‘Meatco behoort nie hoë beesuitvoere te vier’

Fokus verskuif na waardetoevoeging
Die deurset van beeste het van 75 268 beeste in die vorige boekjaar tot 35 594 gedaal, terwyl inkomste met meer as N$757 miljoen afgeneem het.
Desmarius Hansen

Meatco het een van die moeilikste jare in die land se veeboerderybedryf oorleeef en winsgewend gebly, ondanks die feit dat 53% minder beeste verwerk is, aangesien opeenvolgende droogtes en die herbou van die nasionale kudde die aanbod skerp verminder het.

Die adjunkvoorsitter van die direksie van Meatco, Stephanie De Klerk, het by die algemene jaarvergadering Vrydag gesê die deurset van beeste het van 75 268 beeste in die vorige boekjaar tot 35 594 gedaal, terwyl inkomste met meer as N$757 miljoen afgeneem het – van N$1,865 miljard tot N$1,108 miljard. 

Ten spyte van die skerp daling het Meatco sy finansiële posisie versterk. 

“Ek is verheug om te rapporteer dat Meatco winsgewend gebly het, sy kontantreserwes van N$86,2 miljoen tot N$128,3 miljoen verhoog het en belange van aandeelhouers tot N$701,3 miljoen Opgehoopte verliese het met meer as N$40 miljoen verminder,” het De Klerk gesê.

Sy het die prestasie toegeskryf aan “versigtige finansiële rentmeesterskap, gedissiplineerde bestuur en die toewyding van ons werknemers en produsente onder buitengewoon uitdagende omstandighede”. 

Meatco vier vanjaar 40 jaar van diens aan Namibië se veesektor. Hoewel die finansiële resultate veerkragtigheid weerspieël het, het sowel die direksie as die regering beklemtoon dat Meatco se toekoms nie deur die aantal beeste wat verwerk word bepaal sal word nie, maar deur die waarde wat binne Namibië geskep word.

Die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, gesê die regering wil hê die veesektor moet verder beweeg as om bloot beeste uit te voer. 

“Ons moet verder beweeg as om sukses te meet aan die aantal beeste wat ons uitvoer en dit toenemend meet aan die waarde wat ons binne ons eie ekonomie skep. Dit beteken om plaaslike verwerking uit te brei,” het sy benadruk. 

“Dit beteken om landbou-verwerkingsbedrywe te versterk. En dit beteken om beleggings in produkte met toegevoegde waarde te verhoog.”

Zamwaani het gesê die benadering is volgens die regering se agenda vir nywerheidsontwikkeling en en die sesde nasionale Ontwikkelingsplan (NDP6), wat waardetoevoeging, ekonomiese diversifikasie en volhoubare werkskepping prioritiseer. 

De Klerk het dieselfde visie beaam: “Die volgende hoofstuk van Meatco sal nie bloot gedefinieer word deur die aantal beeste wat ons verwerk nie, maar deur die waarde wat ons vir produsente skep, die vertroue wat ons by ons belanghebbendes inboesem en die bydrae wat ons tot Namibië se ekonomiese ontwikkeling lewer.”

Die direksie het ook die regering se verbintenis verwelkom om die prysgelykmakingsfonds vir die noordelike kommunale gebiede in bedryf te stel en gesê dit het die potensiaal om deelname van produsente te versterk en die ekonomie van noordelike veeprodusente te laat groei.

“Die verhoging van plaaslike verwerking sal beleggings stimuleer, werk skep, vervaardiging versterk en verseker dat groter waarde uit Namibië se veehulpbronne binne ons eie ekonomie behou word,” het De Klerk bygevoeg.

Verder het Zaamwani ook die belangrikheid uitgelig om Namibië se dieregesondheidstatus te beskerm en dit beskryf as een van die land se grootste mededingende voordele. Sy het Meatco, veeboere en die direktoraat van veeartsenydienste in die landbouministerie gelukgewens met die volle benutting van Namibië se Noorweegse beesvleiskwota en die handhawing van toegang tot die winsgewende Europese Unie-mark. 

Die regering streef ook na hernude toegang tot die mark in die Verenigde State van Amerika (VSA), die herstel van uitvoere na China en die uitbreiding van handelsgeleenthede onder die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA). 

Die minister het gewaarsku dat die beskerming van uitvoermarkte daarvan afhang dat streng dieregesondheidstandaarde gehandhaaf word. “Bek-en-klouseer is nie net Meatco se stryd nie, dit is Namibië se stryd.”

Sy het bygevoeg dat Namibië se dieregesondheidstatus “die fondament is waarop ons uitvoerbedryf gebou is” en “’n ekonomiese noodsaaklikheid” wat voortgesette belegging in siektetoesig, biosekuriteit, bewegingsbeheer en vinnige reaksievermoë vereis.

Landboukenner Wallie Roux het op navraag van Republikein sy mening oor die stand van sake by Meatco gegee: “Enige persoon wat al Meatco se finansiële verslagdoening in die media gesien het, weet dat die organisasie uiters ekonomies is met die ware toedrag van sake. 

“Verder is dit interessant hoe hulle reddingsboeie vanaf die regering in die finansiële state hanteer, asook toekomstige finansiële hulp van die regering in hul beplanning inwerk. Dit is seker waarom die direksie van Meatco verskil met die opinie van die ouditeure.”

Oor NDP6 sê Roux “nog geen NDP het ooit die gestelde doelwitte bereik nie. Om nou in dié verband te praat van hervatting van uitvoere na China en Amerika klink meer idealisties as realisties”.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer