LLPBN: Namibië het voorsorg teen BKS getref
Alhoewel die voortgesette voorkoms van bek-en-kouseer (BKS) in Suider-Afrika rede tot groot kommer is, benadruk die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad van Namibië (LLPBN) dat streng voorsorgmaatreëls reeds in plek is om Namibië te beskerm.
Dr. Anja Boshoff-De Witt, die LLPBN se hoof vir gehalteversekering, het bevestig Namibië het toegang tot entstowwe om vee teen BKS in die noordelike siektebeheersones in te ent.
“Ons kry ook ons entstof van die Botswana-entstofinstituut,” het sy verlede week aan Agri Monitor gesê.
Ingevolge 'n driejaar-voorsieningsooreenkoms met die Botswana-entstofinstituut het Namibië in 2025 altesaam 3,8 miljoen BKS-entstofdosisse ter waarde van N$60,7 miljoen ontvang.
NOODVOORRAAD
Volgens Namibië Landbou-unie (NLU) beskik die direktoraat veeartsenydienste (DVS) oor ’n omvattende gebeurlikheidsplan wat onmiddellik geïmplimenteer sal word indien ’n uitbreking voorkom.
“’n Noodvoorraad met alle nodige toerusting is reeds gevestig en kan vinnig landswyd in die land ontplooi word. Belanghebbendes soos die Namibiese weermag (NDF), Namibiese polisie, produsente en die private sektor vorm almal deel van hierdie gekoördineerde reaksiespan."
Die NLU maan hoewel waaksame en proaktiewe maatreëls noodsaaklik is om Namibië se BKS-vrye status te handhaaf, moet die situasie kalm en verantwoordelik hanteer word.
Die organisasie moedig alle belanghebbendes aan om nugter te bly, paniek, gerugte en waninligting te vermy en ontwikkelings binne hul onderskeie konteks te beskou.
Vir die NLU is dit belangrik om die risiko wat dit vir die vee, bestaansmiddele en die breër ekonomie van Namibië inhou, te erken, maar “alhoewel BKS steeds in dele van Suider-Afrika voorkom, is dit belangrik om daarop te let dat Namibië, insluitend beide die beskermings- en besmette sones, vry van die siekte bly,” lui die NLU se jongste nuusbrief.
“Die BKS-vrye sone suid van die veeartsenykundige kordonheining (VCF) word tans omring deur gebiede wat nie ’n onmiddellike bedreiging inhou nie."
BOTSWANA
Botswana het ’n bevestigde geval langs sy oostelike grens met Zimbabwe aangemeld, "soortgelyk aan ’n uitbreking wat ongeveer twee jaar gelede plaasgevind het,” sê die NLU.
Hierdie gebied is geïsoleer en die oorblywende BKS-vrye sones bly onaangeraak. Alle veebeweging binne Botswana is ook opgeskort.
“’n Uitgebreide gedeelte van die Namibië-Botswana grens is deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS), met ondersteuning van die LLPBN, geëlektrifiseer om dierebeweging en kontak tussen die lande te voorkom.”
Tot dusver is geen gevalle van BKS in die Noord-Kaap-provinsie van Suid-Afrika, wat aan Namibië grens, aangemeld nie.
“Toe die eerste gevalle in Suid-Afrika geïdentifiseer is, het Namibië onmiddellik opgetree en verskerpte grens-biosekuriteitskontroles ingestel om te voorkom dat die virus die land inkom,” verseker die NLU.
Onder meer mag geen diereprodukte sonder ’n geldige permit Namibië ingebring word nie en alle besoekers moet enige sodanige produkte verklaar, wat indien nodig gekonfiskeer en vernietig kan word.
Verder word die sole van reisigers se skoene by grensposte en lughawens ontsmet en die onderstelle, modderskerms en bande van alle voertuie word ontsmet.
“Die BKS-virus kan vir lang tydperke in organiese materiaal soos modder of mis oorleef, wat hierdie maatreëls noodsaaklik maak.”
By grensposte soos Noordoewer en Ariamsvlei werk owerhede, met die ondersteuning van die private sektor, aan meer permanente ontsmettingsprosesse met veelvuldige stappe, volgens die NLU.
GROOTSTE RISIKO OP PLAASVLAK
Boshoff-De Witt benadruk elke produsent speel ’n belangrike rol om die land se siekte-vrye status te beskerm.
“Boshoff-De Witt waarsku dat die grootste risiko dikwels op plaasvlak lê. Reisigers wat hoërisikogebiede in Suid-Afrika besoek het, veral plase, veilings of voerkrale, kan onwetend die virus op hul skoene, klere en selfs in hul lugweë dra en die siekte versprei," lui die nuusbrief.
“Daarom behoort enige reisiger na Namibië, of terugkerende burgers wat hoërisiko-gebiede besoek het, waaksaam te wees om te ontsmet en direkte kontak met vee vir minstens vyf tot sewe dae te vermy.
“Boshoff-de Witt raai boere aan om geskikte klere en skoene te gebruik wanneer hulle met diere werk en dit gereeld te ontsmet.”
Van die wenke is goedgekeurde ontsmettingsmiddels, soos wassoda-oplossings in die korrekte verdunning, wat vir voetbaddens en voertuigontsmetting gebruik kan word. Vragmotors wat vee of voer aflewer, moet altyd ’n geldige was- en ontsmettingsertifikaat voorlê, en seëls op voervragmotors mag slegs deur ’n veeartsenykundige beampte gebreek word.
"Boshoff-De Witt doen ’n beroep op die publiek om hulle daarvan te weerhou om vals inligting op sosiale media te versprei, aangesien dit onnodige paniek kan veroorsaak," herhaal die NLU.
Enige vermoedelike gevalle moet onmiddellik aan die plaaslike staatsveearts gerapporteer word, wie se instruksies nougeset gevolg moet word.
“Deur streng biosekuriteitsmaatreëls, verantwoordelike reisgedrag en die nakoming van amptelike riglyne, kan produsente help om te verseker dat Namibië se veebedryf beskerm bly,” sê die NLU.
– NLU


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie