Stampriet Skou is terug met ’n knal

Dié byeenkoms vir kleinveeboere
Kleinveetelers is gereed om weer eens hul heel beste genetika veiling toe te bring – vee wat getoets en gereed is om ook na alle buurlande uitgevoer te word.
Elvira Hattingh
Stampriet sal vanjaar weer sy weeklange skou vanaf 27 Augustus tot 2 September aanbied, met altesaam 80 stoeterye wat 1 800 diere ingeskryf het

Die skou sal ook vir die grootste kleinveestoetveiling in Afrika sorg.

Tydens die geleentheid, wat as dié kleinveebyeenkoms van die jaar beskou word, sal alle kleinveerasse hul nasionale kampioenskappe hou. Die finale rondte van die Feedmaster kinderbeoordelingkompetisie asook ʼn slaglamkompetisie sal aangebied word.

Verskeie kenners sal ook skougangers oor onder meer ramvrugbaarheid, mielieverbouing, grondbestuur, kruipvoer en inentings toespreek.

Die immergewilde Stampriet-skouveiling vind oor twee dae plaas, met die ooiveiling wat eerste op Donderdag 1 September om 14:00 aan die beurt kom, met 390 ooie op aanbod.

Op Vrydag 2 September om 10:00 word die ramveiling aangebied, met 430 ramme wat opgeveil moet word. Namibia Livestock Auctioneers (NLA) bied die veiling aan.

Stampriet se skoubestuur sê die Boerbok-, Dorper-, Van Rooy, Damara-, Meatmaster- en Persie-telersgenootskap sal weer eens hul heel beste genetika na die veiling bring. Diere is ook getoets en soos altyd, gereed om na enige buurlande uitgevoer te word.

LANDBOUSPREKERS

Praatjies tydens die skou word op Maandag 29 Augustus afgeskop met Paul van der Merwe van Swavet wat oor instrumente, ramvrugbaarheid en –voorbereiding sal gesels, terwyl dr. Louis du Pisani skougangers in twee sessies oor die pilare en fondasie van veeboerdery sal toespreek.

Smeermiddels en sonstelsels kom ook onder die loep, veral as dit by besproeiing kom.

Lima Grain se Fanie Yssel sal op Dinsdag 30 Augustus met akkerbouers gesels oor mielieverbouing en die verbetering van grond se gesondheid met behulp van dekgewasse.

Kobus Viljoen van Micca Agri sal ná middagete praat oor die bestuur van grond.

Jano Koen van AECI Plant Health sal ʼn praatjie aanbied oor die wortelontwikkeling, ontkiem en vestiging van mielies, asook oor weidingkwessies.

Praatjies oor kruipvoer, Bravecto-diereprodukte, inentings asook inwendige en uitwendige parasiete word op Woensdag 31 Augustus aangebied.

BEOORDELING VAN VEE

Die Van Rooy-, Damara- en persie-skape word op Saterdag 27 Augustus beoordeel, terwyl Feedmaster se kinderboordeling- asook die slaglamkompetisie op Sondag 28 Augustus gehou sal word.

Vir die slaglamkompetisie word diere in groepe van drie ingeskryf in die kategorieë vetstert, nievetstert-tipe en bokke.

Van Maandag tot Woensdag, 29 tot 31 Augustus, word die dorper-, witdorper- en meatmaster-skape, asook die boerbokke en Kalahari Reds beoordeel.

Woensdagmiddag word die kampioen van kampioene aangewys en die dag word met ʼn galadinee afgesluit. ’n Dans word ook Donderdagaand aangebied met Joggie van Schalkwyk wat vir die musiek sal sorg.

Vir die dames word spesiale praktiese aktiwiteite aangebied en vir boere is daar ook verskeie uitstallers.

TELERSGENOOTSKAPPE

Die Meatmaster-telersgenootskap se Jean du Plessis sal op 29 Augustus om 14:00 ʼn praktiese meatmaster-demonstrasie aanbied, terwyl die Namibië Landbou-unie (NLU) se president, Piet Gouws, een van die gassprekers tydens Woensdagaand se galadinee sal wees.

Die Bonsmara-telersgenootskap sal op Donderdag 1 September ʼn praatjie oor dié beesras bied, met “die regte ras vir die regte redes” as die onderwerp. Dit sal deur ʼn praktiese demonstrasie in die ring opgevolg word.

Die Dorpers-telersvereniging sal ook hul jaarvergadering op Saterdag om 19:00 op Stampriet hou, gevolg deur die Meatmaster-telersgenootskap se jaarvergadering op Maandag 29 Augustus om 19:00.

Vir meer inligting, kan belangstellendes hul Facebook-blad besoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer