Kwessie oor staatsplaas mik na hof

Tsou!Homs klou aan Christerine No. 259
Die ministerie van grondhervorming sal nie die onwettig besetting van staatsgrond duld nie, volgens sy woordvoerder.
Augetto Graig

Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het vandeesweek gereageer op die kwessie rondom die Tsou!Homs-boerekoöperatief, wat onlangs die staatsplaas Christerine No. 259 buite Dordabis in Khomas beset het.

Volgens David Gurubeb, die koöperatief se voorsitter, volg dié grondbesetting op jare van volgehoue ​​aansoeke om landbougrond waar sy lede ’n nuwe lewe kon begin.

Die woordvoerder van die ministerie, Romeo Muyunda, voer egter aan: “Die bewering dat die ministerie geweier het om op herhaaldelike kommunikasie van die Tsou!Homs-boerekoöperatief te reageer, is onwaar.”

“Die betrokke plaas is op 5 November 2025 deur die regering teen ’n koste van meer as N$11 miljoen verkry.

“Die plaas is bedoel om die hervestiging van [grondlose] plaaswerkers wat vir generasies al werk en grondlose boere wat langs die betrokke [pad]korridors woon, te vergemaklik,” brei hy uit.

“Die regering het die plaas nie aan enige spesifieke individu, groep of koöperatief beloof of toegeken nie. 

“Die plaas sal aan kwalifiserende begunstigdes toegeken word ná afloop van ’n gepaste evaluerings- en keuringsproses, in ooreenstemming met die toepaslike vereistes en prosedures vir grondhervestiging,” sê Muyunda.

Om sy standpunt te staaf, verwys hy na skriftelike kommunikasie wat op 21 Januarie vanjaar aan die Tsou!Homs-boerekoöperatief gerig is.

Daarin sê die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, dat sy simpatie met die 40 gesinne het.

“Die ministerie word egter oorlaai met soortgelyke versoeke en kan nie aan elke versoek voldoen nie weens die beperkte aantal plase wat vir hervestiging beskikbaar is,” het sy geskryf.

Zaamwani het die koöperatief aangeraai om geduldig te wees en voort te gaan om aansoek te doen om hervestiging wanneer plase in hul voorkeurgebiede geadverteer word.

Sy het hulle ook aangeraai om die toepaslike aansoekvorm te gebruik en hulle ingelig oor opleidingsgeleenthede wat deur die direktoraat landbouproduksie, voorligting en ingenieursdienste (Dapees) aangebied word.

Alhoewel die brief van Januarie na ’n klagskrif verwys het, wat reeds in Oktober 2025 ingedien is, voer Gurubeb aan dat dit nie die vrae en eise wat in dié klagskrif vervat is, aangespreek het nie. 

“Daardie brief verskaf nie antwoorde op dit wat ons versoek het nie,” sê hy. 

“In daardie klagskrif van ons het ons duidelik uiteengesit wat ons wil hê,” sê Gurubeb.

Hy voer verder aan dat die minister se reaksie slegs klem lê op vereistes waarvan die boere reeds bewus is, “en verwys ons na die opleiding by Dapees, waarmee ons vertroud is”.

“Ons het reeds van 2022 deur dié opleiding gegaan en ons probeer ons beste; so sy reageer glad nie in daardie brief op ons klagskrif nie.

“Hulle het nooit vir ons geantwoord nie, so ons soek die antwoord, sê ons,” het Gurubeb gesê.

Volgens hom is sakeplanne en opsommings van al die boerekoöperatief se verskeie bedrywigheide ook op versoek met die ministerie gedeel.

“Hierdie storie wat hulle jou nou vertel, is nie die ware storie nie,” hou hy vol.

Volgens Muyunda is die rede waarom die betrokke plaas so lank onbenut gebly het, dat hulle moes wag vir ’n lys van voormalige plaaswerkers en grondlose boere van die streekgoewerneur se kantoor.

Die lys word tans verwerk om begunstigdes vir hervestiging op die plaas te identifiseer, sê die ministerie se woordvoerder.

“Die feit dat die plaas nog nie bewoon is nie, behoort dus nie vertolk te word as ’n aanduiding dat die regering sy beoogde doel met die eiendom laat vaar het nie,” sê Muyunda.

“Die ministerie sal nie die onwettige besetting van staatsgrond duld nie,” sê hy.

Toepaslike wetlike en administratiewe prosesse sal gevolg word om die saak te hanteer – prosesse wat, volgens hom, tot die verkryging van ’n hofbevel vir die verwydering van die besetters kan lei.

Gurubeb is egter vasbeslote dat die boerekoöperatief die nodige stappe sal doen om sy posisie te verdedig. 

Hy sê die koöperatief sal sy eie regsverteenwoordigers nader om die volgende stappe te bepaal.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer