Mielies staan ongeoes op landerye
Die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta) sê die vertraagde staatsubsidie verhinder hom om graan by kleinskaalse boere aan te koop, wat veroorsaak dat gewasse ongeoes op die lande bly en produsente met toenemende verliese sit.
By die Uvhungu Vhungu-groenskema in Kavango-Oos staan mielies wat reeds vroeg in Mei geoes moes word, steeds op die landerye van 60 hektaar waar tien kleinskaalse boere maande later nog nie kon oes nie.
Die boere het vir dringende regeringsingryping gepleit en gewaarsku dat die vertragings sowel opbrengste as inkomste benadeel namate die gewasse in die landerye agteruitgaan.
“Ons bestaan hang hiervan af,” het Festus Nampala, een van die geraakte boere, gesê.
“Die mieliekoppe is gereed, insekte tas reeds die gewas aan, en die voginhoud daal. As die regering nie ingryp nie, gaan die situasie net vererger.”
Nampala het gesê boere het verwag om hul mielies kort nadat dit vroeg in Mei ryp geword het, te bemark, maar weke later wag hulle steeds dat die aankope begin.
“Tot nou toe het ons geen inkomste wat in ons sakke inkom nie,” het hy gesê.
“Teen hierdie tyd kon ons al glimlag en bank toe gaan, maar nou ly ons kinders ook, omdat ons hulle nie meer kan ondersteun nie,” het hy gesê.
Nampala het die regering versoek om dringend in te gryp en Amta in staat te stel om hul graan aan te koop voordat verdere verliese gely word.
’n Ander boer, Hedimbi Johannes, het gesê die langdurige vertraging verminder geleidelik die waarde van die gewas. Hy het verduidelik dat mielies wat te lank bly staan, vog verloor, wat tot laer gewig lei wanneer dit uiteindelik verkoop word.
“Hierdie mielies moes reeds geoes gewees het, maar dit staan nou al te lank,” het hy gesê.
“Wanneer die voginhoud te laag word, weeg die graan minder. Selfs al het jy ’n goeie oes gehad, eindig jy daarmee dat jy minder ton verkoop weens die verminderde gewig.”
Hy het gewaarsku dat die naderende Julie-winde die mielieplante kan laat omval voordat die oes begin, wat die gewas moeiliker maak om te oes en produksieverliese verhoog.
“Ons doen eenvoudig ’n beroep op die regering om ons deur Amta te help sodat dit ons mielies kan koop voordat nog meer daarvan verlore gaan,” het Johannes gesê.
Amta se waarnemende bestuurder vir bemarking en korporatiewe kommunikasie, Pasval Elijah, het vandeesweek aan Republikein gesê: “Die vertraging in die aanvang van graanverkryging is gekoppel aan die uitbetaling van die regeringsubsidie wat nodig is om graan vir die bemarkingseisoen te finansier en nie aan enige operasionele mislukking van Amta se kant nie.”
Sy het gesê die agentskap is in gesprek met die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming om die nodige fondse te verseker.
Amta het erken dat die vertraging kleinskaalse boere onder finansiële druk geplaas het, maar het vertroue uitgespreek dat graan steeds gedurende die huidige bemarkingseisoen, wat tot einde Oktober duur, aangekoop sal word.
Sy het gesê die agentskap en ministerie werk daaraan “om te verseker dat graanverkryging en van produsente op ’n wyse bestuur word wat die nadelige gevolge op kleinskaalse boere tot die minimum beperk”.
Die agentskap het produsente ook aangemoedig om alternatiewe markgeleenthede te ondersoek, insluitend kopers in die privaat sektor om die afhanklikheid van ’n enkele koper te verminder terwyl gesprekke oor die subsidie voortduur.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie