat hier. Dit gaan nou besonders goed met die gemeenskap en ook by die koshuis waar die vereniging betrokke is met opknappingswerk.” 

Human sê beespryse is van Meatco en Beefcor en by die veilings is goed, alhoewel die brandstofpryse ’n demper is, omdat dit deursypel na alles. 

“Ons moet maar die bul by die horings pak en dit bestuur,” sê Human.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer