BKS.png
BKS.png

Kommer oor rondlopervee suid van kordonheining

Henriette Lamprecht

Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het by monde van sy woordvoerder, Romeo Muyunda, kommer oor rondlopervee in kommunale gebiede suid van die veeartsenykundige kordonheining (VCF) geopper. Hy het gister in ’n mediaverklaring gewaarsku die ongekontroleerde beweging van vee hou ’n bykomende risiko in vir pogings om die verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) te beperk en te voorkom. Volgens hom stel diere wat nie gemonitor word nie, siektemonitering, naspeurbaarheid en inperkingsmaatreëls in gevaar. Hy sê die ministerie, tesame met plaaslike owerhede en die Namibiese polisie, implementeer moniterings- en handhawingsmaatreëls.

Daar is ook planne om met tradisionele owerhede, boere en geraakte gemeenskappe in gesprek te tree om die risiko’s te bespreek en praktiese, volhoubare oplossings te ontwikkel wat beide die beheer van dieresiektes en die lewensbestaan ​​van gemeenskappe in ag neem.

Vee-eienaars word aangemoedig om met veeartsenyamptenare en wetstoepassingsowerhede saam te werk, aan bewegingsvereistes te voldoen en te verseker dat hul diere nie sonder toesig rondloop nie.



Kommentaar

Republikein 2026-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer