Omstrede heiningtender toegeken
Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) het die omstrede kontrak vir die veterinêre kordonheining in die Suide amptelik aan die tenderaar van N$122 miljoen toegeken wat tweede in die oorspronklike evaluering gelys was.
Punchu Trading CC in gesamentlike onderneming met (JV) China State Construction Engineering Co. Southern Africa (Pty) Ltd het die kontrak deur noodverkryging bekom nadat CPBN die oorspronklike mededingende tenderproses gekanselleer het.
Die CPBN-woordvoerder, Johanna Kambala, het die toekenning aan Punchu Trading CC JV China State Construction Engineering Co. Southern Africa (Pty) Ltd bevestig.
“Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) bevestig dat die projek aan Punchu Trading CC JV China State Construction Engineering Co. Southern Africa (Pty) Ltd, teen ’n kontrakwaarde van N$122 088 331,88 (BTW ingesluit) toegeken is.
“Hierdie kontrak is deur noodverkryging toegeken, soos volgens die kennisgewing van toekenning uitgereik op 7 September 2026,” het sy gesê.
Die toekenning is die onderwerp van ’n hoërhof-uitdaging deur China Jiangxi International (Namibia) (Pty) Ltd JV Homefin Properties CC, wat eerste gelys was in die oorspronklike mededingende tenderproses.
China Jiangxi JV Homefin het die hof genader en versoek dat die implementering van die noodtoekenning gestop word en dat CPBN se verkrygingsbesluite heroorweeg word.
Die dringende aansoek was aanvanklik vir 17 September op die hofrol geplaas.
Die regstryd spruit uit ’n tender wat deur die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming uitgereik is vir die oprig van ’n veterinêre kordonheining langs Namibië se grens met Suid-Afrika.
Die projek dek 155 kilometer langs die Oranjerivier en nog 30 kilometer tussen die Klein Menasse- en Mata Mata-grensposte in die ||Kharasstreek.
Intussen het bek-en-klouseer in die Karasburg-distrik in die ||Kharasstreek uitgebreek en na verskeie plase versprei.
’n Totaal van 23 maatskappye het elk ’n tender ingedien, met 11 tenderaars wat tydens die finansiële evalueringsfase as geskik beskou is en na die finansiële evalueringstadium deurgedring het.
’n Verslag van die CPBN se tenderevalueringskomitee (BEC), gedateer 18 Augustus en deur Republikein gesien, het China Jiangxi JV Homefin eerste onder die geskikte tenderaars geplaas.
Die gesamentlike onderneming se werklike bod was N$126,4 miljoen, insluitend belasting op toegevoegde waarde (BTW), maar die geëvalueerde prys is tot ongeveer N$120 miljoen verlaag nadat ’n voorkeurmarge toegepas is.
Punchu Trading CC JV China State Construction Engineering (Southern Africa), was tweede gelys met ’n geëvalueerde prys van N$122 miljoen.
Landmark Projects (Pty) Ltd JV Transact Investments CC, was derde gelys nadat sy gewysigde tender van N$131 miljoen teen N$125 miljoen geëvalueer is.
Volgens die evalueringsverslag het die BEC die tenderaars volgens die pryse van die laagste tot die hoogste met inagneming van die voorkeurmarge gerangskik.
CPBN het egter later die mededingende verkrygingsproses gekanselleer en na noodverkryging oorgegaan.
‘HOOGS ONREëLMATIG’
In hofstukke betwis China Jiangxi JV Homefin die wettigheid en billikheid van CPBN se hantering van die kansellasie en die daaropvolgende noodverkryging.
Die bewerings is betwiste aansprake voor die hoërhof en is nog nie as feitelike bevindings vasgestel nie.
“Die omstandighede rondom die kansellasie en die daaropvolgende toekenning was hoogs onreëlmatig; iets eienaardigs – in die ergste geval ’n simptoom van korrupsie en in die beste geval wanbestuur – het gebeur, ” beweer die maatskappy.
“Eerstens het CPBN die tenderproses in werklikheid gekanselleer voordat dit vertoë van die tenderaars aangevra het oor waarom dit nie die tenderproses behoort te kanselleer nie.
“Tweedens was CPBN se uitnodiging aan CJIN JV Homefin (en ander tenderaars, indien enige) om vertoë te rig voordat dit besluit het om die tenderproses te kanselleer, ’n skynvertoning,” lui die hofdokumente.
Die gesamentlike onderneming beweer die raad het versuim om die argumente wat deur China Jiangxi JV Homefin aangevoer is, behoorlik te oorweeg.
Die maatskappy het verder aangevoer dat selfs al het CPBN die vertoë oorweeg, dit versuim het om dit met die nodige aandag te beoordeel.
“CPBN het glad nie sy aandag gefokus op CJIN JV Homefin se vertoë (of dié van ander tenderaars, indien enige) nie en in die geringe geval dat dit wel gedoen het, was daardie toepassing irrasioneel en het dit die gepaardgaande relevante faktore, soos deur CJIN JV Homefin in sy vertoë uiteengesit, volkome geïgnoreer,” lui die hofdokumente.
Hulle beweer CPBN het versuim om aan die doelwitte van die wet op openbare verkryging te voldoen.
“CPBN het ’n billike prosedure openlik verontagsaam en omseil om ’n onwettige uitkoms te verkry,” het die maatskappy gesê.
Die gesamentlike onderneming het bevele gesoek om die implementering van die nuwe toekenning te verhoed terwyl sy uitdaging voor die hof is.
Dit het ook ’n interdik versoek om Punchu Trading CC JV China State Construction Engineering Co. Southern Africa te verhinder om die kontrak te sluit of die heiningprojek te implementeer.
China Jiangxi JV Homefin het verder gevra dat CPBN se kansellasiebesluit en die daaropvolgende noodtoekenning heroorweeg en uiteindelik hersien en tersyde gestel word.
KANSELLASIE
Op 7 September 2026 het die voorsitter van CPBN, Mary Shiimi, twee briewe onderteken – een wat alle tenderaars in kennis stel dat die tender gekanselleer is en ’n ander wat die maatskappy wat tweede gelys is – Punchu Trading CC JV China State Construction Engineering (Southern Africa) – in kennis stel om die toekenning te aanvaar.
In die kansellasiebrief het Shiimi gesê die tenderproses het nie die verwagte uitkoms gelewer nie.
“Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië stel u hiermee in kennis dat bogenoemde tender gekanselleer is ingevolge artikel 54(1)(g) van die wet op openbare verkryging, soos gewysig.”
Shiimi het gesê die kansellasie het op 3 September in werking getree ná die proses van voorneme om te kanselleer en skriftelike vertoë deur benadeelde tenderaars.
Die kennisgewing maak nie bekend hoeveel besware ontvang is, watter tenderaars dit ingedien het of watter gronde hulle aangevoer het nie.
In die afsonderlike toekenningsbrief het Shiimi gesê CPBN het by sy vergadering van 4 September 2026 besluit om die tender deur ’n noodverkrygingsprosedure toe te ken en Punchu Trading CC JV China State Construction Engineering (Southern Africa) versoek om dit binne sewe dae te aanvaar.
Gevolglik het Punchu, wat tweede in die oorspronklike mededingende evaluering gelys was, die kontrak van N$122,09 miljoen deur die daaropvolgende noodverkrygingsproses ontvang.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie