SA neul oor invoerbeperkings

-
-
-

Die toenemende handelsbeperkings wat Namibië, Botswana en Mosambiek onlangs op Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer ingestel het, plaas die land se landboubedryf onder druk en kan streekhandel en ekonomiese stabiliteit in Suider-Afrika ondermyn.

Dit is volgens Wandile Sihlobo, hooflandbou-ekonoom van Agbiz in Suid-Afrika. Hy sê die vrye beweging van goedere behoort ’n kernvoordeel van die Suider-Afrika Doeane-unie (Sacu) te wees, en eensydige invoerbeperkings ondermyn dié beginsel.

Die beperkings raak onder meer Suid-Afrikaanse groente, vrugte en sekere pluimveeprodukte en skep onsekerheid vir produsente, terwyl duisende werksgeleenthede in die landbou- en logistieksektor in gevaar gestel word.

Hoewel dit Suid-Afrikaanse buurlande se plaaslike produksie kan ondersteun, skep dit spanning binne ’n doeneooreenkoms wat veronderstel is om sonder sulke hindernisse te funksioneer.

Met sowat 17% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer wat na die Sacu-streek gaan, kan voortgesette handelsbeperkings beduidende ekonomiese skade aan Namibië se suidelike buurland veroorsaak. Sacu is reeds in 1910 gestig en is die wêreld se oudste doeaneooreenkoms.

Sihlobo sê die optrede bots ook met die doelwitte van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA), ingevolge waarvan lande onderneem het om handelsversperrings teen 2030 te verwyder.

Volgens hom is daar geen grondslag vir die onlangse beperkings op groente, vrugte en sekere pluimveeprodukte binne ’n gemeenskaplike doeanegebied nie aangesien dit hoofsaaklik op nasionale ekonomiese oorwegings gebaseer is.

Sihlobo waarsku dat die beperkings spanning tussen handelsvennote kan vererger en die nut van Sacu kan verswak. 

Hy meen voedselproduksie en landbou in die streek is nou verweef en dat ’n gekoördineerde benadering nodig is om produksie te versterk en streekswaardekettings te bou, eerder as om handelsvloei te beperk.

Sihlobo beklemtoon dat hoëvlak-dialoog tussen die buurlande die verkose pad bly om die huidige wrywing te verlig en handelsvloei te herstel. 


WANINDRUK

Hokaai, moenie glo Suid-Afrika is ’n onskuldige party in die pruttende spanning tussen die lidlande van Sacu nie.

Donald MacKay, handelskenner en uitvoerende hoof van XA Global Trade Advisors, meen egter ’n wanindruk word oor die kwessie geskep as die skuld uitsluitlik by Suid-Afrika se buurlande gelê word.

“Sacu is tans heeltemal wanfunksioneel, maar dit is ’n ingewikkelde kwessie en beslis nie so eenvoudig soos om bloot buurlande daarvoor te blameer nie,” het hy gesê.

“As ’n mens werklik agter die kap van die byl wil kom, dan moet jy verskeie strategiese besluite wat voorheen geneem is, in ag neem.”

Hy wys daarop dat deurslaggewende komitees binne Sacu, wat juis veronderstel was om dit doeltreffend te laat funksioneer, nooit behoorlik gevestig is nie.

Een is ’n sogenaamde gesamentlike tariefraad, wat spesifiek verteenwoordigers van al die lidlande met die verantwoordelikheid sou opsaal om te bepaal presies watter soort tariewe gehef moet word op verskillende goedere wat die streek betree.

Boonop is ’n tribunaal vir geskilbeslegting steeds nie gestig nie.

“Suid-Afrika het die laaste paar jaar gereeld ’n stokkie voor die stigting van die tariefraad gesteek,” sê MacKay.

“Die gebrek aan ’n tribunaal is moontlik die groter kwessie, want dit beteken daar is geen meganisme beskikbaar aan byvoorbeeld Botswana en Namibië om ’n geskil op ’n innemende en gestruktureerde wyse te besleg nie.

“Ek glo dit is deels die rede vir die huidige spanning met betrekking tot die invoerbeperkings."

Dié institusionele leemte beteken dat Suid-Afrika in praktyk ’n oorheersende rol binne Sacu vertolk.

Teen dié agtergrond is dit volgens Mackay verstaanbaar dat buurlande toenemend hul eie markte, soos landbou in Botswana en Namibië, tans probeer beskerm, selfs al bots dit met Sacu se beginsels.

“Suid-Afrika baat uiteindelik meer, omdat hy oor die vervaardigingsinfrastruktuur vir verwerkte goedere beskik en dit aan buurlande verkoop, terwyl dit baie moeilik vir die ander lande is om hul eie bedrywe te ontwikkel,” sê Mackay.

“Dit sou beslis moontlik Botswana en Namibië se ingrypings kon verduidelik.”

Kommentaar

Republikein 2026-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer