Meatco weer onder skoot

Polisie, prokureurs, politici betree dispuut
'n Saak van veediefstal het hoë vlakke van kommer, regstappe en politieke ondersoek ontlok.
Jacques du Toit
Die verdwyning van sowat 400 beeste van Meatco het ’n nasionale skandaal ontketen en betrek wetstoepassers, staatsdepartemente en die kantoor van die eerste minister.

Wat begin het as ’n vermoedelike veediefstalsaak, het nou verontrustende tekens van institusionele mislukking, politieke inmenging en ’n groeiende vertrouenskrisis rondom een van Namibië se belangrikste staatsbeheerde ondernemings aan die lig gebring.

Volgens interne dokumente van Meatco het die beeste van ’n private voerplaas, Linden Beef Voerkaal op die plaas Eendrag in die Hochfeld-omgewing verdwyn. Die voerkraal, wat deur David van der Linden bestuur word, het ’n ooreenkoms met Meatco om beeste van kommunale boere suid van die veterinêre kordonheining te bekom en te voer totdat hulle slaggereed was vir Meatco se abattoir in Windhoek.

Die waarnemende uitvoerende hoof van Meatco, Patrick Liebenberg, het in ’n amptelike brief gedateer 25 Junie geskryf dat die verdwyning van die beeste die eerste keer opgemerk is tydens ’n geskeduleerde oorplaatjieskandering op 1 Mei.

’n Tweede skandering- en telproses vanaf 20 tot 23 Mei het ’n beduidende tekort bevestig. Dit het Meatco aangespoor om die saak by die Namibiese polisie se veediefstaleenheid op Okahandja aan te meld.

Van der Linden is tans in aanhouding op Okahandja en staan tereg op dwelmverwante aanklagte nadat die polisie ’n daggaplantasie ter waarde van N$52 miljoen naby Hochfeld op die plaas ontdek het.

Meatco het intussen regstappe ingestel deur ’n prokureur wat volgens staatsbestedingsreëls aangestel is.

Terwyl die nuus van die vermiste beeste versprei het, het die eerste minister, Elijah Ngurare, ingegryp en ’n gedetailleerde verslag oor die voorval van die ministerie van finansies aangevra en glo sy kommer uitgespreek oor wat hy beskryf het as ’n “moontlike ineenstorting van interne beheer- en bestuursmeganismes” by Meatco.



INTERNE BEHEERMEGANISMES

In reaksie hierop het Liebenberg Meatco se interne beheermeganismes verdedig.

Hy het verduidelik dat Meatco se aankoop- en finansdepartemente maandelikse biologiese veetellings doen. Hierdie tellings word deur finansiële personeel geverifieer, met jaarlikse oudits van eksterne ouditeure en fisiese beestellings insluit, ondersteun deur oorplaatjieskanderings.

“Dis ’n duidelike geval van veediefstal en ongemagtigde verwydering van Meatco-beeste van die geregistreerde perseel,” het Liebenberg in sy verklaring gesê.

Nietemin het Meatco die ondersteuning van sy oudit- en risikokomitee versoek om polisiebystand te verkry, regstappe te neem om op die bates van Van der Linden beslag te lê en hofbevele te bekom indien toegang tot die beeste geweier word.

Die omstredenheid het ook die bestaande spanning by Meatco vererger. Voorsitter Sakaria Nghikembua het onlangs bedank en as rede die regering se inmenging in bestuursake aangevoer. Dit volg nadat die kabinet Meatco opdrag gegee om die voormalige uitvoerende hoof, Mwilima Mushokabanji, weer aan te stel, ’n besluit wat deur die raad as onwettig beskou word en in stryd is met regsadvies van die prokureur-generaal.

Mushokabanji se tydperk by Meatco het saamgeval met ’n skerp afname in markprestasie en groeiende finansiële probleme. Die kontrak met Van der Linden is in 2023 gesluit, juis tydens Mushokabanji se ampstermyn.

Vir nou fokus Meatco daarop om die oorblywende beeste vanaf Eendrag te verskuif.

“Meatco werk saam met die polisie en ’n prokureur om al die beeste na ’n ander voerkraal te verskuif,” het Liebenberg gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer