‘N$6,2 m. is nie by Amta gesteel’

Zaamwani ontken bedrog
Die landbouminister sê die regskoste was onder N$10 miljoen en sy wys eerder vingers na swak finansiële beheer.
Nikanor Nangolo

Die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, het die bewering ontken dat N$6,2 miljoen by die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta) gesteel is. 

Sy het in reaksie op vrae van die parlementslid van die Independent Patriots for Change (IPC), Michael Mulunga, einde verlede week gesê die aantygings is “nie ’n akkurate weerspieëling van die werklikheid op die grond nie”.

Die minister het volgehou Amta is nie vir N$6,2 miljoen bedrieg nie. 

“Inteendeel, as gevolg van onvoldoende en ondoeltreffende finansiële beheerstelsels en aanspreeklikheid, het derde partye en werknemers onbehoorlik voordeel getrek uit Amta se finansiële hulpbronne sonder beperking, wat gelei het tot ’n moontlike finansiële benadeling vir Amta van meer as N$6,2 miljoen.”

Zaamwani het gesê die dissiplinêre verrigtinge teen Amta se voormalige besturende direkteur,  Lungameni Lucas, en voormalige senior bestuurder vir finansies en logistiek het gevolg op ’n forensiese ondersoek deur PricewaterhouseCoopers (PwC), wat ernstige swakhede in die entiteit se finansiële beheer gevind het.

Volgens die minister het die forensiese oudit tot die gevolgtrekking gekom dat die Amta-bestuur destyds versuim het om die organisasie se finansiële sake met die vereiste omsigtigheid, sorg en ywer te bestuur, wat die finansiële hulpbronne kwesbaar gelaat het vir misbruik, verlies of verduistering deur werknemers en derde partye.

Sy het gesê die twee voormalige uitvoerende bestuurders is nie afgedank omdat N$6,2 miljoen weggeraak het nie, maar omdat hulle skuldig aan verskeie dissiplinêre aanklagte bevind is, insluitend vertrouensbreuk, growwe nalatigheid en versuim om die werkgewer se belange te beskerm.

Zaamwani het ook Mulunga se bewering verwerp dat die Amta-raad meer as N$10 miljoen aan prokureurs bestee het.

“Die dissiplinêre verrigtinge teen sy voormalige besturende direkteur en voormalige senior bestuurder vir finansies en logistiek het Amta nie N$10 miljoen gekos nie, maar aansienlik minder.”

Sy het bygevoeg dat regsverteenwoordigers slegs vir die dissiplinêre verhore, interne appèlle en verrigtinge voor die lantoor van die arbeidskommissaris betrek is, terwyl die forensiese ondersoek self deur PwC uitgevoer is.

“Die betrokke werknemers was senior hoofde en weens die senioriteit van hul poste, was die proses van nature ingewikkeld en het dit langer geneem. Gevolglik het Amta dit nodig geag om regsverteenwoordigers te betrek om hierdie verrigtinge te bestuur,” het Zaamwani gesê.

Die minister het die Amta-raad verder verdedig en gesê daar is geen bewys dat dit sy fidusiêre pligte geskend het deur prokureurs aan te stel nie.

“Daar is tans geen bewys wat aandui dat die Amta-raad sy fidusiêre pligte geskend het toe dit regsverteenwoordigers vir die dissiplinêre verhore waarby hierdie voormalige senior bestuurders betrokke was, betrek het nie.

“Gevolglik is daar geen grondslag om die raad aanspreeklik te hou nie,” het sy gesê.

Zaamwani het bygevoeg dat die ministerie geen hofuitspraak geïdentifiseer het wat die raad skuldig bevind aan wangedrag of prosedurele onreëlmatighede tydens die dissiplinêre proses nie.

Sy het aan die parlement bevestig ná die afdanking van die voormalige hoofde en die nie-hernuwing van ander geraakte kontrakte, Amta se finansiële bestuurstelsels, prosesse en aanspreeklikheid aansienlik verbeter het.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer