Landelike veiligheid onder die loep

-
-
Francoise Steynberg

Veediefstal, wildstropery, ongereguleerde hommeltuie, gebrekkige internetkonnektiwiteit en landelike veiligheid is van die kwessies waaronder die landbougemeenskap voortdurend gebukkend gaan.   

Lede van die gesamentlike misdaadvoorkomingsforum (JCPF) en senior leiers van die Namibiese polisie (Nampol) het onlangs op Otjiwarongo oor landelike veiligheid vergader, waartydens verskeie nuwe kwessies oor landbouveiligheid ter tafel gelê is.

Die vergadering is deur Nampol se adjunk- inspekteur-generaal van operasies, generaal-majoor Elias Mutota, gelei en deur die goewerneur van Otjozondjupa, John //Khamuseb, geopen. 

Polisiehoofde uit die verskillende streke, ondersteun deur ’n sterk afvaardiging van die hoofkantoor in Windhoek, het saam met die bestuur van drie van die vier landbou-unies en verteenwoordigers van vyf plaasdistrikte byeengekom. 

Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) se jongste weeklikse nuusbrief het lede die notules van vorige vergaderings hersien voordat nuwe sake getakel is.


HOMMELTUIE

’n Nuwe agendapunt was die toenemende teenwoordigheid van ongereguleerde hommeltuie in die Namibiese lugruim. 

“Hoewel deelnemers kommer oor onwettige hommeltuie gebruik uitgespreek het, het hulle ook die regmatige voordele van hierdie tegnologie erken. 

“Die afgevaardigdes het tot die gevolgtrekking gekom dat daar tans min duidelikheid is oor hoe hommeltuie gereguleer behoort te word.” 

Volgens die NLU het lede ’n duidelike onderskeid tussen kommersiële en ontspanningsgebruik aangevra, asook riglyne oor die wettigheid van die hommeltuigbedryf wat, ter ondersteuning van wetstoepassing, deur die direktoraat van burgerlugvaart in die ministerie van werke en vervoer verduidelik behoort te word. 

“Daar is opgemerk dat daar tans geen wetgewing in plek is om die gebruik van hommeltuie te reguleer nie.”

Polisieverteenwoordigers het boere aangemoedig om deel te neem aan georganiseerde strukture teen landboumisdaad, soos plaaswagte, buurtwagte of soortgelyke liggame wat onder die sambreel van die JCPF funksioneer. 

Die NLU sê waardering is vir die forum uitgespreek en daar is benadruk dat dit die polisie in staat stel om met ’n enkele, verenigde stem met ’n breë groep verteenwoordigers te skakel.

Die polisie het volgens die NLU ook verhoogde sigbaarheid en teenwoordigheid op grondvlak beklemtoon ten einde wetstoepassing meer doeltreffend te maak en onderneem om die vertragings wat prosesse in die verlede belemmer het, te vermy.


KONNEKTIWITEIT

Landelike konnektiwiteit is as ’n beduidende struikelblok geopper. Die vergadering het versoek dat Nampol die regering nader om diensverskaffers wat satellietnetwerkdekking na landelike gebiede kan uitbrei, gunstig te oorweeg. “Daardeur kan kameras en kommunikasie tussen boerderygemeenskappe en die owerhede moontlik gemaak word,” meen die unies.

“Hoewel dit nie formeel op die agenda was nie, het die moontlike instelling van ’n spesiale hof om wildstropery en veediefstal te hanteer, breë steun geniet. 

“Deelnemers het saamgestem dat die opsie ondersoek behoort te word om die betrokke prosesse en uitkomste meer vaartbelyn te maak en het versoek dat onwettinge veeslagting en -handel meer professioneel deur spesialiste hanteer word,” lui die nuusbrief.

Lede het ook die verkryging van DNS van diere en die samestelling van ’n DNS-databasis bespreek, sodat identifikasie makliker uitgevoer kan word wanneer misdaadtonele ondersoek word.

//Khamuseb het die belangrikheid van die landbousektor vir Namibië beklemtoon, aangesien die meerderheid van die land se bevolking daarvan afhanklik is. 

Daar is ooreengekom om die vergadering jaarliks te hou en ’n memorandum van wedersydse verstandhouding sal in Windhoek onderteken word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer