Mnr. Maxwell Nghidinwa, tóé nog assistentplaasbestuurder op Sikondo, hou blomkool en brokkoli vas wat in 2017 op die skema geproduseer is. FOTO ARGIEF/NAMPA
Mnr. Maxwell Nghidinwa, tóé nog assistentplaasbestuurder op Sikondo, hou blomkool en brokkoli vas wat in 2017 op die skema geproduseer is. FOTO ARGIEF/NAMPA

Sikondo-skema vat voor met koringaanplantings

Elvira Hattingh
Vanjaar is sowat 110 ha se koring op die Sikondo-groenskema geplant, met ‘n verwagte oes van tussen 7 tot 8 ton per ha.

Dít volgens die skema se waarnemende bestuurder, mnr. Maxwell Nghidinwa.

Tydens ‘n besoek aan die skema deur die ministerie van landbou, water en grondhervorming, het Nghidinwa gesê dit is belangrik, gegewe die internasionale tekort aan koring.

Hy het ook gesê die skema beskik oor altesaam sowat 295 ha, waarvan 120 tans onder produksie is – met óf koring óf groente wat gekweek word.

Die skema plant ook groentesoorte soos beet (2 ha), uie (2 ha) en kool (2,5 ha). Hulle is steeds besig om kool te plant en wil eindelik 5 ha se kool oes. Aangesien dit binnekort weer somer sal wees, word daar ook beplan om waatlemoen (5 ha), botterskorsies (5 ha) en kontantgewasse soos tamaties, soetrissies en komkommers te kweek.

Nghidinwa het gesê die vyf mediumskaalboere op die skema het ook onlangs mielies geoes en berei nou hul somergewasse voor – dit sluit in groentesoorte soos botterskorsies, waatlemoen, soetrissies en wortels. Hulle sal ook altesaam 270 ha mielies plant.

Die skema het ook in 2017 ʼn toekenning van die Namibiese Akkerbouraad (NAB) ontvang. Onder leiding van mnr. Rustie Kleynhans is die skema as die wenner in die kategorie vir mega-besproeiingsprodusent van die jaar gekroon.

Oudpresident Hifikepunye Pohamba het Sikondo in 2017 ingewy en is in die Kapako-kiesafdeling van die Kavango-Wesstreek geleë. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer