Foto ter illustrasie Adele Cranz
Foto ter illustrasie Adele Cranz

Veeboere moet opdok vir staatsveeartse se reiskoste

-
-
Hoofredaksie

Die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming se inspeksies op veeplase het vroeër vanjaar tot stilstand geruk nadat sy begroting uitgeput is.

Veeprodusente moet nou self vir staatsveeartse se vervoerkoste opdok. 

Veeplase wat deur die Europese Unie goedgekeur is moet jaarliks deur ’n staatsveearts geïnspekteer word om hul EU-sertifisering en daarmee saam toegang tot belangrike uitvoermarkte te behou. 

“Hierdie inspeksies het egter vroeër vanjaar tot stilstand gekom nadat die direktoraat veeartsenydienste aangedui het dat sy operasionele begroting vir 2026-’27 vir hierdie diens uitgeput is,” lui die weeklikse nuusbrief van die Namibië Landbou-unie (NLU).

“Dit het produsente wat van EU-markte afhanklik is, onder groot druk geplaas. Indien inspeksies nie betyds uitgevoer word nie, kan sertifisering verval en kan produsente se diere nie meer by uitvoerabattoirs geslag word nie. 

“Dit kan op sy beurt die bedryf, die abattoirs en Namibië se vermoë om aan sy internasionale uitvoerverpligtinge te voldoen, beïnvloed,” lui die nuusbrief.

Volgens die NLU het die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) die saak dringend met die betrokke rolspelers opgeneem. 

Ná gesprekke tussen georganiseerde landbou, DVS en die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad van Namibië (LLPBN) is ’n tydelike oplossing bereik om te voorkom dat uitvoer ontwrig word, sê die NLU.

“Vir ’n beperkte tydperk sal produsente wat EU-sertifisering benodig, die reis- en verwante koste van staatsveeartse vir die uitvoering van die EU-inspeksies via die LLPBN dra. 

“’n Amptelike voorstel word tans deur die LLPBN aan die regering voorberei, terwyl leiding van tesourie ook benodig word oor die toepaslike finansiële reëlings.”

Hierdie reëling word egter nie as ’n volhoubare langtermyn-oplossing deur rolspelers beskou nie. 

Die NLU sê een van die opsies wat oorweeg word, is die instelling van ’n toegewyde tesourierekening waardeur fondse geoormerk kan word vir noodsaaklike operasionele bedrywighede van DVS, insluitend EU-inspeksies. 

’n Breër dieregesondheidsheffing word ook volgens die NLU oorweeg. 

“Só ’n meganisme kan ’n meer volhoubare manier bied om dienste te befonds wat noodsaaklik is vir die handhawing van Namibië se dieregesondheidstatus

en toegang tot internasionale uitvoermarkte.”

Die huidige situasie het volgens die NLU egter ’n veel groter kwessie beklemtoon. “Veeartsenydienste is nie bloot ’n administratiewe funksie van die regering nie. Dit speel ’n strategiese rol in die beskerming van dieregesondheid, voedselsekerheid, landelike bestaan, werkskepping en toegang tot internasionale markte.” 

Die NLU is van mening die regering moet daarom die strategiese ekonomiese belang van die DVS erken en verseker dat voldoende fondse beskikbaar is om die direktoraat in staat te stel om sy statutêre verantwoordelikhede te vervul.

“Die tydelike reëling help om uitvoer op die kort termyn te beskerm. Dit bied egter nie ’n oplossing vir die onderliggende befondsingprobleem nie. Die langtermyn-oplossing moet wees om te verseker dat noodsaaklike veeartsenydienste volhoubaar befonds word,” lui die nuusbrief.

Republikein het aan die ministerie gevra hoe hierdie probleem opgelos gaan word, maar teen druktyd is geen antwoord gegee nie.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer