Landboukwessies onder die loep met minister

Vier landbou-unies, Zaamwani vergader
'n Amptelike vergadering met die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Fillemon Wise Emmanual, is vir vandag geskeduleer waar die boere-unies sal pleit dat in-natura byvoordele vir plaaswerkers by die nasionale minimumloon ingereken moet word om 'n gelyke speelveld tussen sektore te verseker.
Francoise Steynberg
Namibië se vier landbou-unies het onlangs ’n gesamentlike vergadering met die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani gehou, om die mees dringende landboukwessies direk met die ministeriële leierskap te bespreek.

Die doel was om die vernaamste kwessies wat landbou raak, voor te lê, die ministerie se standpunt te verstaan, samewerking te versterk en te verseker dat die sektor se prioriteite duidelik oorgedra word.

Die vier unies – die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boere-unie (Necfu), die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibië Landbou-unie (NLU) en die Unie vir Voorheen Benadeelde Kommersiële Boere (PDCFU) – het beklemtoon dat verbeterde samewerking tussen die vier organisasies reeds sigbare voordele oplewer.

"Fragmentasie binne die landbousektor het afgeneem en daar is ’n sterk samehorigheidsgevoel binne die bedryf. Die unies tree toenemend gesamentlik op om beleid te beïnvloed en met één stem op te tree oor sake waar hul belange ooreenstem," lui die jongste nuusbrief van die NLU.

"’n Verdere sukses is die gesamentlike organisering van nasionale geleenthede en sektorwye aktiwiteite, wat volgens die minister ’n belangrike stap is om die sektor verenig en gefokus te hou. Ten spyte van hierdie positiewe ontwikkelings bly verskeie beduidende uitdagings die landbou beïnvloed."

Die unies het die volgende uitgelig:

- ’n Gebrek aan behoorlike konsultasie deur verskeie regeringsministeries wanneer nuwe beleid ontwikkel word.

- Stadige en dikwels problematiese implementering van programme wat die landbou raak.

"Hierdie uitdagings ontstaan nie altyd binne die ministerie van landbou nie, maar beïnvloed steeds die sektor se doeltreffendheid."

Die gesprek het op drie breë kategorieë gefokus: kern-landbouaangeleenthede, eksterne faktore wat landbou beïnvloed asook die vestiging van ’n raamwerk vir toekomstige samewerking.

1. Ekonomiese groei en die rol van landbou

Die teiken van die sesde nasionale ontwikkelingsplan (NDP 6) is om landbou se bydrae tot die bruto nasionale produk (BBP) van 4.8% tot 8% te verhoog. Om dit te bereik, sal sterk samewerking regdeur die sektor vereis word

2. Finalisering van die nasionale droogtebeleid

Alle partye het saamgestem dat Namibië dringend ’n volledig afgehandelde en implementeerbare nasionale droogtebeleid benodig. Die beleid moet nie net op papier bestaan nie, maar duidelike stappe uiteensit:

3. Voorkoming van die verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) na Namibië

Die grootste risiko tans vir die landbousektor in Namibië is die moontlike verspreiding van BKS na die land. Só ’n uitbreking sal ’n ekonomiese ramp veroorsaak wat vergelykbaar is met die impak van Covid-19. Alle belanghebbers moet proaktief saamwerk, onder leiding van die direktoraat van veeartsenydienste, om dit te voorkom.

4. Ontsluiting van geleenthede noord van die veterinêre kordonheining

Nog ’n fokusgebied was die strategiese belang van die ontsluiting van geleenthede noord van die veterinêre kordonheining. Die unies het beklemtoon dat:

- Ekonomiese geleenthede in die noordelike streke ontwikkel moet word.

- Staatsinstellings verantwoordelikheid moet neem om meetbare resultate te lewer.

- Die instandhouding, herstel, elektrifisering en algehele integriteit van die veterinêre kordonheining dringende aandag verg.

5. Nasionale minimumloon

Tydens die vergadering is ook verwys na die nuwe nasionale minimumloon vir Namibië, wat op 1 Januarie 2025 in werking getree het, nadat dit op 7 Augustus 2024 in die Staatskoerant gepubliseer is. Die nuwe minimumloon bepaal dat alle werkers minstens N$18 per uur moet ontvang.

Die landbousektor het egter ’n driejaar-infaseringsperiode gekry:

- 2025: N$10 per uur (bestaande bedrag)

- 2026: Ten minste N$14 per uur

- 2027: N$18 per uur

Hoewel baie ervare plaaswerkers salarisse ontvang wat reeds bo die minimumloonvlak val, lê die grootste bekommernis by nuwe, onervare werkers, veral skoolverlaters, wat moontlik nie meer in diens geneem gaan word nie as gevolg van verhoogde koste.

Die unies het sterk beklemtoon dat plaaswerkers bystandvoordele ontvang wat nie in ander sektore gegee word nie, soos

- Gratis behuising

- Kosvoorsiening

- Water

- Vuurmaakhout

- Ander noodsaaklike lewensmiddele

Hierdie voordele verhoog die totale indiensnemingskoste aansienlik, wat beteken dat die werklike koste per plaaswerker nou hoër is as in ander sektore.

Die unies het gewaarsku dat hierdie ongelykheid kan lei tot:

- Werksverliese in landbou

- ’n Styging in landelike werkloosheid

- Minder indiensneming van jong en onervare werkers

’n Amptelike vergadering met die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Fillemon Wise Emmanual, is vir vandag geskeduleer, waar die unies sal pleit dat in-natura byvoordele vir plaaswerkers by die nasionale minimumloon ingereken moet word om ’n gelyke speelveld tussen sektore te verseker. – NLU

Kommentaar

Republikein 2025-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer