Die vier boere-unies en die Namibiese polisie staan saam om landelike veiligheid te bevorder. Foto verskaf
Die vier boere-unies en die Namibiese polisie staan saam om landelike veiligheid te bevorder. Foto verskaf

Landbou-unies, Nampol staan saam teen veediefstal

Landelike veiligheidstrategie bevorder
Die deelnemende boere-unies sal die implementering van die landelike veiligheidstrategie fasiliteer deur ’n nasionale struktuur vir landelike veiligheid te skep.
Francoise Steynberg

Landbou-unies in Namibië en die Namibiese polisie (Nampol) het onlangs ’n memorandum van verstandhouding (MOU) onderteken om 

landelike veiligheid te versterk. 

Die geleentheid is deur die leiers van Nampol by die hoofkantoor in Windhoek en elk van die vier deelnemende landbou-unies, die Namibië Landbou-unie (NLU), Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boerevereniging (Necfu) en die Boere-unie vir Voorheen Benadeelde Kommersiële Boere (PDCFU) bygewoon.

Die MOU is namens Nampol deur die waarnemende inspekteur-generaal van Nampol, generaal-majoor Anne-Marie Nainda, onderteken.

Die doel daarvan is om ’n samewerkende raamwerk te vestig vir die voorkoming, opsporing en vermindering van misdade wat boere landswyd raak, veral veediefstal, in ooreenstemming met die

Veediefstalwet van 1990. 

Die ooreenkoms beoog om samewerking tussen al die deelnemers te versterk. Die partye streef daarna om gemeenskapsgedrewe benaderings, die deel van hulpbronne en doeltreffende toepassing van maatreëls teen veediefstal te verbeter deur Namibië se landelike veiligheidstrategie te bevorder en te implementeer.

Wat die omvang van die ooreenkoms betref, het Nampol die landelike veiligheidstrategie ontwikkel

om die polisie te ondersteun in die uitvoering van hul funksies en die verbetering van dienslewering

aan boere en die breër gemeenskap. 

Dit is die doel van die Gesamentlike Misdaadvoorkomingsforum (JCPF). Die deelnemende boere-unies sal die implementering van die landelike veiligheidstrategie fasiliteer deur ’n nasionale struktuur vir landelike veiligheid te skep.

“Deur die ooreenkoms te onderteken, het die landbou-unies hul volle steun aan Nampol betoon, met die gedeelde doel om die veiligheid van landelike Namibiërs te versterk,” lui die weeklikse nuusbrief van die NLU.



Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer