FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAF
FOTO TER ILLUSTRASIE/VERSKAF

Landelike Namibië se geduld raak op met konnektiwiteit

Boere is hande in die hare
Die vier landbou-unies sê hierdie gebrekkinge internetverbindings het dringend ’n duidelike padkaart nodig.
Francoise Steynberg

NLU

Vir meer as ’n jaar en ’n half het Namibië se landbousektor in goeder trou met die die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) geskakel. 

In Februarie 2025 het vier nasionale landbou-unies, waaronder die Namibië Landbou–unie (NLU), Cran gesamentlik genader om kommer oor telefoon- en datakonnektiwiteit in landelike Namibië te opper. Sestien maande later het die prentjie nie verbeter nie. In sekere gebiede het dit selfs versleg.

Cran was duidelik oor sy verbintenisse. In Julie 2025 het hierdie liggaam bevestig dat Telecom Namibia opdrag ontvang het om alle WiMAX-dienste vir landelike gebiede binne ’n tydperk van 24 maande te migreer en dat ’n plaasvervanger met die skryf hiervan steeds “in die proses van verkryging” was. 

Vir die boere, lodge-eienaars en landelike ondernemings wat hierdie gaping daagliks beleef, is “in die proses van verkryging” nie ’n plan nie. Dit is ’n patroon van wag-en-kyk, met oënskynlik geen einddatum en geen bekostigbare en betroubare alternatief nie.

Ons sien wat sulke wagperiodes op grondvlak beteken. ’n Boer in die Noorde is maande lank tussen diensverskaffers en Cran heen en weer gestuur oor ’n gebrekkige internetverbinding, terwyl elke party die skuld na die volgende verskuif het. 

Hy het dit soos volg aan Cran opgesom: “Dit lyk asof die een party die probleem na die volgende afskuif en dat daar gevolglik niks gedoen word om ons te help nie. Ons word aangesê om vorms in te vul en klagtebriewe in te dien, wat teen hierdie tyd na vertragingstaktiek lyk.”

Hierdie is ongelukkig nie ’n geïsoleerde frustrasie nie. ’n Ander boer in Otjozondjupa het sedert 2014 geen funksionerende telekommunikasiediens van enige verskaffer nie. Dit is 12 jaar. 

’n Gemeenskap van 26 plase in die Uhlenhorst-omgewing het 14 maande in tussen 2024 en 2025 daaraan bestee om in detail ’n mobiele netwerk te dokumenteer wat opgradering na opgradering belowe het, terwyl die sein, in hulle eie woorde, “swak, onbetroubaar, wisselvallig, kragteloos, minderwaardig en sonder enige positiewe vooruitsig op ’n oplossing” gebly het. 

Dit is nie anekdotes nie. Dit is ’n patroon wat oor jare en oor streke heen voortduur. Ongeag watter operateur betrokke is, bly die landelike

gemeenskappe met konnektiwiteit sukkel.

’n Aantal lae-aardbaan (LEO)- diensverskaffers is deur Cran goedgekeur om hul dienste te lewer. Dié kom egter teen ’n koste wat vir die gewone Namibiër onbekostigbaar is. Ons verwys na installasie en maandelikse intekenkostes wat eenvoudig buite die bereik van die meerderheid van die bevolking val.

Ons erken dat Cran nie elke veranderlike beheer nie en neem kennis van diensverskaffers wat infrastruktuur- en kostebeperkings aanvoer. Ons erken ook dat konnektiwiteitsprobleme nie uniek is aan landelike Namibië nie.

Cran se eie onlangse ingryping by Telecom Namibia oor landswye diensonderbrekings tussen Januarie en Mei 2026 toon dat die land se konnektiwiteitsprobleem veel wyer strek as die gebiede waar lede van landbou-unies boer.

Ons verwelkom daarom die Cran-mediaverklaring van 4 Junie 2026, wat Telecom Namibia aanspreeklik hou om diens van goeie gehalte te lewer. 

Dit was ’n duidelike opdrag om korttermynmaatreëls in te stel om sy diens reg te stel en te verbeter.

Landbou is nie ’n stokperdjie nie. Dit is bankdienste, logistiek, verslae wat moet ingestuur word oor bioveiligheid, noodoptredes en toenemend die datastelsels wat vee en produkte na die mark laat beweeg. 

’n Boer wat nie betroubaar ’n oproep kan maak nie, kan nie tydens ’n veldbrand om hulp roep nie, kan nie veediefstal in reële tyd aanmeld nie, kan nie ’n betaling verwerk nie en kan nie meeding nie. 


NIE ’n LUUKSE, MAAR NOODSAAKLIKHEID

’n Ten volle funksionele telekommunikasie kan nie langer as ’n luukse hanteer word nie. Dit is, in Cran se eie woorde, ’n absolute noodsaaklikheid.

Ons vra nie dat Cran sy reguleringsraamwerk laat vaar nie. Ons vra ook nie dat een operateur of tegnologie bo ’n ander bevoordeel word nie. 

Ons vra Cran, en die diensverskaffers, om ses daadwerklike dinge te doen:

• Verseker dat korttermynmaatreëls ingestel word om tekortkominge onmiddellik aan te spreek;

• Verseker dat daar medium- tot langtermynstrategieë vir Namibië is;

• Publiseer ’n duidelike, gedateerde padkaart vir landelike konnektiwiteit eerder as ’n “in proses”-status;

• Doen gereeld in die openbaar verslag oor die gehalte van diens in landelike gebiede, gemeet teen dieselfde standaarde wat nou in stedelike gebiede toegepas word;

• Skakel direk en sigbaar met die landelike gemeenskappe wat hierdie kwessies al meer as ’n jaar lank deur elke formele kanaal tot hul beskikking opper;

• Implementeer bekostigbare en betroubare satellietkonnektiwiteit vir landelike Namibiërs.

Namibië se boere het nie om spesiale behandeling gevra nie. Hulle het gevra vir wat belowe is en dat dieselfde aanspreeklikheid wat nou van Telecom Namibia geëis word, uitgebrei word na die landelike gemeenskappe wat die land voed.

Cran, Namibië reken op julle om die landelike konnektiwiteitsuitdagings so gou moontlik op te los, sodat Namibiërs nie agtergelaat word nie.

Kommentaar

Republikein 2026-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer