Die landbouminister, Inge Zaamwani. FOTO Landbouministerie
Die landbouminister, Inge Zaamwani. FOTO Landbouministerie

Regering streef na minder landbou-invoere, sê minister

Werkverskaffing vir jeug
Namibië fokus op plaaslike produksie, werksgeleenthede vir die jeug en minder invoere om voedselsekerheid te verbeter.
Jacques du Toit
Die regering is vasbeslote om die invoer van vars groente te verminder, ongebruikte landbougrond te benut en meer jongmense by die landbousektor te betrek.

Dit het in die Nasionale Vergadering aan die lig gekom toe die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, op ’n reeks vrae van Lukato Lukato van die National Democratic Party (NDP) gereageer het.

Lukato het vrae gevra oor waarom Namibië steeds groot hoeveelhede vars groente invoer, terwyl baie bewerkbare grond onbenut is en jeugwerkloosheid aanhou styg. Hy wou ook weet wat die regering doen om hierdie uitdagings te takel.

Volgens Zaamwani is daar verskeie redes waarom Namibië steeds sekere vars groente invoer.

“Namibië voer steeds sekere vars groente in, hoofsaaklik weens seisoenale verskaffingstekorte, hoë produksie-insetkoste en beperkte besproeiingsinfrastruktuur,” het sy gesê.



AARTAPPELS

Sy het spesifiek na aartappels verwys, wat ’n groot invoerproduk is.

“Aartappels, een van ons belangrikste invoere, vereis produksie-insetkoste van meer as N$250 000 per hektaar en ons bly afhanklik van ingevoerde saad-aartappels, meestal van Suid-Afrika.”

Tog toon plaaslike produksie beduidende groei. “Namibiese boere voorsien tans 56% van die binnelandse vraag na groente,” het Zaamwani gesê.

Sy het die toename toegeskryf aan die markaandeelbevorderingskema vir plaaslik verboude groente en vrugte, wat sedert 2004 vereis dat invoerders minstens 47% van hul vars produkte plaaslik verkry.

“Ons doel is om daardie aandeel tot 60% teen 2030 te verhoog,” het sy bygevoeg.

Met betrekking tot onbenutte landbougrond, het Zaamwani gesê die ministerie is bewus van die uitdaging en werk daaraan.

“[Lukato] is heeltemal reg deur op te merk dat Namibië oor onderbenutte bewerkbare grond beskik. Ons stem saam dat dit moet verander.”

Sy het die groenskemaprogram as ’n sleutelstrategie uitgelig.

“Deur die groenskemaprogramme brei die ministerie besproeiingslandbou langs riviere, damme en boorgate uit.”

Die ministerie beplan ook om saam met tradisionele owerhede te werk om grond vir gemeenskapsbesproeiingskemas beskikbaar te stel.

Rakende jeugwerkloosheid, het Zaamwani beklemtoon dat landbou groot potensiaal het om werk te skep.

“Die ministerie beoog om jeugwerkskepping in die implementering van programme vir die ontwikkeling van die landbousektor te integreer.”

Dit sluit tegniese opleiding en die plasing van jongmense op kleinskaalse plase binne die groenskemaprojekte in.

“Verder werk ons saam met ander ministeries om te verseker dat staatsaankope van kos plaaslike boere bevoordeel, veral diegene wat deur staats- of streekskemas ondersteun word,” het sy gesê.

Zaamwani het ook aangekondig dat die hersiening van beleide en wetgewing beplan word.

“Die ministerie sal in die 2025-’26-boekjaar ’n hersiening onderneem van onder meer die Namibiese landboubeleid (2015), die groenskemabeleid en die regulasies van die akkerbounywerheidswet.”

Sy beklemtoon die land het steeds die reg om plaaslike produksie te beskerm.

“Graaninvoere word byvoorbeeld gedurende die plaaslike oesseisoen verbied. Ten spyte van klimaatsuitdagings. . . het hierdie beleid gehelp om boere se inkomste en marktoegang te stabiliseer.

“Ons is gereed om saam met gemeenskappe en belanghebbendes te werk om die volle potensiaal van Namibië se landbousektor te verwesenlik,” het sy afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer