Wat gebeur op verkrygde grond?
Hoewel die regering tydens die 2024-’25-boekjaar N$115 miljoen bestee het om 11 kommersiële plase met ’n totaal van 41 291 hektaar te koop, is die vraag egter watter ekonomiese en maatskaplike opbrengste uit die grond voortgespruit het nadat dit verkry is.
Die vraag is vandeesweek in die Nasionale Vergadering geopper tydens ’n debat oor die aanstelling van lede vir die advieskomitee vir grondhervorming.
’n Parlementslid vir Affirmative Repositioning (AR), Ester Haikola-Sakaria, wou weet of die sukses van grondhervorming steeds hoofsaaklik gemeet moet word aan die aantal hektaar wat verkry word.
Volgens haar behoort meer aandag geskenk te word aan wat daarna met die grond gebeur.
Volgens syfers van die ministerie van landbou, visserye en grondhervorming wat tydens die debat aangehaal is, is 41 291,56 hektaar deur middel van 11 plase teen ’n totale koste van N$115,09 miljoen in 2024-’25 verkry.
Haikola-Sakaria het gesê die verkryging het wel die ministerie se jaarlikse teiken van 387 hektaar oorskry, maar dat die prestasie nie by die aankoop van die grond moet eindig nie.
Sy wou weet wat met die hektaar gebeur nadat dit verkry is en of dit gelei het tot landbouproduksie, werksgeleenthede, inkomste en volhoubare bestaan vir begunstigdes. “Grondhervorming gaan nie net oor hektaar en statistieke nie; dit gaan oor mense, bestaan, produktiwiteit en die vermoë van begunstigdes om sinvolle gebruik te maak van die grond wat hulle ontvang,” het sy gesê.
Haikola-Sakaria het ’n beroep op die regering gedoen om ’n maatstaf vir wat sy beskryf as “opbrengs op grond” in te stel om die prestasie van herverdeelde grond te evalueer.
Dit behoort volgens haar die bepaling in te sluit van die aantal werksgeleenthede wat geskep word, landbouproduksie wat gelewer word, huishoudings wat ondersteun word, inkomste wat gegenereer word, voedsel wat geproduseer word, asook die aantal kommersieel volhoubare begunstigdes.
Sy wou ook weet hoeveel staatsondersteuning begunstigdes jare nadat hulle grond ontvang het, steeds benodig.
“Julle is die regering wat miljoene bestee om grond te verkry, maar wat is die opbrengs op daardie openbare belegging?” het sy gevra.
Haikola-Sakaria het gesê die advieskommissie behoort nie bloot as ’n prosedurele liggaam te funksioneer wat die minister oor grondtransaksies adviseer nie. Sy het ’n beroep op die kommissie gedoen om gereelde veld- en gemeenskapsbesoeke af te lê ten einde regstreeks met begunstigdes en boere te skakel en om toestande op grondvlak te beoordeel.
“Goeie raad kan slegs gegee word wanneer daar ’n behoorlike begrip is van wat op grondvlak gebeur,” het sy gesê.
Die advieskommissie word weer saamgestel, nadat die vorige een se termyn reeds se termyn op 30 April vanjaar verstryk het.
Volgens Nelson Kalangula, parlementslid vir die Independent Patriots for Change (IPC) het die vertraging ’n nadelige uitwerking op belangrike werk gehad en wat insluit die verkryging van kommersiële landbougrond, hervestiging en grondverwante aansoeke.
Die advieskomitee speel ’n raadgewende rol in die verkryging, toekenning en administrasie van landbougrond vir herverdeling, hervestiging en breër sosioëkonomiese ontwikkeling.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie