Savanna Beef maak geskiedenis
Savanna Beef Processors het ’n geskiedkundige mylpaal bereik toe hulle Vrydag hul eerste besending bevrore beesvleis van 28 ton vanaf sy uitvoerabattoir naby Okahandja na Walvisbaai vervoer het vir die uiteindelike bestemming na Rotterdam in Nederland.
Dit volg nadat die maatskappy op 9 April die nodige sertifisering van die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming ontvang het.
Volgens Mecki Schneider, voorsitter van Savanna Beef Processors, was hierdie oomblik die resultaat van meer as vier jaar se harde werk deur ’n taakspan van 13 mense.
“Dit is nie ’n ‘one-man-show’ nie,” het Schneider beklemtoon.
“Savanna Beef Operations het tans 189 personeellede en ons beoog om dit tot ongeveer 220 te vergroot.”
Vanaf 13 April is alle beeste vir uitvoerdoeleindes geslag en binne slegs 11 dae is die eerste verkoelde vraghouer gepak en verskeep.
UITVOERMARKTE
Die maatskappy beoog om teen einde Mei teen volle kapasiteit van ongeveer 250 beeste per dag te slag, wat op ongeveer 12 500 beeste elke drie maande te staan kom.
Schneider het verduidelik dat vleis uiteindelik gelyktydig na binnelandse en streekmarkte in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) gestuur sal kan word, asook na Britse markte en die Europese Unie (EU) en EFTA (Liechtenstein, Ysland, Noorweë, Switserland).
’n Sleuteluitdaging, volgens Schneider, is om elke dag die hele karkas te bemark.
“Dit is maklik om ‘sirloin’, ‘rump’ en fillet te bemark, maar ons moet elke dag die hele karkas van ribbes, bene, kop en dies meer bemark.”
Dit is juis hoekom Savanna ’n bemarkingsooreenkoms met Global Protein Solutions (GPS), ’n groot Europese maatskappy, sowat 18 maande gelede gesluit het om die maatskappy toegang tot verskeie markte te gee.
WAARDETOEVOEGING
Schneider het die breër ekonomiese betekenis van die uitvoer beklemtoon.
“Hierdie is binnelandse waardetoevoeging. Inkomste uit buitelandse valuta is belangrik en werkskepping strek van die plaas tot vervoer en werk by die abattoir self. Dit is baie groter as net die 220 personeellede by Savanna Beef.”
Die maatskappy se langtermynvisie sluit in om plaaslike boere aansienlike beter pryse te bied sodat hulle 50 000 bykomende speenkalwers plaaslik kan afrond, in plaas daarvan om dit na Suid-Afrika uit te voer.
“Boere kan dit net doen as hulle ’n goeie prys kry en daarom is buitelandse valuta en marktoegang so belangrik,” sê Schneider.
Ten spyte van die feestelike geleentheid het Schneider nugter gebly oor die uitdagings wat voorlê.
“Ons is baie trots, want dit is ’n mylpaal waarop ons die afgelope drie jaar gefokus het. Maar dit is nie ’n sug van verligting nie, want daar lê nog klomp hekkies voor. Ons vat dit een vir een en elke hekkie is ’n mylpaal.”
Die onmiddellike prioriteit is om te bewys dat die aanleg, met al sy logistiek en personeel, daagliks 250 beeste kan slag, verkoel, ontbeen, verpak en in spesifieke besendings kan aflewer.
Voor die einde van April beoog Savanna om nog vraghouers met beide bevrore en verkoelde vleis na Europa te verskeep.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie