Plaaslike piesangs vir plaaslike mark

-
-
Loise Shiimi

Met 'n jaarlikse verbruik van 7 000 ton piesangs in Namibië en wat volledig sonder enige plaaslike produksie ingevoer is, het die Namibië Akkerbouraad (NAB), Avagro en die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming in 2025 verskeie navorsings- en ontwikkelingsinisiatiewe van stapel gestuur. Die doel was om te bepaal hoe goed piesanggewasse landwyd by die plaaslike klimaat aanpas.

Proewe vir die produksie van piesangs is in ses verskillende sones uitgevoer insluitend Singalamwe, Divundu, Tsumeb, Oshikoto, Etunda en Kunene, om te identifiseer watter een die geskikste vir piesangverbouing is. Piesangs is veral kwesbaar vir ryp. 

‘n Besoek van Network Media Hub (NMH) aan die proefprojek op Etunda het gewys die projek spog reeds met sy eerste kommersiële oes. 

Volgens NAB se uitvoerende hoof dr. Fidelis Mwazi, sal die oes aan die plaaslike mark verkoop word. Tans is piesangs ná appels Namibië se tweede gewildste vrug. Volgens die Namibiese Statistiekagentskap (NSA) het Namibië verlede jaar ongeveer N$47,5 miljoen aan piesanginvoere bestee wat die behoefte aan plaaslik geproduseerde piesangs verder ondersteun.

Volgens dr. Mwazi kan plaaslike boere nou hul eie  piesanggewasse begin verbou en wys alle aangewese proefpersele dat piesangs in Namibië se klimaat kan floreer. Mwazi sê die raad het aanvanklik N$13 miljoen belê en beplan om jaarliks ​​'n bykomende N$13 miljoen oor die volgende vyf jaar te belê. Dit dui op ‘n totale belegging van N$65 miljoen.

“Ons onderneem nie die projek alleen nie en het vennote wat ons ondersteun. Dit sluit in die ministerie van landbou wat grond vir al die proefpersele toegeken het, Avagro as ons tegniese vennoot wat die nodige weefselkultuur vir aanplanting verskaf, asook die  Universiteit van Namibië (Unam) wat as ons navorsingsvennoot vir saad- en produksiestudies dien,” het hy gesê.

Volgens Mwazi is die doel van die voortgesette proewe vir die produksie van piesangs om ten minste 80% te produseer van dit wat in Namibië verbruik word. 

Op Etunda is 1 104 saailinge geplant wat na verwagting ongeveer 30 tot 45 ton op 0,6 hektaar grond sal lewer. Mwazi sê sowat 200 hektaar sal nodig wees om 'n verskeidenheid piesangvariëteite te produseer en om voort te gaan met die proefprojek. 

Benewens piesangs, doen die raad ook navorsing oor saadsertifisering vir wit en geel mielies, koring en aartappels. Volgens dr. Mwazi is die inisiatief daarop gemik om plaaslike sade te ontwikkel wat goeie produksie lewer, ‘n verminderde vatbaarheid vir plae en siektes het en wat goed aangepas is vir Namibië se klimaat.

Hugo Raath van Avagro het boere aangemoedig om die verwante beamptes soos dié by NAB, te raadpleeg vir inligting voordat hulle die verbouing van piesangs sonder behoorlike kennis aanpak.

“Inligting is noodsaaklik, anders sal die oorgang na kommersiële boerdery uitdagend wees. Dit omdat daar spesifieke prosedures is om te volg wanneer gewasse verbou word en wat insluit die keuse van die beste kultivars in aanvraag, ‘n begrip van grondtipes, gemiddelde watervlakke, onderhoudsvereistes, ensovoorts,” het hy verduidelik.

Hy het boere wat piesangsaailinge van ander plaaslike boere koop, gemaan om duidelike inligting te bekom oor watter tipe dit is en hoe dit geplant is. - [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer