Photo Caption
Photo Caption

Meatco: Hou by BKS-maatreëls

Francoise Steynberg
// MK testing tag

Meatco verwelkom die jongste ontwikkelings rakende bek-en-klouseer (BKS) wat gister deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in ’n kennisgewing aangekondig is. 

Dit maak voorsiening vir die gedeeltelike opheffing van beperkings wat ingestel is na die opsporing van BKS in die Karasburg-distrik.

Die aankondiging volg op verskerpte toesig, vee-inspeksies en naspeurbaarheidswerk deur die veeartseny-owerhede. 

Voorlopige bevindinge dui daarop dat die siekte steeds tot die ||Kharasstreek beperk is. 

“Dit is belangrik dat vee wat van die besmette plaas na die Otjozondjupastreek verskuif is, suksesvol opgespoor en negatief vir BKS getoets is, wat beteken dat daardie kudde as vry van infeksie verklaar kon word,” sê Stephanie de Klerk, adjunkvoorsitter van Meatco, in ’n mediaverklaring. 

“Die hersiene maatreëls maak ook voorsiening vir slagting onder voorgeskrewe veeartsenykundige en bioveiligheidsvoorwaardes en laat die vervoer en handel van gespesifiseerde verwerkte diereprodukte landswyd toe.”

De Klerk sê “vir Meatco dui hierdie ontwikkelings op iets van groter belang vir Namibië se veebedryf: ons vermoë as land om vinnig en progressief op te tree om dele van die vee-waardeketting na normale bedrywighede terug te bring, word gerugsteun deur die stelsels vir dieregesondheids, toesig en naspeurbaarheid wat Namibië oor baie jare ontwikkel het.

“As ’n uitvoergerigte beesvleisbedryf is Namibië afhanklik van die voortdurende geloofwaardigheid van hierdie stelsels. Hulle is noodsaaklik, nie net vir siektebeheer nie, maar ook vir die beskerming van produsente en werknemers se lewensbestaan, die beveiliging van ons nasionale kudde en die behoud van vertroue in Namibiese beesvleis op plaaslike en internasionale markte.”

Sy sê Meatco sal voortgaan om ten volle met die DVS en ander belanghebbendes saam te werk en sal sy verkrygings-, slag- en markbedrywighede in lyn bring met die toepaslike veeartsenykundige vereistes.

De Klerk maan hoewel die jongste ontwikkelings bemoedigend is, vereis die situasie steeds waaksaamheid. 

“Meatco doen dus ’n beroep op produsente en alle belanghebbendes regoor die veewaardeketting om voort te gaan om ten volle te aan die maatreëls en riglyne te voldoen wat deur die veeartsenykundige owerhede uitgereik is.”



Kommentaar

Republikein 2026-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer