Meatco-wedloop verskerp

24 aansoekers vir toppos
Die direksie het tot dusver stilgebly oor die vordering van die werwingsproses.
Sonja Smith

Verskeie senior bestuurders en uitvoerende direkteure uit die openbare sektor ding na mee vir die toppos by Meatco, met die uitvoerende direkteur Michael Humavindu se naam ook in die hoed. 

Die onderneming in staatsbesit is sedert die vertrek van sy voormalige uitvoerende hoof, Mwilima Mushokabanji, sonder ’n vaste baas. Aansoeke vir die vaste pos van vyf jaar het op 29 Mei 2026 gesluit. 

Volgens Meatco se werwingskennisgewing soek die die instelling ’n kandidaat met minstens tien jaar se ervaring op senior uitvoerende vlak, met bewese blootstelling aan ’n landbou-onderneming, vleisverwerking of die verbruikersgoederesektor. 

“Bewese leierskap- en strategiese beplanningsvermoëns, ideaal met internasionale blootstelling binne ’n komplekse bedryfsomgewing in die vleisverwerkingsbedryf,” lui die advertensie. Die kennisgewing dui aan dat die Meatco-direksie of ’n afgevaardigde wat deur die direksie aangewys is, oor die proses sal toesig hou. Van kandidate op die kortlys sal vereis word om voorleggings te maak wat hul strategiese insig en leierskapsvermoëns aandui. 

“Die voorkeurkandidaat sal aan ’n omvattende keurings- en behoorlike ondersoekproses onderwerp word voor finale aanstelling,” lui die advertensie. 

Altesaam 24 kandidate het vir die pos aansoek gedoen. Meatco se direksie het tot dusver stilgebly oor die vordering van die werwingsproses. Vrae wat twee weke gelede aan die raad se adjunkvoorsitter, Stefanie de Klerk, gestuur is, het onbeantwoord gebly. 

Vandeesweek het die woordvoerder van die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, Romeo Muyunda, gesê die direksie sal na verwagting die aanbeveling aan die ministerie maak. 


DIE KANDIDATE

Onder die kandidate wat vir die pos aansoek gedoen het, is die uitvoerende direkteur in die ministerie van werke en vervoer, Michael Humavindu, ’n ekonoom van beroep. Hy het senior poste beklee by die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) en die Namibiese Mededingingskommissie (NCC). Hy het voorheen as uitvoerende direkteur in die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) gedien en voor dit as adjunk- uitvoerende direkteur verantwoordelik vir nywerheidsontwikkeling by die voormalige ministerie van handel en nywerheidsontwikkeling. 

Hy beskik oor ’n PhD-graad in ekonomie van die Umeå Universiteit in Swede, ’n MSc-graad in finansies en belegging van Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk en ’n MA-graad in ekonomie van Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika. 

“Ek is nie in staat om aan u versoek vir betrokkenheid oor hierdie saak te voldoen nie,” het Humavindu gesê toe hy vir kommentaar gekontak is. 

Meatco se bestuurder vir korporatiewe sake, Rosa Thobias, het ook vir die pos aansoek gedoen. Sy het in 2015 by Meatco aangesluit en het sedertdien verskeie senior rolle binne die korporasie beklee, insluitend bestuurder vir belanghebbende-verhoudinge en korporatiewe sake en later ’n leiersrol in navorsing en vernuwing. 

Thobias dien tans as hoof van korporatiewe sake. Haar kwalifikasies sluit ’n meestersgraad in korporatiewe strategie van die Universiteit van Pretoria in Suid-Afrika in. 

Albertus !Aochamub, Meatco se waarnemende uitvoerende hoof sedert September 2025, het ook vir die pos aansoek gedoen. As diplomaat het hy voorheen as Namibië se ambassadeur in Frankryk gedien, met akkreditasie aan Portugal, Spanje en Italië, asook as Namibië se permanente afgevaardigde by Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskap- en Kultuurorganisasie (Unesco). 

Hy was direkteur-generaal van die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC), uitvoerende hoof van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) en woordvoerder vir wyle president Hage Geingob.

!Aochamub het ’n meestersgraad in bedryfsadministrasie (MBA) en ’n BA-graad in joernalistiek en kommunikasie. 

Daar word ook verstaan dat Meatco se uitvoerende hoof vir strategie en besigheidsontwikkeling, Isaac Nathinge, in die wedloop is. Hy het in 2019 by die instelling aangesluit en het voorheen as sy uitvoerende hoof vir bemarking en verkope gedien. 

Sy kwalifikasies sluit in ’n MSc-graad in landbou-ekonomie van die Universiteit vir Landbouwetenskappe in Bangalore, Indië, en ’n BSc in landbou van die Universiteit van Namibië (Unam). Nathinge het ’n bestuursontwikkelingsprogram by Stellenbosch Universiteit se Sakeskool gedoen. 

Voor Meatco het Nathinge in die landbouministerie gedien, onder meer as waarnemende adjunkdirekteur vir landbouhandel en besigheidsontwikkeling. 


FINANSIëLE DRUK 

Die inkomende uitvoerende hoof sal op ’n kritieke tydstip by Meatco oorneem, met die staatsinstelling se jongste geouditeerde finansiële state wat sowel tekens van herstel as voortgesette finansiële druk toon. 

Vir die boekjaar geëindig 31 Januarie 2026 het Meatco se groepomset van N$1,865 miljard tot N$1,108 miljard gedaal. Die afname is grootliks toegeskryf aan ’n skerp daling in beeste beskikbaar vir slagting ná opeenvolgende droogtes en die herbou van Namibië se nasionale kudde. 

Beeste suid van die veterinêre kordonheining het met 53% gedaal, van 75 268 stuks in die vorige boekjaar tot 35 594 stuks gedurende die jaar onder oorsig. 

Ten spyte van die skerp daling in deurset en omset het Meatco ’n wins ná belasting van N$40,5 miljoen en positiewe bedryfskontantvloei van N$73,5 miljoen gerapporteer. 

Sy kontantreserwes het van N$86,2 miljoen tot N$128,3 miljoen toegeneem, terwyl produsente se ekwiteit van N$568,3 miljoen tot N$701,3 miljoen gestyg het. 

Verlede maand het die direksie die resultate beskryf as ’n bewys dat hul omkeerstrategie begin om resultate te lewer, ondanks die moeilike bedryfsomgewing. 

Die finansiële state toon egter ook die uitdagings waarmee die volgende hoof te kampe sal hê. Daarvolgens het onafhanklike ouditeure ’n wesenlike onsekerheid geopper oor Meatco se vermoë om as ’n lopende saak voort te gaan, met verwysing na ’n skerp dalende omset, opgehoopte verliese en die afwesigheid van ’n begrotingstoekenning van die regering vir die 2026-’27-boekjaar. Die korporasie se opgehoopte verliese het op N$134,4 miljoen gestaan.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-10-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer