CRISIS: Thousands in Namibia are expected to face acute food insecurity next year. Photo: FILE
CRISIS: Thousands in Namibia are expected to face acute food insecurity next year. Photo: FILE

Tot 750 000 kan in 2023 voedselonsekerheid beleef

Moet meer as 160 000 ton graan invoer
Die FAO het gesê Namibië het gelokaliseerde tekorte in stapelvoedselproduksie, terwyl die land 'n ekonomiese afswaai beleef
Na verwagting kan sowat 750 000 mense in Namibië volgende jaar van Januarie tot Maart akute voedselonsekerheid in die gesig staar.

Dit as gevolg van hoë voedselpryse en gelokaliseerde leemtes in die produksie van graankos wat deur weeromstandighede meegebring is, sê die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) in sy jongste verslag oor gewasvooruitsigte en voedselsituasies.

Die verslag het bevind 45 lande wêreldwyd, insluitend Namibië, benodig eksterne voedselhulp.

Luidens die verslag het jare se hoë inflasiekoerse wêreldwyd, midde uitdagende makro-ekonomiese omgewings, voedselonsekerheidstoestande vererger, veral in lae-inkomstelande met ‘n voedseltekort.

Die FAO het gesê Namibië het gelokaliseerde tekorte in stapelvoedselproduksie, terwyl die land ‘n ekonomiese afswaai beleef.

Die organisasie het bygevoeg die geskatte aantal mense wat ernstige voedselonsekerheid beleef – wat binne die IPC Fase 3 (krisisfase) van die akute voedselonsekerheidklassifikasie val – stem ooreen met die aantal mense wat voedselonsekerheid in 2022 ervaar.

Volgens die FAO sal wydverspreide en aansienlike reënvaltekorte na verwagting ‘n afname in oeste in sekere Afrikalande veroorsaak, terwyl droogtes en uiterste weersomstandighede in sommige dele van Suider-Afrika verminderde graanoeste vir 2022 in die meeste lande veroorsaak het.

Volgens die Oesvooruitskatting en Voedselsekerheid-situasieverslag vir Julie wat die ministerie van landbou, water en grondhervorming pas vrygestel het, dui totale graanskattings daarop dat Namibië ‘n effense afname van 1% in gewasproduksie vir die 2021-‘22-oesseisoen moet verwag.

DÍt is in vergelyking met die vorige seisoen se oes, maar dit is steeds 23% bo die gemiddelde produksie.

Die hersiene totale oesskattings dui daarop dat die land 151 723 metrieke ton vir die 2021-’22-oesseisoen aangeteken het, wat effens laer is as die vorige seisoen se oes van 153 028 ton en bo die gemiddelde jaarlikse produksie van 123 710 ton.

Dit het egter aangedui dat Namibië meer as 160 000 ton graan sal moet invoer om sy binnelandse behoeftes vir die 2022-’23-bemarkings- en verbruikstydperk te kan dek.

Dié tydperk duur vanaf 1 Mei 2022 tot 30 April 2023.

Na raming is 168 700 metrieke ton graan vir die 2022-’23-bemarkings- en verbruikstydperk plaaslik in Namibië beskikbaar.

Dit is egter net sowat 45% van die binnelandse graanbehoefte van 373 400 ton en daarom is ‘n totaal van 204 600 nodig om die tekort te dek.

“Namibië is nog nie selfvoorsienend met voedsel nie en maak dus sterk staat op invoer vir binnelandse verbruik. Onder normale omstandighede produseer die land ongeveer 60% van sy graanbehoeftes en dek die oorblywende 40% deur invoer.”

Luidens die verslag het die konflik tussen Rusland en die Oekraïne ook die nasionale ekonomie beïnvloed, veral rakende die invoer van graan en gevolglik voedselsekerheid, aangesien dit die voedselstelsels van produksie, verwerking, verspreiding, bemarking en verbruik beïnvloed het en ook mense se aankope weens inflasie verminder het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer