SA se invoerverbod op vars produkte opgehef
Boere het reuseverliese gely
                                    
                                                            Die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, het bevestig dat Suid-Afrika sy invoerverbod op sekere Namibiese akkerbouprodukte opgehef het, wat oorgrenshandel in onder meer tamaties, soetrissies, komkommers, waatlemoene en pampoene herstel het.
In ’n ministeriële verklaring Woensdag in die Nasionale Vergadering het Zaamwani gesê die verbod wat op 8 Augustus deur die buurland ingestel is, spruit uit fitosanitêre bekommernisse wat deur Suid-Afrika se Nasionale Plantbeskermingsorganisasie (NPPOZA) geopper is.
Namibië se eweknie, die Nasionale Plantbeskermingsorganisasie van Namibië (NPPONA), het die vereiste tegniese dokumentasie op 12 Augustus onmiddellik ingedien, wat later deur Suid-Afrika aanvaar is.
Tegniese heen-en-weer-gekibbel oor bykomende toesigdata en plaagdiagnostiek het egter die oplossing vertraag.
“Hierdie benadering het institusionele herstrukturering op die kortste moontlike termyn genoodsaak,” het Zaamwani gesê.
Sy het bygevoeg dat die ministerie reeds begin het om die personeelkapasiteit binne die direktoraat van plantgesondheid te verhoog om Namibië se reaksie op toekomstige biosekuriteitsaangeleenthede te versterk.
PRESIDENT GRYP IN
Sonder enige ooreenkoms op tegniese vlak, het die dispuut tot ministeriële en uiteindelik presidensiële vlakke geëskaleer, waar diplomatieke ingryping ’n einde aan die skorsing gebring het.
“Alle permitte wat voorheen teruggetrek is, is herstel en handel in die betrokke kommoditeite is amptelik op 23 Oktober 2025 hervat,” het Zaamwani aangekondig.
Sy het die uitkoms beskryf as ’n bewys van Namibië se plantgesondheidstelsels en van “die doeltreffendheid van bilaterale samewerking tussen ons twee lande”.
Die opskorting wat meer as twee maande geduur het, het ernstige ekonomiese skade aan Namibiese produsente veroorsaak.
“Ons boere het reuse- finansiële verliese gely, sowel as produkte wat bederf geraak het, veral van die twee hoofprodusente van tamaties,” het Zaamwani gesê.
Een van die grootste tamatieprodusente by Noordoewer, Sonop Farms, wat ook botterskorsies en tafeldruiwe verbou, het meer as 1 000 werkers in diens. Sy tamaties word na ses provinsies in Suid-Afrika uitgevoer en het ’n markaandeel van 12,6%.
Einde Augustus toe die grens gesluit is, het Sonop 700 ton tamaties vernietig. Sonop het hom tot die hooggeregshof in Pretoria gewend en tydelike goedkeuring gekry om sy uitvoer te hervat, maar Suid-Afrikaanse owerhede het die permit egter op 18 September weer opgeskort. Sonop was glo gereed met ’n dringende appèl, maar die regter het beslis dat dit nie dringend is nie.
TAFELDRUIWE
Met die tafeldruiwe-oes wat na verwagting oor ’n maand afgehandel sal word, het produsente selfs vir groter verliese gevrees. Die tydelike opskorting het ook druiwe-uitvoere bedreig wat staatmaak op Suid-Afrikaanse deurvoerroetes om Europese markte te bereik, sowel as meer as 20 000 werksgeleenthede en produsentevertroue ondermyn.
Zaamwani het die tydige ingryping deur president Netumbo Nandi-Ndaitwah geprys om lewensbestaan te beskerm en Namibië se beeld as ’n betroubare landbouhandelsvennoot te handhaaf.
“Dit het gehelp om die integriteit van die akkerbouwaardeketting te bewaar en ons gesonde bilaterale betrekkinge met ons grootste handelsvennoot en buurland, Suid-Afrika, te herbevestig,” het sy gesê.
Dit is nie die eerste keer dat Suid-Afrika ’n verbod op Namibië se vars produkte plaas nie. In 2008 is indringervrugtevlieë (Bactrocera dorsalis) ontdek, wat die wysiging van fitosanitêre invoervereistes vir alle gasheerprodukte genoodsaak het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie