Plantgesondheid kern tot voedselsekerheid
Ellanie Smit – Plantgesondheid is van kritieke belang om voedselsekerheid te bereik, die omgewing en biodiversiteit te beskerm en handel te fasiliteer.
Die landboubedryf moet daarom sy pogings verskerp om gewasbeskerming en -bestuur te integreer, het die uitvoerende direkteur van landbou, water en grondhervorming, Ndiyakupi Nghituwamata, onlangs gesê.
Sy het die opmerkings tydens ’n ondertekeningseremonie tussen die ministerie en die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) vir ’n projek getiteld “Fitosanitêre kapasiteitsevaluering en die vestiging van plantklinieke in Namibië” gemaak.
Fitosanitêr hou verband met die gesondheid van plante, veral met betrekking tot die vereistes van internasionale handel.
Die projek het ten doel om die prestasie van fitosanitêre stelsels in die land te verbeter deur die kapasiteit van plantgesondheid en relevante personeel in fitosanitêre maatreëls te versterk en gesondheidsklinieke in die Omusati-, Ohangwena, Kavango-Wes-, Hardap- en Zambezistreek te vestig. Die aktiwiteite sal teen ongeveer N$4 miljoen gefinansier word.
PLANTPLAE EN -SIEKTES
Nghituwamata het gesê die projek het ontstaan as gevolg van die indringing van nuwe spesies van plantplae en -siektes in Namibië wat glo deur klimaatsverandering en verhoogde handel veroorsaak is.
“Ons het almal ’n afname in die totale reën, wisselvallige reënval en langdurige droë tye as gevolg van klimaatsverandering waargeneem.”
Sy het gesê die verhoogde internasionale handel in vrugte, groente, graan en voortplantingsmateriaal, het Namibië se vatbaarheid vir plantplae verhoog en dit hou ’n bedreiging vir gewasproduksie in.
Sy het gesê dat die ministerie dus die tegniese ondersteuning van sy ontwikkelingsvennote, FAO, versoek het om fitosanitêre kapasiteitevaluering uit te voer.
Dit word gedoen in ’n poging om leemtes en uitdagings wat die ministerie in die gesig staar, te identifiseer, asook om plantklinieke te vestig wat boere sal help om enige plantplae te identifiseer, te beheer en aan te meld.
“Boere se gebrek aan inligting en kennis oor plantplae en -siektes wat gewasse beïnvloed, lei nie net tot verliese wat voedselsekerheid bedreig nie, maar dit verhoog ook die regering se koste om hierdie plae te bestry en te beheer.”
Nghituwamata het gesê dit is dus noodsaaklik dat boere toegang tot dienste en inligting oor plantplae en -siektes moet hê om op die regte tyd op te tree.
“Die ministerie is dankbaar teenoor FAO vir die ondersteuning van die vestiging van tien gesondheidsklinieke en om die afdeling verantwoordelik vir plantgesondheid te help om fitosanitêre kapasiteitsevaluering uit te voer.”
Sy het gesê dit sal help met die vinnige reaksie om plantplae en -siektes onder beheer te bring en te bestuur, asook om handel te fasiliteer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie