Meatco slag tot middel Februarie nie

Boere verkoop eerder onder mekaar, op veilings
Dié stilstand kom te midde van sprake dat boere weier om hul beeste aan Meatco te verkoop.
Mathias Haufiku
Meatco het sy werkers ingelig dat slagbedrywighede tot middel Februarie gestaak sal word.

Dié stilstand kom te midde van sprake dat boere weier om hul beeste aan Meatco te verkoop weens lae pryse wat die semistaatsinstelling na bewering betaal asook bewerings dat die entiteit nie genoeg finansiële hulpbronne het om voorraad te koop nie.

Boere het sedertdien begin om hul beeste privaat onder mekaar en op private veilings te verkoop.

Die waarnemende president van die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), Amon Mutjiwee Kapi, het gister gesê die informele plaaslike vleismark is tans meer aantreklik vir boere suid van die veeartsenykordonheining (VCF) – ook bekend as die Rooilyn – as die formele mark.

“Boere sal eerder onder mekaar en op veilings verhandel omdat dit in besigheidsterme geen sin maak om lang afstande te ry om beeste teen lae pryse na Meatco te neem nie. As vakbond is ons bekommerd oor die stand van sake by Meatco en ons sal alles doen om hulle te help om in bedryf te bly, want ons boere het geen ander heenkome as Meatco nie, maar die pryse moet reg wees,” het hy gesê.

Ondanks al hierdie uitdagings is Mwilima Mushokobanji, uitvoerende hoof van Meatco, vol vertroue dat die entiteit se voortbestaan nie in

gedrang is nie.

Oor die besluit om slagbedrywighede te staak, het hy verduidelik: “Ons werk volgens blokslagting. Soms is daar veranderinge in produksie en ons moet werknemers inlig oor produksieplanne, daarom is die werknemers ingelig dat slagting op 15 Februarie sal voortgaan – volgens boere se besprekings.”

Hy het bygevoeg as daar boere is met beeste wat gereed is om geslag te word, “kan Meatco dit dadelik vat”. Een van die grootste uitdagings wat die maatskappy in die gesig staar, is sy onvoldoende deurset.

Vir Meatco om winsgewend te word en die Windhoek-abattoir te kan bedryf, moet hy minstens 60 000 beeste jaarliks slag, maar sedert 2020 het die maatskappy gemiddeld slegs 35 000 jaarliks geslag.

Mushokabanji het vandeesweek tydens ’n onderhoud met ons susterkoerant Namibian Sun gesê Covid-19 en die droogte moet die skuld kry vir Meatco se verknorsing. Dit omdat die maatskappy gedurende hierdie sukkeltye ’n premieprys betaal het vir beeste van swak gehalte.

VRESE VERERGER

Sommige Meatco-werknemers voel egter dat die uitvoerende hoof se optimisme ongegrond kan wees.

Onsekerheid heers glo onder personeellede, met sommige wat vrees dat die maatskappy hom binnekort tot afleggings sal moet wend om kop bo water te hou.

Hierdie vrese is Dinsdag verder vererger toe Meatco se meer as 700 werkers ’n teksboodskap van die maatskappy se grootmaatdiensverskaffer ontvang het.

Die boodskap het gelui: “Geagte produksiepersoneel, neem asseblief kennis dat daar hierdie week geen beesslagting en ontbening sal plaasvind nie”.

Die boodskap kom byna vyf dae nadat Mushokabanji die maatskappy se bestuur ingelig het dat geen beeste tot middel Februarie geslag sal word nie.

Op daardie bestuursvergadering, beweer ingeligtes, het die hoof ook voorgestel dat Meatco beeste van ’n derde party op krediet koop, wat in ’n later stadium terugbetaal sal word, en bo die normale betaalkoerse.

Tydens die onderhoud met Namibian Sun, ure voordat die massaboodskap aan werkers gestuur is, het Mushokabanji planne ontken om slagbedrywighede te staak of dat hy voorgestel het die maatskappy moet beeste op krediet teen ’n hoër koers deur ’n middelman koop.

KOMMUNIKASIEGAPING

Bronne in die maatskappy het ook verwys na ’n verdeeldheid tussen bestuur en laervlak-werkers; laasgenoemde glo na bewering dat die bestuur hulle nie genoegsaam oor bedryfskwessies raadpleeg nie.

Dis nie duidelik of die tweejaarlikse CEO’s Road Shows wat Woensdag bekend gestel is ’n poging is om die verhouding tussen die twee groepe te herstel nie.

Dié inisiatief is glo deel van Mushokabanji se betrekkingstrategie waardeur hy werkers op hoogte sal hou van verwikkelinge binne die besigheid.

Werkers sal ook die geleentheid kry om met die uitvoerende hoof te praat oor die maatskappy se vordering en planne wanneer hy die verskillende sake-eenhede besoek.

GEMENGDE REAKSIE

Nadat die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, vandeesweek gesê het ’n besluit moet geneem word oor die toekoms van die maatskappy omdat Meatco “in die intensiewesorgeenheid” is, wag waarnemers om te sien wat gebeur.

Die minister het Meatco ook daarvan beskuldig dat hy boere in die steek gelaat het en “hulle [boere] het dit nou in eie hande geneem en is besig om hul eie abattoirs te ontwikkel”.

Die Meatco-direksie se siening oor die prestasie van die maatskappy is egter strydig met Schlettwein s’n.

Die raadsvoorsitter, Adolf Muremi, het gister aan Namibian Sun gesê “die direksie is tevrede met die huidige situasie van die maatskappy”.

MEER KOMPETISIE

Met Meatco wat oor die jare finansiële probleme ervaar het – ondanks die feit dat hulle monopolie geniet het wanneer dit by die uitvoer van beesvleis kom – kan nuwe rolspelers soos Beefcor en Savanna Beef Processors se toetrede tot die vleisbedryf meer moeilikheid vir die maatskappy beteken.

Savanna Beef se nuwe beesvleisuitvoerabattoir sal na verwagting teen 2025 ten volle in bedryf wees. Beefcor se bedrywighede is reeds in volle swang, met die maatskappy wat tans ’n deel van die beesvleisuitvoerkwota na Noorweë geniet.

Namibië voer tans beesvleis uit na China, Noorweë, Suid-Afrika, Swede, die Verenigde State van Amerika en die Europese Unie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!