Student pronk met rys-oes
’n Student in natuurwetenskappe wat in gewasproduksie spesialiseer, het sy studies in die praktyk omgesit deur rys suksesvol op ’n klein gehuurde stuk grond te verbou.
Frans Amutenya het aan Network Media Hub (NMH) gesê hy het in November 2025 rys geplant op 0,5 hektaar geplant wat hy vir N$1 000 per maand huur.
Amutenya studeer aan die Universiteit van Namibië (Unam) se Ogongo-kampus in die Omusatistreek, waar sy akademiese werk op akkerbou, besproeiingskedulering en gewasbestuur fokus.
Die opleiding het hom aangespoor om wat hy in die klaskamer leer in die praktyk toe te pas deur rys op die gehuurde stukkie grond by die Omakuku-nedersetting in Omusati te verbou.
“In November 2025 het ek ’n uitstekende ontkiemingsyfer behaal en rys op 0,5 hektaar suksesvol verbou,” het Frans gesê.
Hy het gesê sy komende oes lyk net so belowend en dat hy teen volgende maand verwag om “my produkte aan formele markte te lewer”.
Weens ’n gebrek aan oes- en verwerkingstoerusting beoog Frans om met die rys met die hand te oes – ’n metode wat hy erken meer tyd sal neem.
Hy beplan om die rys na die Ogongo-kampus vir verwerking en verpakking te vervoer.
Al is hy ’n groentjie as rysboer, streef Frans daarna om in die toekoms sy eie masjinerie aan te skaf om sy boerdery makliker te maak.
Tevrede met sy sukses tot dusver, staan hy nietemin voor verskeie uitdagings, onder meer onvoldoende omheining, wat diere toelaat om sy lande binne te dring en aan sy gewasse te vreet.
Oor die geskiktheid van rysverbouing in die gebied, het Frans gesê dat ’n kanaal naby geleë is en daar gunstige toestande gedurende die reënseisoen is, wat die gewas se groei ondersteun.
Hy het gesê hy het baat by sy opleiding op die Ogongo-kampus gevind, waar hy ook ryssaad ontvang het om sy boerdery te ondersteun.
Hy het gesê rys verg oor die algemeen minimale instandhouding wanneer die watertoevoer voldoende is.
Die groot uitdaging is die ses maande lange rypwordingstyd, hoewel vinniger groeiende variëteite ander uitdagings meebring, soos waterbestuur.
Oor plaagbeheer het hy gesê rysgewasse het tipies minder plaagprobleme, maar hy het boere aangeraai om gereelde inspeksies te doen en enige probleme vinnig aan te pak.
As student wat by sowel navorsing as praktiese opleiding betrokke is, het Frans gesê hy het dit eenvoudig gevind om sy akademiese kennis op werklike boerderysituasies toe te pas.
Om boerdery en akademiese verantwoordelikhede te balanseer, het Frans ’n permanente werker in diens geneem om die plot tydens sy klasse en ander verpligtinge te bestuur.
Frans het jong Namibiërs aangespoor om buite hul gemaksone te tree en landbou nie bloot as ’n terugval-opsie te sien nie, maar as ’n terrein wat ryp is vir vernuwing – deur lesse in die klaskamer met praktiese eksperimentering te kombineer.
Hy het ook studente met soortgelyke praktiese opleiding aangemoedig om hul vaardighede te benut.
“Om klein te begin en na die grond te luister, is noodsaaklik,” het Frans gesê.
“As ’n stuk grond onder water is, moet dit nie as ’n mislukking beskou word nie. Navorsing behoort eerder te fokus op gewasse wat by sulke toestande aangepas is.
“Namibië voer die meerderheid van sy rys in; daarom verminder plaaslike verbouing afhanklikheid en versterk dit voedselsekerheid in die streek,” het hy beklemtoon.
Marcellus Kanyetu, ’n student van Developing Aid from People to People (DAPP) se beroepsopleidingsentrum, het deelgeneem aan ’n onlangse oes- en inligtingsdag wat op Amutenya se plot gehou is.
Hy het gesê studente het waardevolle kennis opgedoen oor vloedgeteisterde gebiede wat steeds onderbenut bly.
“As studente wat in landbou opgelei is, is ons gereed om rysverbouing binne die streek en oraloor die land uit te brei,” het hy verklaar.
Dr. Petrus Ausiku, senior dosent en navorser in grondkunde aan die Ogongo-kampus, het die kampus se gereedheid bevestig om aspirant-rysboere deur opleidingsprogramme en saad te ondersteun.
Hy het gesê die kampus hou jaarliks ’n rys-oesdag en hy moedig boere aan om dit by te woon om kennis en ervaring op te doen.
Verlede jaar het die kampus ongeveer 20 ton rys geoes – ’n toename van 15 ton in vergelyking met 2024.
Daar was ’n duidelike toename in rysopbrengste, met bewerkte areas wat van 4,1 hektaar in 2024 tot 6,7 hektaar in 2025 toegeneem het, het hy bygevoeg.
Unam se visekanselier, Kenneth Matengu, het gesê meer as 4 000 boere het opleiding ontvang deur inisiatiewe vir rysverbouing, met 1 000 wat aktief by rysproduksie betrokke is. In 2025 alleen het 20 nuwe boere opleiding op die kampus ontvang.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie