Teen Woensdag het produsente-beleggings in Savanna Beef Processors op N$199,656 miljoen gestaan, met altesaam 372 produsente wat hierby ingekoop het. INFOGRAFIKA VERSKAF
Teen Woensdag het produsente-beleggings in Savanna Beef Processors op N$199,656 miljoen gestaan, met altesaam 372 produsente wat hierby ingekoop het. INFOGRAFIKA VERSKAF

Savanna ʼn kortkop voor N$120 miljoen

Beesboere stu voort met abattoirplanne
Beesprodusente voeg daad by die woord om Savanna Beef te laat realiseer, terwyl hul venster vir beleggings in die beplande abattoir vandag om 12:00 sluit.
Elvira Hattingh
Beleggings deur beesprodusente in die beplande Savanna Beef Processors (SBP) het die afgelope Woensdag op N$199,656 miljoen gestaan, met altesaam 372 produsente wat hierby ingekoop het.

Die nuus kom terwyl die venster vir produsentebeleggings in die beplande beesvleisabattoir vandag om 12:00 sluit.

Terselfdertyd het produsente ook reeds N$114 miljoen in SBP se bankrekening inbetaal en dit is ook al na hul prokureursrekening oorbetaal.

Die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) het vroeg gisteroggend gesê hulle verwag dat meer aansoeke by Cirrus Capital ingedien gaan word en het produsente, wat nog nie hul beleggingsgeld inbetaal het nie, genoop om dit so gou as moontlik te doen.

“Die SBP-direksie sal hul eerste raadsvergadering op 29 Junie hê om die pad vorentoe te bespreek,” het die forum produsente in ʼn kennisgewing meegedeel.

Altesaam N$200 miljoen se aandele in SBP is beskikbaar.

Die BVCF se voorsitter, mnr. Mecki Schneider, het verlede week aan AgriMonitor gesê hul taakspan is intussen besig met verskeie aktiwiteite, soos onder meer die bemarkingsaksie.

“Dit is uiters noodsaaklik, want dit is die trekperd vóór,” het hy gesê.

“Ons is ook besig met die infrastruktuur en het kennisgewings van belangstelling (EOI’s) uit verskeie oorde ontvang – ook uit die buiteland – om dit te ontwerp en bou.”

Hy het bygevoeg ʼn formele tenderproses sal in verband hiermee gevolg word en ʼn voorlegging sal aan beleggers gemaak word nadat tender-evaluasies gedoen is.

“In die laaste kwartaal van die jaar gaan ons die voorlegging aan aandeelhouers maak en dan sal hulle besluit of ons begin bou en voortgaan of nie.

“Ons moet egter eers die finansiering regkry.

“Hierdie is nog net produsente se bydrae. Ons moet nog uitgaan en verdere finansiering kry, wat ʼn verdere maand sal neem,” het Schneider gesê.

Terselfdertyd kry die forum self ook voortdurend nuwe lede. Die mees onlangse syfer vir hul ledetal wat met AgriMonitor gedeel is, is 460 opbetaalde lede. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer