Meatco is 'n broodnodige deel van Namibië se vleislandskap, sê rolspelers. FOTO ARGIEF
Meatco is 'n broodnodige deel van Namibië se vleislandskap, sê rolspelers. FOTO ARGIEF

Meatco miljoene agter

Produsentevertroue glo ‘nog nooit so laag’
Die LPO het sy standpunt herhaal dat Meatco onontbeerlik deel van die Namibiese vleislandskap is, maar bly bekommerd oor die onderneming se onvermoë om deursigtig te wees.
Elvira Hattingh
Terwyl Meatco opnuut beloof het om werk daarvan te maak om ʼn agterstand in te haal in betalings aan beesprodusente, heers daar voortgesette kommer in die bedryf oor Meatco se klaarblyklike “onvermoë om deursigtige antwoorde op kwellende vrae te gee”.

Só gesels mnr. Thinus Pretorius, die voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO).

“Produsentevertroue in Meatco is laer as ooit – dit was nog nooit só laag nie,” het hy verlede week aan Republikein gesê.

Sowat tien produsente, aan wie Meatco gesamentlik N$25,8 miljoen vir langer as 30 dae skuld, het die koerant genader. Ander produsente in 'n ministeekproef (sien ook berig op bl. 4) was meer positief oor die organisasie. Agterstallige betalings maak byvoorbeeld kontantvloei 'n kopseer.

Meatco het by navraag gesê hy neem kennis van die agterstand in betalings aan produsente en dat die kwessie sy volle aandag geniet.

“Daar is baie uitdagings wat ons geraak het, soos logistieke vertragings, maar ons spits al ons energie daarop toe om seker te maak ons takel die probleem en haal die agterstand in,” het die woordvoerder, me. Rosa Thobias gesê.

Meatco wou egter nie Republikein se vrae beantwoord oor hoeveel geld dit op ʼn 60 dae of 90 dae basis aan produsente verskuldig is nie omdat dit “vertroulike sake-inligting aan die media sal blootstel”.

Thobias het gesê die organisasie doen sy bes om produkte te bemark tot voordeel van beesprodusente in die land en dat dit die voortgesette steun van produsente waardeer.

“Dit is ʼn duidelike bewys dat boere vertroue in Meatco as ‘n voorkeurmark het, vanweë die mededingende pryse wat Meatco vanjaar aan produsente betaal.”

WET EN KONTRAK

“Meatco is onontbeerlik deel van die Namibiese vleislandskap, maar hul onvermoë om deursigtige antwoorde op knellende vrae te gee, skep wantroue.

Terselfdertyd eerbiedig Meatco dikwels nie hul kontraktuele verantwoordelikhede teenoor produsente nie,” het Pretorius gesê,

“Daar bestaan ʼn bindende ooreenkoms – ʼn kontrak – tussen Meatco en sy produsente dat hulle binne 30 dae betaal sal word. Hierdie kontrak word dikwels nie eerbiedig nie,” het hy gesê.

Hy sê ʼn persepsie bestaan dat Meatco sy grootste produsente meer gereeld betaal, terwyl kleiner produsente se betalings dikwels vir tot 60 of 90 dae sloer.

Pretorius sê sake is duister oor altesaam hoeveeel geld Meatco tans aan produsente verskuldig is.

“Die inligting is nie vir ons toeganklik nie,” het hy gesê en bygevoeg dat produsente se algemene gevoel is dat hulle agterdogtig raak as “syfers weggesteek word”.

“Boonop is daar vir die derde agtereenvolgende jaar nie ʼn jaarvergadering nie – die eerste twee is as gevolg van die pandemie uitgestel, terwyl daar in Mei vanjaar kennis gegee is dat hierdie jaar se jaarvergadering na September verskuif word 'weens onvoorsiene omstandighede buite hul beheer’."

Pretorius sê buiten dat Meatco volgens wet ʼn jaarvergadering moet hou vyf maande ná die sluiting van die boekjaar, kon geeneen in die bedryf tot dusver ‘n bevredigende verduideliking kry van na watter “omstandighede” Meatco verwys nie.

Hy sê dit is die derde agtereenvolgende jaar wat produsente nie finansiële state gekry het wat deur ‘n jaarvergadering bekragtig en goedgekeur is nie.

“Die wat ons gekry het, is nie op ‘n jaarvergadering goedgekeur nie. Boonop lyk dit nie goed nie,” het hy oor Meatco se geldsake gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!