Namibiu00EB se hele voorspelde koringoes is kleiner as u2019n enkele besending ingevoerde koring wat by Walvisbaai aankom. FOTO NLU
Namibiu00EB se hele voorspelde koringoes is kleiner as u2019n enkele besending ingevoerde koring wat by Walvisbaai aankom. FOTO NLU

Koringbemarking knel

Reën ’n risiko vir oesgehalte
Plaaslike produksie word op 20 437 ton beraam, teenoor 22 624 ton wat in 2025 geoes is.
Francoise Steynberg

NO BYLINE

Namibië se koringprodusente staar uitdagings in die gesig met die bemarking van die 2026-oes, aangesien die opname van plaaslik geproduseerde koring deur binnelandse meulenaars stadiger vorder as wat verwag is.

Volgens die Namibiese Akkerbouraad (NAB) se vooruitskattingsverslag vir 2026-’27 oor koringproduksie, word plaaslike produksie op 20 437 ton beraam, teenoor 22 624 ton wat in 2025 geoes is. Dit is ’n daling van 9,7%.

“Plaaslike produksie sal na verwagting slegs sowat 12,5% van Namibië se jaarlikse koringbehoefte dek, wat die land sterk van invoer afhanklik maak,” sê die landbou-ekonoom van die Namibië Landbou-unie (NLU), Leigh-Ann Nehoya.

Die oes het middel Oktober begin en produsente bring hoofsaaklik hoëgehalte-koring met ’n hoë proteïeninhoud, geklassifiseer as B1 en supergraad, na die mark. 

“Die aankoop van hierdie grade deur plaaslike meulenaars was egter stadiger as waarop produsente gehoop het,” sê Nehoya.

“Die vertragings in die opneem van die oeste is veral kommerwekkend vir produsente wat nog koring op die land het.” 

Boonop hou onlangse reën ’n risiko vir die gehalte van die oes in, wat dit al hoe

belangriker maak om betyds te oes en by meulens af te lewer.

“Die beperkte tonnemaat van binnelandse produksie beklemtoon die situasie verder. Namibië se hele voorspelde koringoes is kleiner as ’n enkele besending ingevoerde koring wat by Walvisbaai aankom,” sê die landbou-ekonoom. 

“Dit gee perspektief aan die plaaslike bedryf se produksievolumes en beklemtoon hoe belangrik dit is dat plaaslik geproduseerde koring doeltreffend deur die binnelandse mark opgeneem word.” 

Nehoya sê benewens die onmiddellike bemarkingsuitdagings bly die ekonomie van koringproduksie onder druk. 

“Koring word hoofsaaklik onder besproeiing verbou, wat produsente blootstel aan stygende insetkostes, veral elektrisiteit, kunsmis en diesel.” 

Intussen het produsentepryse vir ’n lang tyd relatief onveranderd gebly.

“Terwyl dreigende reën koring wat nog op die land staan kan benadeel, hoop produsente om die oes so gou moontlik in te samel en af te lewer,” sê Nehoya. 

“Met insetkostes wat aanhou styg en koringpryse wat grotendeels onveranderd bly, plaas die stadige aankoop deur meulenaars egter verdere druk op produsente.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer